Verlede maand
Luisgat-man en seuns maak my lewe ’n hel
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK SIT met ’n groot probleem in my huis – ’n man wat nie wil werk nie en kinders wat my ál die dae van my lewe gee.

Antie, of dit nou harde of sagte lockdown is, my man drink elke dag. Waar hy die geld kry, weet net hy, want hy het sy werk gelos.

Vir maande gee hy voor daar’s probleme met sy pensioenuitbetaling en hy sê dat hy op skuld drink.

Hy het geld vir drank, maar koop nie eens ’n brood of krag nie.

Ek moet nou elke aand langs ’n lastige dronk man slaap wat kerm oor goed wat al jare gelede gebeur het.

Wanneer ek soggens gaan werk, tiep hy nog. As ek saans by die huis kom, is hy weer dronk.

Ons is volgende maand 30 jaar getroud en die Vader weet, ek kan nie meer nie.

Ons twee seuns is nét so erg. Hulle is 20 en 25 jaar oud. Hulle het ook nog nie ’n dag in hul lewe gewerk nie.

Hulle rook heeldag dagga en daai okkapyp-goeters en hulle was hulle skaars. Daar’s dae dat ek wonder waar dinge verkeerd geloop het, want ek het hulle nie so grootgemaak nie.

Dis nie eens meer ’n plesier vir my om ná werk huis toe te kom nie. Dit voel of ek deesdae in ’n tronk bly met ’n dronk man en daggarokerseuns.

Dan kan ek nie anders as om te wonder wat ek in die lewe gesondig het om so verrinneweer te word nie. Hartseer Vrou, Whats­App

Antie glo nie jou man praat die waarheid met jou nie. Watter smokkie of drankplek gaan hom al maande lank op die boek entertain?

Nee, Antie vermoed hy het hoeka al daai pensioengeld van hom ontvang en dat dit dít is wat hy sy gat so lekker mee dronk drink.

Vrou, jy sal sy banksake ’n bietjie moet bekyk. As hy nog so lekker tiep, sal jy sy bankkaart moet vat en gaan kyk wat daar aangaan.

As daai geld hoeka lankal aan hom uitbetaal is, gaan hy teen hierdie trant alles uitsuip.

Dus moet jy wikkel om te ver­seker dat van daai geld in jou huishouding geploeg kan word.

Wat jou seuns betref, is hulle volwasse, jong mans wat al lankal op hul eie voete moes staan.

Hulle kan nie meer in die nes gehuisves word nie en dis hoog tyd dat jy vir ’n slag plak vasmaak en hul uitskop.

Ja, as ma wil jy nie jou kinders op straat gooi nie, maar wanneer gaan hulle hul les leer en regkom?

Hul lewe is stadig maar seker besig om aan te stap, maar hulle wil net die dagga-pad bewandel?

Jou huis is suppose om jou joy en sanctuary te wees wanneer jy uit die werk kom.

Vat control daaroor en sort hierdie mans ’n slag uit.

Liewe Antie Mona

EK EN my girl gaan al drie jaar uit. Ons kind het nou die ander dag twee jaar oud geword.

Ons bly nie saam nie. Sy bly by haar ma-hulle en ek het ’n flat van my eie.

Sy skimp nou al lank van trou, maar ek is nog te lief vir my freedom.

Ek sien dan hoe swaar trek my brasse onder hul vroue en ek is nie nou al lus om daai paadjie te stap nie.

Die ander ding is dat ek soort van ’n fling aan het met my motjie se tjommie.

Ons het nou al ’n paar keer gevry en twee keer seks gehad, maar my meisie weet nie hiervan nie.

Die tjommie wil ook nou serious begin raak en dít nadat ek vir haar gesê het ek is ’n no strings attached ou. Hoekom moet vroumense dan so wees? Bra D, WhatsApp

Vroumense mag maar so wees, want ons is nie kitare wie se snare jy kan stukkend speel nie.

En terwyl jy so heilig oor jou freedom is, hoekom gee jy nie sommer ook jou kind se ma se vryheid aan haar nie?

Dink jy nie sy sal beter daaraan toe wees sonder iemand wat haar so gruwelik verneuk, en dit nogal met ’n vriendin van haar nie?

Wat julle aan haar doen, is nie mooi nie en mark my words, dis net ’n kwessie van tyd voordat julle uitgevang gaan word.

Wees versigtig oor wat jy aan ander doen, want as die wiel draai, dan dráái hy, Pappa.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters