Verlede maand
Los gerus ’n jong wat jou hele lewe versuur
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

DIS ’n nuwe seisoen; die lente is hier.

En soos wat ons ’n nuwe seisoen binnegaan, is dit tyd vir nuwe dinge.

Antie, oor die jare het ek in Antie se rubriek agtergekom daar is baie wat kla, maar min wat iets aan hul omstandighede wil doen.

Die man slaan jou, maar jy bly by hom, want jy is lief vir hom.

Die man cheat op jou en het jou al vuilsiek gegee, maar jy bly want... ja, reg geraai: Jy’s lief vir hom.

Nou aan sulke mense is daar mos nie salf te smeer nie.

Ek en my man was net twee jaar getroud toe hy sy hande vir my lig. En dit was ook die laaste keer, want dit het nie saak gemaak hoeveel kere hy gehuil, gesoebat en gesmeek het vir nog ’n kans nie, ek was klaar met hom.

Nou, 15 jaar later, is ek gelukkig in my tweede huwelik. Nes dit maar in huwelike gaan, is daar die ups en downs, maar dis niks wat ons nie kan oorkom nie.

My eksman loop al vir jare buite sy skoene. Ná ons egskeiding was dit die afdraande pad vir hom en hy swerf nou van die een plek na die ander.

Goddank ons het nooit kinders saam gehad nie.

Ek hoor hy is basies ’n bergie, maar ek verlekker my nie daarin nie, want dis deur sy eie toedoen dat hy daar beland het.

Aan die einde van Vrouemaand moet ons vroue besef hierdie maande beteken niks as jy nie jou power terugvat en jou selfwaarde besef nie.

Jy het nie ’n man in jou lewe nodig om goed oor jouself te voel nie. Jy hoef nie hierdie stront van ’n man te entertain nie.

Ek kan maar net hoop dat dit nie ’n miljoen Vrouemaande gaan vat voordat ons vroue se oë oopgaan nie. – Aktivis, WhatsApp

Vrou, daai mond van jou verdien ál die jêm in die lewe. Antie kon dit nie beter gestel het nie.

Ons kan maar net hoop dat vroue – selfs net één – inspirasie uit jou woorde sal put.

As hierdie die nuwe normaal is soos wat baie kenners te kenne wil gee, moet ’n vrou wat haar vrou staan, ook op die nuwe normaal se wa spring.

Om in hierdie tye nog ’n sleggat-jong te wil entertain, is al lankal uit die mode.

Liewe Antie Mona

EK IS nou drie maande pregnant, maar weet nie hoe om dit vir my ouers te sê nie.

Antie, die sad ding is – ek en die outjie is nie eens ’n couple nie. Dit was net ’n fling.

Toe ek maande gelede nie my period gekry het nie, het ek hom daarvan gesê. Hy was heel relaxed en het gesê ek moenie worry nie, hy sal my support.

Maar nadat my pregnancy geconfirm is, het hy dadelik verander.

Toe kom hy met stories van ja, hy is ’n student en sy hele toekoms lê nog voor hom en hy het ’n meisie.

Hy sê toe sommer hy dink nie hy is die pa nie en ek moet my kind se pa gaan soek.

Sy mense is baie bekend in ons dorp en het geld. Maar ek was nie agter dit aan nie. My hare is seker nie straight genoeg vir sy familie nie.

Anyway, ek is ook ’n student en het besluit ek gaan die baby hou. God sal my hierdeur dra.

Ek weet net nie hoe om my ouers hiervan te vertel nie. – Anoniem, WhatsApp

Ongelukkig is daar baie ouens wat só uitkom as die aanvanklike lekkerte ontaard in ’n swangerskap.

Dan moet jy allerlei stories hoor oor hul toekoms, om nie eens van die audacity en papbroekigheid te praat van denial nie. Maar toe hy net so lekker saam met jou gekry het, was sy future nie op sy mind nie.

Dit gaan beslis nie hier oor die concerns van ’n welaf familie met hare nie. Ons weet almal van die sêding van wat ’n hond en hare in gemeen het.

Feit van die saak is daar is ’n baby op pad – een vir wie hy net so responsible is. Om ’n kind groot te maak is nie speletjies nie. Dit kos geld. So, as hy wil aanhou om vaderskap te ontken, dan sleep jy hom hof toe sodat die maintenance-mense met sy gal kan werk.

Liefie, in die situasie waarin jy jou bevind, het jy ál die support nodig wat jy kan kry. Dis hoekom dit belangrik is om jou moed bymekaar te skraap en jou ouers van jou pregnancy in te lig.

Geskok en teleurgesteld gaan hulle wees, moenie dat ons dit ignoreer nie. Maar hulle is lief vir jou en gaan jou deur die hele proses ondersteun. Dis juis húl support wat jy nodig gaan hê terwyl daai jong en sy familie alles in hul vermoë gaan doen om hulle van hierdie kind te distansieer.

Jy gaan dit tog nie vir altyd ’n geheim kan hou nie. As dit nog nie wys nie, gaan daai magie een van die dae begin show.

Jy het jou ouers nodig en jy hoef nie alleen deur hierdie onsekere tyd te gaan nie, want dis nie goed vir jou óf die baby nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters