Verlede maand
Man behandel vrou en hul 2 kids soos niks
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS reeds nege jaar met A getroud.

Ons is al 13 jaar saam. My man lieg en bedrieg my nou al vir ek weet nie hoe lank al nie.

Hy ontken altyd als. Hy werk uit en as hy tuis is, het hy nie regtig tyd vir sy gesin nie. Ons baba is nou 11 maande en die oudste is 9 jaar oud.

Hy sê baie lelike goed aan my as hy dronk is, soos ek is ’n lelike vrou en hy hou nie van my nie.

Antie, hy het nou reeds drie keer my en my kids se klere uitgebrand en ons goed in die pad gegooi.

Hy vra my nooit om verskoning nie en dinge moet net vanself regkom.

Hy kuier by mense waar hy nie wil hê ek moet saamkuier nie.

As hy by die huis is, staan hy middernag uit die bed uit op en kom eers weer 02:00 slaap. Dan moet ek net maak asof alles fine is.

Hy kom ook nie oor die weg met my familie nie, maar met sy oorlede vrou se familie is hy the man.

Dit maak my baie seer, want hy voel ons is laeklasmense. C van B, WhatsApp

Vir iemand wat hom so high-class wil hou, is hy ook maar cheap en low-class.

Watter man brand sy gesin se klere uit? Hy is die lelike een in die verhaal met daai maniere van hom.

En waarheen verdwyn hy so in die nag? Iets is nie pluis nie.

Waar ’n rokie is, is daar altyd ’n roker en iets sê vir Antie daar skuil veel meer agter jou man se vieslike gedrag – soos dat daar dalk iemand anders in die prentjie is.

Check hom bietjie uit en dalk het die tyd aangebreek dat jy oor dinge moet besin.

Wie is dan nou lus vir ’n huwelik waar alles in vlamme opgaan?

Liewe Antie Mona

MY OUTJIE sê elke keer hy gaan verander, maar dit gebeur nooit nie.

Ons baby is nou ses maande oud, maar hy is omtrent nooit by die huis nie.

As hy uit die werk kom, gaan hy na sy vriende. Dan kom hy eers later die aand terug, lekker dronk.

Dan wil hy heelaand seks en wil niks verstaan wanneer die baba huil en aandag soek nie.

Die volgende oggend is hy soos iemand wat niks kan onthou van die vorige aand nie.

Ek het al hoeveel keer met hom gepraat en dan sê hy sorry.

Maar dis nie lank nie, dan vang hy maar net dieselfde goed aan.

Ek het al foto’s van ander meisies op sy phone gekry, dan sê hy hy weet nie hoe die pics op sy phone gekom het nie.

Ek weet nie meer wat om te glo nie. Antie, ek is baie lief vir hom en glo hy kan verander.

Maar my ouers het nie veel ooghare vir hom nie en het my al gevra of ek nie liewer huis toe wil kom nie.

Maar wat van my kind? Sy het tog haar pa in haar lewe nodig. – Sielsongelukkig, WhatsApp

Dit ís so dat ’n kind ’n ouer in sy/haar lewe benodig. Maar in jou geval is die pa dan reeds nie deel van die kind se lewe nie.

Soos wat dit vir Antie klink, maak hy net gasverskynings in jul lewe, want julle sien hom die oggend wanneer hy werk toe gaan en eers laataand weer as hy lekker tanne nat is.

En in daai toestand is hy so selfsugtig met sy vleeslike behoeftes dat hy selfs jul kleine kindjie haar moeder­like sorg wil ontneem.

Liefie, dis ’n blessing om nog ouers in jou lewe te hê wat daar wil wees vir jou onder sulke omstandighede.

Jou ouers is besorg oor jou en kan sien dat jy in ’n situasie is wat jy nie verdien nie.

Dit sal beslis nie ’n slegte idee wees om hierdie aanbod van hulle te aanvaar en terug na jou ouerhuis te trek nie. Dan kyk jy of jou lewe beter of slegter is.

Wie weet, dalk is dit ook net die regte eye-opener wat hierdie outjie nodig het.

Dis baie duidelik dat hy die verantwoordelikheid wat met ouerskap gepaardgaan nie besef of ernstig opneem nie. Jy kan nie net in hierdie lewe wil lekkerkry en dan niks met jou kind se opvoeding te doen wil hê nie.

’n Breek weg van hom is net wat die dokter ge-order het.

Maak gebruik van daai aanbod!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters