2 maande gelede
Man se birthday prezzie aan my is ’n nare STI
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS ’n 46-jarige geskeide vrou, oorspronklik van die Noord-Kaap.In my tyd in die Kaap het ek ’n man van B ontmoet. Hy is ’n undertaker.

Ons was drie jaar in ’n lieflike verhouding totdat ek tot my skok moes agterkom ek is nie die enigste vrou in sy lewe nie.

Hy was in verhoudings met ander vroue ook. Ek was verpletterd, het my werk opgegee en teruggetrek Noord-Kaap toe.

Twee maande later steek hy daar uit en kuier vir ’n week by my. Ek kom kry hom toe besig om te chat met ’n vrou. Toe ek hom konfronteer, vind ek uit dis sy wettige vrou, maar hy sê hulle is net in naam getroud.

’n Paar maande daarna gaan ek terug Kaap toe vir ’n troue. Hy was ook een van die gaste.

Ek het weer ’n werk in die Kaap gekry en hy het my mooi laat verstaan dat hy my nie gaan uitlos nie, want niemand kan vir my sorg soos wat hy kan nie. Dis hoe ek my weer in ’n verhouding met hom bevind het.

Alles was weer hunky-dory en sy begrafnisonderneming het goed gedoen. Ek het agter in mense se jaart gebly en dit was ons liefdesnessie waar hy kon kom en gaan soos hy wou.

Dis ook waar hy my begin aansteek het met STI’s. Hierdie STI’s het meer en meer voorgekom en hy moes medikasie gaan kry by ’n apteek.

Antie, hy het daai selfde jaar selfs op my verjaardag vir my ’n STI gegee. Gelukkig het ek die simptome vroeg agtergekom en betyds kliniek toe gegaan.

Ek het besluit om die verhouding te beëindig.

Ek wou koerante toe gaan met my storie, maar toe laat hy mos dat een van sy vele hoertjies my bel en dreig.

Hy is intussen ook geskei van sy vrou. – Anoniem, WhatsApp

Vrou, jy is deur diep waters met hierdie getroude man. Waters waarin jy genadiglik nie meer is nie.

Dit kon soveel anders gewees het. Jy kon met soveel meer as net ’n seksueel oordraagbare siekte gesit het.

Moet jouself nooit weer in hierdie of ’n soortgelyke situasie bevind nie, want dan tender jy vir ’n ongeneeslike vleeslike siekte.

Nog ’n les wat jy hieruit moet leer (en, so hoop Antie, ander vroue wat in soortgelyke bootjies na nêrens heen vaar), is dat jy nie ’n man nodig het om vir jou te sorg nie.

Sommige van hulle kom mos met daai kaart dat hulle jou provider gaan wees, maar dan provide hulle net seer en teleurstellings in jou lewe. Niks “liefliks” kan kom uit ’n verhouding met ’n getroude man wat nog ’n ander string skelmpies ook het nie.

’n Man wat vir jou sê hy en sy vrou is net in naam getroud, lieg vir jou. Natuurlik is hulle “in naam” getroud, want hul name staan dan op die trousertifikaat!

Antie kan nie glo dat ons vroue nog vir hierdie snert-verskonings val nie. Die ander gewilde een is ook mos dat hulle van bed en tafel geskei is.

Hierdie is ’n uiters moeilike les en jy is deeglik beproef. Maar dit is ’n les wat hopelik gaan verseker dat jy – en hopelik ander vroue – nie weer in so ’n joller se strik val nie.

Liewe Antie Mona

EK IS ’n dame van die platteland en rook en drink glad nie.Ek is vyf jaar getroud met ’n man van die Boland. Op Kersdag 2019 het my man soos handomkeer verander.

Daardie dag moes ek hoor ek is ’n jaloerse vrou wat nie wil hê hy moet vriende hê nie. Ek is grootgemaak met die gedagte dat ’n getroude man nie met los meisies in die huis kan kuier as sy vrou nie daar is nie.

Antie, ek het hom al in die badkamer gevang waar hy besig was om ’n meisie uit te trek.

Ek het intussen terug stad toe getrek weens werk en hy het vyf maande gelede na my toe getrek.

Ek het nou al soveel stories van hom gehoor, maar as ek hom konfronteer, stry hy.

Ek het twee weke gelede afgekom op ’n foto van hy en ’n meisie na wie se kind hy gekyk het.

Hy maak my ook swak by ander vroue. Is so ’n huwelik die moeite werd? – Ongelukkig, WhatsApp

Liefie, watter huwelik het jy as jy jou man kom vang ’n ander vrou uittrek? As jy ’n man het wat jou by ander mense beswadder?

Jy kan mos dan nie anders as om ongelukkig in ’n huwelik te wees waar die een ná die ander storie oor jou man so gereeld opduik nie. Natuurlik sal hy alles ontken. Watter joller val immers ooit in sy skuld? Tensy jy hom/haar op heterdaad betrap.

Laat ek straight wees met jou: Ek kan regtig nie sien wat maak jy met só ’n man in jou lewe nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters