12 dae gelede
Kerkvrou skel kleinkind is ander klong se baba
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS L en ek het laas jaar swanger geraak.

Ek en my kind se pa ken mekaar van kleins af.

Dinge het aan die begin mooi geloop nadat ek hom vertel het van my swangerskap.

My pa het toe sy ouers gekontak om oor die swangerskap te praat.

Sy ma-hulle het toe sonder hom by ons huis opgedaag.

Antie, toe ek haar sê dat ek swanger is, het daai vrou so aangegaan en sy sê toe ek het ’n skande oor haar huis gebring.

Sy was meer concerned oor wat haar kerkmense gaan sê en is toe weg.

Die volgende dag bel sy toe en sê vir my dat dit nie haar seun se kind is nie en dat ek met verskillende mans geslaap het.

My hart was so seer, Antie, want ek weet ek het net met hom seks gehad.

Dis nou al maande dat ek nie van hulle hoor nie. Die enigste tyd dat ek van hulle hoor, is wanneer die ma my bel om my k*k te vertel.

Ek kon nie glo dat sy so ’n tipe mens is nie, want sy is dan bekeer.

Ons moes al voorgekom het, maar hy daag net nooit op nie.

Sy ma sê sy kan hom nie forseer om hof toe te kom nie. Het Antie dalk vir my raad? Hartseer L, WhatsApp

Dit is oor mense soos hierdie sogenaamde “bekeerde” vrou dat baie sondaars verkies om eerder nie kerk te loop nie.

Sy call haarself bekeer, maar dis eintlik omgekeer.

“Halleluja” wil sy Sondae van agter haar masker gil, maar eintlik dra sy al lank voor Covid-19 ’n masker.

Sy is so concerned oor wat die kerkmense gaan sê dat sy bereid is om haar eie vlees en bloed af te stry – en dít net om in ander se goeie boekies te wees.

Het jy dan haar seun styf gemaak en geforseer om met jou seks te hê? Is haar seun dan nou so heilig dat jy die Delila is wat hom verlei het?

Watter papbroek van ’n amper-daddy is hierdie klong dan ook nou dat hy kan toelaat dat sy kerksuster van ’n ma hom só die verdoemenis kan inlei? Sy sit natuurlik agter sy afwesigheid by jul hofverskynings.

Dring by die hof daarop aan dat daar strenger teenoor hierdie ou opgetree word.

Die polisie weet waar hy woon, so deur te versuim om vir hofverskynings op te daag, maak hy hom skuldig aan minagting van die hof.

Jy kan hul bekke forever silence deur daarop aan te dring dat ’n vaderskapstoets gedoen word.

En daarna sit jy agteroor en kyk hoe suster Watse-Groot-Kerkhoed weer allerhande verskonings maak van hoe jy haar seun in ’n strik gevang en hoe jy toordery en sulke snert gebruik het.

Hierdie vrou is ’n duiwel wat haar in ’n kerkgewaad vermom.

Die gereg is aan jou kant, meisa. Antie dink dit is hoog tyd dat jy begin veg vir dit wat jou kind wettig toekom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters