21 dae gelede
My ‘goeie man’ skel en slat my pimpel en pers
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

HOE maak ek met ’n man wat almal wil laat glo hy is ’n baie goeie man, maar dan slaan hy my pimpel en pers?

Ons het twee kinders saam en hulle haat hom al.

Hy gebruik my net, want ek het die geld, nie hy nie.

Op WhatsApp en Facebook jol hy en pretend om ’n engel te wees.

Antie wil nie weet met watse name ek uitgeskel word nie!

Ek trek hom aan en hou sy bek oop en betaal die bond, but hy speel baas.

Sy mense wil hom ook nie hê nie.

Hy belowe aanmekaar om reg te kom, maar hy change net nie.

Is dit dalk omdat ek gewig aangesit het nadat ek kinders gehad het?

Is dit dalk soos hy sê dat ek lelik is?

Tog, as ’n ander man my net aankyk, dan raak hy kwaad.

Ek word uitgeskel dat ek ’n vuilgat en ’n gemors is. Baie leliker woorde ook.

Ek is net ’n benefit vir hom. Seks is ook boring, want hy doen net niks, maar dink hy is die ou.

Ek wil al weghardloop, Antie. Hartseer Vrou, WhatsApp

Vrou, jy moet nou baie mooi na Antie luister.

Daar skort niks met jou nie. Nie met jou gewig nie en glad nie met jou looks nie.

As jy nie ’n pragtige mens was nie, sou ander mans nie so na jou gestaar het nie.

So, jy is baie beslis nie die fout nie. Jou groot probleem is hierdie ding wat jou nie kan waardeer nie.

Hierdie ding wat jou fisiek en emosioneel afbreek om jou te laat glo dat jy niks is sonder hom nie en dat niemand behalwe hy kans sien vir jou nie.

Dis ’n oeroue truuk van abusers wat vreemd genoeg steeds werk.

Maar maak dit jou werk om seker te maak hierdie man slaag nie in sy evil doel nie.

Die realiteit en absolute waarheid is dat hy eintlik niks sonder jou is nie.

Imagine net waar hy in die lewe sou gewees het as dit nie vir jou was nie.

Jy sê dan self dat sy eie mense nie ooghare vir hom het nie.

Jy is mooi, jy is gorgeous, jy het ’n beautiful hart en jy en jou kinders verdien beter.

Van jou kinders gepraat: Hierdie hele situasie het ’n negatiewe effek op hulle.

Hulle sien hoe sleg hul pa jou treat en dit wek kwade gevoelens by hulle.

Een of ander tyd gaan jy hoor hoe hulle jou beskuldigend gaan vra hoekom jy nie die man los nie.

En vrou, dit is ’n baie goeie vraag, want as jy mooi daaroor dink, het jy nie dié man in jou lewe nodig nie.

Hy bied jou niks anders as houe en beledigings nie. Hy try jou afbreek en dan wil hy nog Casanova van die Vlaktes ook speel deur rond te jol.

Jy kan dalk, ten spyte van alles wat hy jou deursit en toesnou, steeds lief wees vir hom, maar hy is beslis nie lief vir jou nie.

Die liefde sê nie sleg nie. Die liefde breek nie af nie. Die liefde is getrou en slaap nie rond nie. Die liefde vreet ander nie uit nie.

En so kan Antie aan en aan en aan gaan. Mense kan jou ook maar hóé bemoedig en moed inpraat, maar aan die einde van die dag is jy ál een wat plak kan vasmaak.

Jy is ’n sterk vrou en beskik oor die vermoë om ’n sterk boodskap na hierdie man uit te stuur; ’n boodskap wat sê jy gaan nie langer met jou laat mors nie.

Sy trane en sorries beteken niks. Dit weet jy nou al.

Jy moet nou once and for all besef jy en jou kinders verdien happiness.

Kom so gou as moontlik weg van hierdie man af! 

Die Antie Mona-show

WIKKEL, wikkel, wik­kel!

 Dis mos hoe daai song gaan, nè?

Wel, Antie kan lankal nie meer op sulke beats dans nie, maar ek wil vir julle vra om te wikkel met daai inskrywings van julle.

As julle, nes Antie, graag daai TV-show van my in samewerking met VIA se mense op TV wil sien, sal daai lywe gewikkel moet word.

Stuur asseblief vir my ’n Whats­App-boodskap of voice note na 082 858 0044 en vertel kortliks waaroor jou issue gaan.

Een van die show se producers sal dan met jou in kontak kom.

Deelnemers moet bereid wees om ’n dag aan verfilming af te staan en daar gaan lekker goodies vir die deelnemers op die spel wees.

Moet tog nie vir Antie in die eyes sit nie, toe. Skryf sommer vandag nog in!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters