2 maande gelede
Man wil nie hê ek moet kids maniere leer nie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK WEET nie waar om te begin nie.

Antie, ek is ’n ma van twee kinders, ’n 13-jarige dogter en vyfjarige seuntjie.

My man het ook twee kinders uit die tyd voor ons huwelik en ek het hulle aanvaar.

Ek is 16 jaar jonger as my man. Hy is en was nog altyd my eerste en ware liefde, maar ek is raadop.

Ek is so beledig toe ek swanger was met my dogter, want hy het gesê dis nie sy kind nie.

Wel, toe sy gebore is, toe is sy uitgeknip haar pa se gesig.

Jare later dieselfde met die seun – uitgeknip sy pa se kind.

Nou sit ek met ’n probleem. My dogter is so ongehoorsaam. As ek haar sê om iets te doen, dan wip sy haar stert vir my. En as ek begin skel op haar, druk hy sy mond in en sê ek moet nie so met haar raas nie. Maar ek probeer haar net maniere leer en respek.

Hy verkleineer my so voor sy familie en hy doen dieselfde voor haar. Dan bly hy vir my sê sy is sy kind.

Antie, ek is hard grootgemaak. Hoekom kan ek haar nie so grootmaak nie? As ek kyk hoe sy oudste seun nie eens vir hom respek het nie, hoe gaan sy uitdraai as ek haar nie mag tug nie?

Dit veroorsaak aanmekaar ’n stryery tussen ons. Dan is ons lank kwaad vir mekaar en sy gaan aan asof niks gebeur het nie.

Hy defend haar elke keer as ek haar wil leer van respek of maniere.

Sy mag ook nie chores in die huis doen nie, dan doen hy dit. Sy mag niks doen nie.

Wat nou gemaak, Antie? Ek is regtigwaar raadop en moedeloos. – V van B, WhatsApp

Wanneer dit by die opvoeding van kinders kom, is dit belangrik dat beide ouers uit een mond praat en een stel reëls het wat vir die huishouding geld.

Vandag se kinders is cheeky. Hulle weet presies hoe om hul ouers teen mekaar af te speel.

Die ouers is dan lank kwaad vir mekaar, terwyl die kind al lankal vergeet het wat die issue was wat die ouers nou so bollewange vir mekaar het.

Daar is nie ’n universal reëlboek waaruit ons parenting tips kan vang nie. Baiekeer is die manier hoe ons ons kinders behandel, ’n kombinasie van ons eie grootword-ervaring en wat ons op die pad na volwassenheid geleer het.

Dalk is dit tyd om jou way van dinge doen ’n bietjie aan te pas. Oor jy “hard” grootgemaak is, soos wat jy sê, be­teken dit nie dat jou kind ook so grootgemaak moet word nie.

Jirre, as jy dink aan hoe ons as kinders geslaan is deur ons ouers en ander grootmense, was daar in ’n groot mate ’n element van abuse daarby betrokke. Maar Antie wil amper sê abuse met die beste van intentions.

Dinge het egter verander. Die lewe is nie meer dieselfde nie. Elke generasie het sy eie uitdagings en ways hoe hulle na die lewe kyk.

Wat vir Antie belangrik is, is om hul siening van die lewe met jou eie te kombineer. Om nie net iets “af te dwing” en te “sê” nie, maar hul input en samewerking te kry.

Jou dogter is in daai moeilike tiener-stadium van rebelsheid en eiewysgeit.

Daar is baie wat sal sê jy moet daai boompie buig terwyl dit jonk is en dat jou kind jou reëls moet volg terwyl hy/sy nog onder jou dak is. Maar wat het hierdie metode jou al in die sak gebring, behalwe dat dit net meer en meer stres in jou huishouding en huwelik teweeg bring?

Dis nog nie te laat vir ’n openhartige “family meeting” waarin daar deur ’n dicussion op die reëls van die huis besluit kan word nie.

’n Meeting waarin julle saam besluit dat die fondasie van hierdie stel reëls wedersydse respek vir mekaar gaan wees.

Almal sal na die paartie moet kom – jy, jou man en jul kinders. Elkeen van julle sal bereid moet wees om ’n effort te maak om dinge te verander, want wie is dan nou lus vir ’n geskel van die oggend tot die aand?

Jy sal die eerste stap moet neem. As ma sal jy die leiding moet neem en aan jou dogter moet wys dat jy nie net daar is om orders uit te deel nie, maar ook daar is om na háár te luister.

Hopelik kan julle ’n middle ground vind waar almal van julle sal voel jul stemme word nie net gehoor nie, maar ook gerespekteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters