Verlede maand
Haar tik-ou maak haar lewe ’n absolute hel
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my outjie is nou al ses jaar saam.

Hy is ’n goeie outjie en alles, maar as hy getik is, is hy ’n heel ander mens.

Antie, dan kry ek niks gedoen met hom nie. Hy verdwyn sommer ’n hele naweek en kom dan eers laat Sondagaande by die huis.

Hy was al in hoeveel hearings by die werk, maar wil nie hoor nie.

As hy so getik is, beskuldig hy my van alle dinge en sê dan ek wil nie met hom slaap nie, want ek n*** met ander mans.

Antie, dit is nie so nie. Wie kry lus vir so ’n mens wat as hy so vol drugs is, dan die heeltyd wil seks?

Hy gee nie om wie by ons kuier nie. Hy wil net sy ding gedoen kry.

Ons het twee kinders en hy praat sommer hierdie lelike goed voor hulle. En verder besteel hy ons om elke hoek en draai en lieg dan daaroor.

As my ma geld vir die kinders stuur om vir hulle iets lekkers te koop, dan vat hy die geld. Hy sal dan kamma vir hulle lekkers koop wanneer hy pay, maar dit gebeur nooit nie.

Ek vermoed hy slaap ook rond, want ek moes al kliniek loop met ’n STI, maar hy stry my af en sê dis my sleggeit wat dit vir my gegee het.

Hy het dit selfs vir ál die mense in ons straat gesê. Ek is baie lief vir hom, maar hy maak my moeg.

Ek het al aan hom gesê hy moet rehab toe en die werk het ook al aangebied om hom te help, maar hy weier.

Ek kan regtig nie verstaan hoekom hy sy lewe so met dwelms moet wegsmyt nie. Hy is regtig ’n goeie mens – dis net die tik wat hom so ’n nare mens maak. – Moedeloos, WhatsApp

Liefie, dis nie hy wat moet regkom nie, maar jý.

Oe, gonna! Wil jy dan eers wakker skrik wanneer Ant Aida aan jou deur klop?

Jy sien dan nou self daar is geen Vicks of Puma aan hierdie man te smeer nie. Hy wil tik totdat hy hik! En basta die res!

Jy en jul kinders word nie eens geconsider nie, want watter man van die huis verdwyn vir ’n hele naweek en los julle alleen?

Kom ons wees maar nou reguit: Hierdie man is nie lief vir julle nie, want iemand wat vir julle lief was, sou nie hierdie dinge aan julle gedoen het nie.

As hy weier om hulp vir sy dwelmprobleem te kry, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie.

Wat jy wel kan verander, is jou en die kinders se omstandighede.

Vergeet bietjie hier van jou liefde vir hom en dink aan jou en die kids se welstand.

Dink jy regtig dis tot veral die kinders se benefit om onder sulke omstandighede groot te word?

Trek uit, selfs al moet jy solank by jou ouers gaan bly totdat jy ’n plekkie van jou eie kry.

Dis tyd dat jy besef dat hoe langer jy in hierdie toxic omgewing bly, hoe erger gaan dinge raak.

Dink aan jou kinders en hoe hulle nie gevra het om in ’n wêreld op te eindig waarin die een ná die ander tik-drama afspeel nie.

Liewe Antie Mona

EK IS nou al 15 jaar verloof. Kan Antie dít oorvertel?

Die man het my al in 2006 gevra om met hom te trou. Twee kinders later en ons is nog niks anders as engaged nie – amper soos een van Golden Arrow se busse.

Oor die jare was dit die een ná die ander verskoning van eers financially stable wil wees.

Maar die man koop net nuwe karre en shop by Sportscene. Hy lyk al soos ’n Redbat.

Ek het hom gesê ek gaan nie langer as tot die einde van die jaar wag nie.

Nou loop hy bolwange in die huis rond. Maar ek is ashes, Antie. Ek kan mos nie nóg 15 jaar wag nie. Genoeg Is Genoeg, WhatsApp

Lekker lag Antie nou oor die rooi vlermuis van ’n boyfriend van jou.

Maar alle grappies met of sonder ’n stokkielekker: Jy het ál die voete in die wêreld om op te staan, meisa.

Daar is geld vir die bling van die lewe, maar nie geld om jou officially ’n miesies te maak nie? Waar pas dit? Nee, laat hy soontoe. En laat hy maar wange opblaas soos watse balloon. Jy staan jou vrou.

Ek weet nie wat jy gaan doen as hy nie sy move maak nie, maar laat hy ook vir ’n slag hieroor sweet en hopelik deliver op ’n promise wat al onder stof is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters