16 dae gelede
Ma soek geld by ryk eks wat hulle net hok gee
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS ’n 34-jarige enkelouer.

Die afgelope agt jaar al maak ek my twee seuntjies alleen groot.

Die oudste een was vier jaar oud en die babatjie was ses maande oud toe ek hul pa gelos het.

Van daai tyd af het hul pa nog nooit vir hulle gesorg nie, Antie.

Hy was in ’n ongeluk en het R3,4 miljoen uitgekry, het hy my laat verstaan.

Voor my en die kinders was hy spoggerig met sy geld, maar hy het ons nie eens met ’n 10c gehelp nie.

Al wat hy gedoen het, was om vir my ’n hok te laat bou in my antie se jaart.

Hy het toe sommer ook ’n ding aangehad met my broer se vrou se voorkind.

Ek het op die landerye gaan werk om my kinders te onderhou.

Ek werk nou nog daar.

Ek het in Augustus vir my antie in die Kaap kom kuier en besluit toe sommer ek wil kyk of ek kan uitvind waar hy bly.

Antie, ek was geskok om te sien onder watter omstandighede hy nou bly. Sy omstandighede is horrible en dit was hartseer om te sien hoe hy deesdae lewe.

Maar ek voel dit is tyd dat hy moet opdok vir support, want dit is nou al agt jaar dat hy nie vir ons twee kinders sorg nie.

Is dit die beste besluit wat ek wil neem nadat ek hom agt jaar nie in die hande kon kry nie?

Ek het voorheen al probeer om hom deur middel van die koerante op te spoor, maar ek kon hom nêrens kry nie.

Is dit die regte tyd om hom hof toe te sleep vir AllPay? Hy het vir my ’n kaart bewys wat sê hy kry AllPay.

Die vrou met wie hy die afgelope twee jaar getroud is, trek Sassa vir hul drie minderjarige kinders.

Hy is nou 59 jaar oud en tree een van die dae af. Laas jaar het hy vir my ’n boodskap gestuur dat hy pakket gaan vat, maar wanneer ek hom oor die geld uitvra, is hy baie ontwykend.

Hy bly agter in ander mense se jaart. Ek voel so hartseer oor die omstandighede waaronder hy hom nou bevind.

Sal dit die regte besluit wees om hom vir non-support aan te gee? – EB van R, WhatsApp

Vrou, daar is een ding wat jy baie, báie mooi moet verstaan: Toe hy in sy miljoene geswem het, toe was daar g’n van sorry voel vir jou en die kinders nie.

Toe was hy mos ryk Mister Kaalgat wat vir Cedric the Entertainer ’n kaart wou skiet. Daai tyd het hy almal entertain – behalwe vir jou en die kinders.

Deur toe vir julle net ’n hok te laat opsit, het hy gewys hoe min hy van julle dink.

Ná agt jaar het jy hom opgespoor. Dis ’n kans hierdie wat jy nie deur jou vingers moet laat glip nie.

Jy sal moet spring voordat sy pensioengeld uitbetaal en dít ook verkwis word. Daardie geld kom jou kinders toe. Hy het ’n finansiële plig teenoor jul kids – een wat hy al amper ’n dekade lank versuim.

Wikkel voordat hy weer die pad vat. Besoek jou hof se mainte­nance-afdeling en sit die papgeldwiel aan die rol.

Dis nie nou die tyd om vir hom sorry te voel nie. Sorry se gat; hy moet sy duties nakom.

Die Antie Mona-show

DIE een vraag wat jy jouself elke oggend moet afvra, is of jy al jou aansoek ingedien het om aan Antie se show deel te neem.

Ja, Antie praat met jóú, jy wat elke keer sê jy gaan inskryf, maar jy kom net nie sover nie.

In samewerking met die alte lekker mense van die kanaal VIA, wil Antie graag die TV-wêreld met my show rock.

Daar is immers g’n rule in hierdie universe wat sê dat ek en my ou plooigesig nie ook op TV kan wees nie.

Maar Antie need jou hulp, lojale leser. Antie need julle om in te skryf en om wat ook al julle pla op kamera met my te kom share.

Pure verniet sal dit darem ook nie wees nie, want lekker goodies gaan op die spel wees.

Jy moet net gewillig wees om ’n dag aan verfilming af te staan.

Stuur ’n WhatsApp-boodskap of voice note na 082 858 0044 en vertel Antie kortliks waaroor jou issue gaan.

Een van die show se producers sal dan met jou kontak maak.

Moenie so wees nie, toe, annerkind. Skryf sommer nóú in!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters