24 dae gelede
Hy dump haar ná 17 jaar op Valentynsdag
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS RN en was vir 17 jaar in ’n verhouding.

Valentynsdag 2020 is ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie. Ek en RJ het vir 17 jaar saam gebly en saam in Delft opgebou.

Op die oggend van hierdie jaar se Valentynsdag het JJ nog vir my ’n tjoklit gegee.

Die aand sê hy vir my hy is klaar met my. Hy het my soos ’n vuil lap weggegooi.

Ek kon dit nie glo nie, want daar was niks fout nie.

Ek het egter opgelet hy’s nie meer die man wat ek geken het nie.

Die JJ wat ek ontmoet het, was ’n ganja-roker. Ek het ál sy vriende geken met wie hy gerook het.

Ek het hom met my hele hart vertrou en dit was nie nodig om op te check op hom nie.

Ons het by dieselfde fabriek gewerk. Ek het vir hom die werk daar gekry.

Ons het eers agter in sy ma se jaart in ’n wendy gebly en later tot 2015 by my uncle se huis in Delft.

Al sy vriende het daar kom rook. N, ’n vriendin het saam kom rook.

Ek begin toe oplet as JJ uit die werk uit kom, gaan hy pal na N toe.

Ek dink mos toe niks hiervan nie, want hulle rook mos saam.

As ek hom altyd gevra het hoekom hy so baie by haar gaan rook, dan bly hy met my stry en sê ek is mal.

Hy het volgehou dat hulle maar net rook-vrinne is.

In 2017 huur ons ’n huis langs sy ma. Dit was ook nader aan N se huis.

Jirre, ek kan nie glo dat hy my net gebruik het nie.

Ek is ouer as hy en het altyd vir hom gesê: “Jirre, JJ, as jy moeg raak vir my, dan moet jy my net sê.”

N het hom weg van my af gesteel. Sy het my lewe onderstebo omgekrap.

Hoekom het hy dit aan my gedoen?

Ek het dit nie verdien nie. Ek het dan alles vir hom gedoen.

’n Mens kan nie meer ’n vroumens trust wat hulself Rastas call en met mans rook nie.

Hulle is vandag getroud. Maar dit is ’n gesteelde troue.

Ek weet ek moet aanbeweeg, maar ek kan nie vergeet wat hulle aan my gedoen het nie.

Sy maak my swak by ander mense en sê ek wil oor hom baklei.

So wat staan my te doen? Dit voel asof ek iets leliks kan aanvang. – RN, WhatsApp

Selfs waar daar ’n daggarokie is, brand daar ’n vuurtjie, soos wat jy tot groot skok moes besef.

Meisa, Antie verstaan jou ontnugtering oor 17 jaar wat JJ net so in die water gegooi het vir sy “rook-vriendin”.

Ja, die seer en ontnugtering is daar, maar daar is niks anders as aanbeweeg wat jy kan doen nie.

Gedane sake het geen keer nie. Hy het jou aan ’n lyntjie gehou, op jou gecheat en op Valentynsdag van alle dae die bad koue water in jou gesig gegooi.

Geen vrou kom sommer gou oor so iets nie, maar jy het tyd aan jou kant.

Jou seer sal minder seer raak. Jy kan met trots jou kop omhoog hou, want jy was nie die vark in die verhaal nie.

Beweeg aan en moenie jou verder hostage laat hou deur 17 jaar waarin jy belieg en bedrieg is nie. Hulle sal hul dag kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters