Verlede maand
Man maak steeds rug leeg by sy eks
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MY MAN het twee kinders uit ’n vorige verhouding.

Ek was bewus daarvan toe ons ontmoet het en het nie ’n probleem daarmee gehad nie.

Anders as ander meisies wat troubles het met die baby momma, het ek en hierdie vrou nie issues met mekaar nie.

Totdat ek agtergekom het sy het nie issues nie, want my man maak steeds haar tenk vol.

Antie, ons is volgende jaar ses jaar getroud.

Ons was seker so twee jaar getroud toe ek begin agterkom dinge is nie lekker tussen hulle twee nie.

Sy kinders kom kuier by ons en is ons huis in en uit. Daaroor mind ek nie, want ek het geweet waarvoor ek my inlaat.

Maar my hubby gaan kuier dan vir sy kinders se ma as sy kinders hier by ons kuier.

Aan die begin het ek niks gesê nie. Toe dink ek: Wag, jy het mos nie met my getrou om jou kinders se nanny te wees nie.

My suster het eendag by my gekuier, toe vra ek haar om gou na die kinders te kyk.

Ek ry toe na niggie se huis en kom daar aan net toe my man uit die huis kom.

Hulle het my nie gesien nie en nog ’n lang afskeidsoen gevat. Dis toe dat ek hoot en hulle groot skrik toe hulle my gewaar.

Daardie dag was ek só kwaad, dit het gevoel ek kan daai vrou net daar doodry.

Sy het net die huis ingehardloop en die deur agter haar gesluit.

My man wou nog mooi verdui­delik en wraggies die skuld op my pak.

Hy het gesê omdat ek hom nie ’n kind kan gee nie, kuier hy maar so af en toe by sy kinders se ma.

Watse stront is dit? Ja, ek sukkel om swanger te raak en het al twee miskrame gehad, maar dit gee hom mos nie rede om my so te verneuk nie.

Ek wou skei, maar hy het só gebeg en plead en die pastore het só kom mooipraat dat ek besluit het om ons huwelik nog ’n kans te gee.

Dis nou amper vier jaar later en hy is steeds besig met sy dinge.

Hulle dink ek is dom en weet nie wat aangaan nie, maar daai vrou is steeds single en kry nie vir haar ’n man nie.

Ek het nou genoeg gehad en wil skei. G’n kerkbroer gaan my hierdie keer ompraat nie.

Wat ek by Antie wil weet, is of ek hierdie vrou kan sue?

Ek wil my man ook só kaal uittrek dat hy ná ons egskeiding nie eens ’n halwe huis kan afford nie. – Gatvol Vrou, Whatsapp

In 2015 het die konstitusionele hof beslis dat victims van affairs binne die huwelik nie meer derde partye vir skadevergoeding kan dagvaar op grond van owerspel nie.

Dit was vyf jaar gelede se beslissing en Antie weet nie of dinge intussen weer verander het nie.

Wanneer jy jou lawyer gaan sien, kan hy/sy jou beter hieroor inlig.

Dat jy seergemaak en ontnugter voel, kan niemand stry nie. Veral nie omdat jy die eerste keer toe jy uitgevind het van jou man se dinge, besluit het om die minste te wees en jul huwelik nog ’n kans te gee nie.

As jy egter wil skei, doen dit omdat jy glo jy beter verdien en nie uit wraak nie.

Wraak kan die lewe só onnodig bitter maak en jou toekomstige happiness in die wiele ry.

Laat hierdie ’n geval wees van seker maak dat jy kry wat jou wettiglik toekom en gaan dan aan met jou lewe.

Jou kop kan jy hoog hou, want jy was nie die sleg een in die verhaal nie. En liefde sal jy weer vind. Jou pot se deksel sal iemand wees wat jou liefhet en waardeer vir die wonderlike mens wat jy is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters