Verlede maand
Man is nou skielik my sus se skoothondjie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK VOEL my lewe is oor en verby en ek is niks werd nie.

Ná 39 jaar van getroude lewe vang ek toe mos my vrou met ’n williewerker in die bed.

Ek het ses besighede begin om vir ons ’n gerieflike lewe te skep.

Elke jaar het sy ’n nuwe motor gekry en oorsee gereis.

Ons het twee seuns saam en ek wou nog altyd net ’n suksesvolle pa vir my gesin wees.

My kinders is hoogs geleerd en besit elkeen hul eie huis.

Ek het gedog ons oudag gaan fantasties wees, maar nou lê alles aan skerwe.

Antie, ek weet nie of ek my vrou vir alles moet vergewe en weer moet probeer nie.

Dit voel so seer op die oomblik. Gebroke Man, SMS

Ai, dit is beslis nie ’n lekker ding om deur te maak nie.

Antie kan net dink watse skok en teleurstelling jy moes deurmaak toe jy hulle op heterdaad betrap het.

Om te dink ná alles wat jy vir haar oor die jare gedoen en jouself voor afgesloof het, is dít nou die stank vir dank wat jy kry.

Antie wil jou moed inpraat deur vir jou te sê dat dit beslis nie die einde van jou lewe is nie.

En jy is ver van nikswerd af. Jy voel dalk nou down en out, maar weet jy wat? Seer en teleurstelling kan nie vir altyd ’n koppie suiker by jou kom loaf nie.

Gee jouself tyd. Tyd om tot verhaal en oor die skok te kom.

Moenie enige druk op jouself sit om haar te vergewe of selfs nou al te besluit wat jou te doen staan nie.

Wanneer jy oor die skok oor alles is, dán kan jy ’n besluit neem.

Dit moet een wees waarmee jy orrait sal wees en nie ter wille van enige iemand anders nie.

Alle sterkte! Antie dink aan jou in hierdie moeilike tyd.

Liewe Antie Mona

MY SUSTER vang goed aan waarvan ons ouers nie weet nie.

So is daar byvoorbeeld die getroude ou wat sy sien.

Sy lieg en sê dan sy gaan na haar tjommies toe, maar ek weet sy gaan na hom toe.

Ek voel sleg om so vir my ouers te lieg. Dis nie lekker om te maak asof ek nie weet wat aangaan nie.

Ek is 20 en my suster is 23. Moet ek haar vra om haar dinge te stop? – Bekommerd, SMS

Liefie, jy hoef glad nie jou sister’s keeper te wees as dit by hierdie geheim kom nie.

Jou suster is oud genoeg om te besef sy is met ’n getroude man deurmekaar.

En natuurlik weet sy ook dat daar niks goeds hieruit sal kom nie en dat haar ouers beslis daarteen gekant sal wees.

So, hoe lank moet jy dan nou dié game saam met haar speel?

Dis tyd dat jy ’n bietjie met Ousus gesels en vir haar sê jy voel nie meer gemaklik om so vir jou ouers te lieg nie. As sy wil voortgaan met haar dinge, doen sy dit op eie risiko – en sonder jou hulp om vir haar te cover.

Sy gaan natuurlik nie impressed wees met jou nie, maar as sy hierdie dinge wil aanvang, sal sy self daarvoor vrou moet staan.

Jy kan nie ’n aandeel wil hê in hierdie egbreek-soapie waarin sy haar bevind nie.

Liewe Antie Mona

MY MAN is te veel na my sin in my suster se geselskap.

Antie, ek is nie die jaloerse tipe nie, maar my man beur net alewig dat ons by my suster moet gaan kuier.

Ja, my suster is mooi, maar sy is al twee keer geskei.

Daar is eenvoudig nie ’n man wat met haar kan huishou nie, want sy is te demanding.

Maar nou lyk dit dan vir my dat my man, wat in sy laat 40’s is, soos ’n skoothondjie agter haar wil aanhardloop.

Sy kan net sy kant toe kyk, dan giggel hy soos ’n tiener.

Hy mol ook om winkels toe te hardloop vir haar en dinge by haar huis te gaan regmaak. Ek het hom reguit hieroor uitgevra, want hy maak dan niks by óns huis reg nie.

Hy het toe kwaad geraak en gesê ek moenie vir my mal staan en hou nie.

Is dit verkeerd van my om so te voel? – Mrs. G, per e-pos

Dit kan wees dat jou man so stilweg ’n crush op jou suster het – een wat hy by tye nie kan wegsteek nie.

Maar dat hy soos ’n verliefde tiener wil act, is ’n ander saak.

Jy doen eers jou eie huiswerk voordat jy naasteliefde wil beoefen.

Jou suster het natuurlik hierdie lawwigheid van hom agtergekom en daarom stuur sy hom so rond van die een takie ná die ander.

Laat hom nou maar kwaad raak as hy wil, maar jy gaan aan om hierdie topic aan te roer – totdat jy weet waar jy met hom staan.

In ’n huwelik is daar nie iets soos ’n onskuldige crush nie. Laat hom verstaan wat op die spel is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters