Verlede maand
My kerklike familie hou my nog innie kas
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS gay, maar ek is nog ’n closet case, soos wat die mense sal sê.

Antie, ek het ouers wat baie streng is en posisies in die kerk beklee.

Hoewel ek al 24 jaar oud is, speel my ouers nog ’n baie ferm rol in my lewe.

Ek bly byvoorbeeld nog saam met hulle onder een dak en gee ’n groot gedeelte van my salaris ook aan hulle.

Dit het my eintlik nog nie so baie gepla nie, want ek is lief vir hulle en dankbaar vir die dinge wat hulle oor die jare vir my gedoen het.

My ouers het baie opgeoffer sodat ek en my ander susters verder kon studeer en vandag gekwalifiseerde, professionele mense kan wees.

Oor die jare het ek gedink hulle sal seker maar agterkom dat ek gay is, want ek het nog nooit ’n meisie huis toe gebring nie.

Ek het op skool geen girlfriends gehad nie en praat nie eens met hulle oor meisies nie.

By familiegeleenthede sal daar sommige mense spot oor wanneer ek dan afhaak, maar as ek nou daaroor dink, is dit my ma wat dan sulke gesprekke kortknip en die onderwerp verander.

Wat my nou aan Antie laat skryf, is dat daar ’n kollega by die werk is op wie ek ’n crush het.

Hy is openlik gay en maak geen geheim daarvan nie.

Ons chat die laaste paar maande op WhatsApp en hy het laat val dat hy my likes. Maar hy sê ook hy laat homself nie weer in ’n closet sit nie en dat enige verhouding wat hy in gaan, in die openbaar bekend sal wees.

En dit laat my met die tameletjie, want dan gaan my ouers en familie mos uitvind van my sexuality.

Ek weet nie hoe om die saak met hulle aan te roer nie. Ek het probeer lees oor ander mense wat uitgekom het, maar ek moet erken dat ek nie so dapper is nie.

My familie kan baie hardkoppig wees en ek weet net as ek die situasie verkeerd benader, gaan hulle my afskryf en nooit weer met my praat nie.

So, hoe maak ek, Antie? Ek wil nie wag tot my ouers eers die dag dood is voordat ek my werklike lewe begin lewe nie.

Hierdie ding knaag aan my en laat my soos ’n fraud voel. Ek weet ook dié outjie gaan nie vir altyd geduldig wag op my nie. Iemand anders gaan op sy pad kom en dan is my kans met hom verby.

Ek sal Antie se hulp baie waardeer. – Anoniem, WhatsApp

Liefie, jy moet nou baie mooi vir Antie luister: ’n Ouer wéét.

Van die dag van jou geboorte af en soos wat jy as mens groei, is jou ouers daar met elke tree wat jy gee. En soos wat jy oor die jare nooit ’n meisie huis toe gebring het nie, het dit jou ma se vermoedens oor jou seksualiteit bevestig.

Hoekom dink jy change sy so die subject as mense probeer uitvis wanneer jy dan eendag trou?

Dis oor sy bang is dat jy dalk op daardie oomblik met die sak patats uit gaan kom en sy wil nie daarmee gekonfronteer word nie.

Die lewe is vol ingewikkelde masjinerie – maak nou nie saak wat jou (seksuele) voorkeure is nie.

En so preuts en eng konserwatief soos wat jou ouers en veral jou ma mag wees, moet jy weet dat jy op hierdie aarde die reg het om jouself te wees.

Dit maak nie saak met watter geloofsversies mense jou wil stenig nie, jy is wie jy is. En omdat jy is wie jy is, het jy die reg om dinge in die lewe te doen wat jou gelukkig gaan maak.

Almal het ’n opinie. En mense is mos alte vinnig om gou ’n Bybelversie of twee vir jou te google oor hoekom die lewe waarna jy so smag kwansuis nie moreel aanvaarbaar is nie.

Maar jy moet onthou dat die einste mense wat hul mening so wil uitbasuin, ook maar die grootste van sondaars is.

Kom laat ons ’n ding sê soos wat dit is: Baie van hulle wil hulle voordoen as groot godsmanne, spierwit gewas deur die bloed van Jesus, maar dan spyker hulle asof dit uit die mode uit gaan onder die kerksusters.

So, wie gee enige een van sulkes die reg om jou te judge? Jou lewe is nie ’n Idols-kompetisie waarin judges jou uitmekaarskeur nie.

Maak geen fout nie, dit verg verskriklike moed om na vore te kom en te sê dié is wie jy is. Maar soos wat jy nou uit die ervarings van ander gelees het, is dit nie onmoontlik nie. En weet jy, dit kan jou die bevryding bring waarna jy so hunker.

’n Eerste stap wat jy kan doen, is dalk om op jou eie voete te begin staan.

Trek uit jou ouerhuis. Kry vir jou ’n plekkie van jou eie, raak die baas van jou eie plaas en maak jou eie besluite daar.

Elke voël (letterlik in dié geval) verlaat een of ander tyd die nes, sprei sy vlerke en gaan sy eie koers in. Wanneer jy onafhanklik begin lewe, sal dit jou dalk help moed skep om jou ouers oor jou en jou verlange in te lig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters