Verlede maand
Girl se ‘gangster-eks’ laat my twee keer dink
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET so drie maande gelede met ’n meisie op Messenger begin chat.

Ons het sommer van die begin af gekliek.

Sy is van E en ek van R. Ons albei is 25 jaar oud.

Antie, sy het ’n kind, maar dit pla my glad nie, want sy is ’n baie nice mens.

Wat my wel pla, is dat die kind se pa in die tronk is. Sy sê hulle worry glad nie meer nie, maar wat van wanneer hy uitkom?

Ek wil nie vra nie, maar ek vermoed hy is ’n gangster. Sy het nie in soveel woorde so gesê nie. Dis net ’n afleiding wat ek maak.

Ek hou baie van haar. Sy is nie net mooi nie, maar funny en baie caring.

Ons beplan nou om op ons eerste date te gaan – sommer vir koffie by ’n mall naby ons.

Ek kan myself sien in ’n verhouding met hierdie meisie en sy het al geskimp dat sy iemand soek met wie sy ’n lewe kan bou.

Maar hoeveel van ’n probleem gaan haar kind se pa wees? Ek verstaan hy kom volgende jaar uit op parool en dit kan mos dinge baie complicate. Wat dink Antie?

Moet ek maar eerder dinge los nog voordat dit begin? H van R, WhatsApp

Jy sal nooit weet waar jou geluk lê voordat jy nie ’n kans vat en op die liefde wed nie.

Tans baat dit jou niks om dinge vooruit te loop nog voordat julle even ontmoet het nie.

Een treetjie op ’n slag, dis die beste wat jy nou kan doen.

Kyk eers hoe die wind waai, hoe julle kliek en of daar ’n moontlikheid buite ’n social gechat bestaan dat daar dalk iets moois tussen julle kan develop.

Die tronkvoël-eks is iets wat nie noodwendig nou al ’n issue behoort te wees nie, want julle het ’n bietjie tyd aan jul kant.

Jy wil ook nie die een wees wat nou al moontlike romance sommer wil kill nie.

Gaan eers op daai koffie-date en dan assess jy dinge daarna.

Liewe Antie Mona

EK HET so ’n ruk terug geld aan ’n familielid geleen wat in die knyp was.

Sy het my onder trane kom soebat om haar te help.

Dit was in die tyd net nadat ek ’n groot uitbetaling by my aftrede ontvang het.

Antie, ek het haar jammer gekry en ’n reël van my dat ek nooit geld aan familie sal leen of in besigheid met hulle sal gaan nie, eenkant toe geskuif.

Dis nou maande later en die vrou vermy my nou soos die pes.

Sy het hand en mond beloof om binne twee maande die geld aan my terug te betaal. Nou is sy skaarser as hoendertande.

Dit lyk asof sy nou Covid as verskoning gebruik, want sy gaan nêrens nie. Maar ek hoor sy het nuwe furniture gekoop en, soos ek verstaan, ’n nuwe kar ook.

Ek het dit nie eens geweet nie, maar hierdie niggie van my het pakket gevat en sit ook nou op geld.

Ek soek nou my R50 000 terug, maar niggie antwoord nie my oproepe nie. My WhatsApps word net gelees, maar sy reply nie.

Ek wou haar kleineisehof toe stuur, maar het intussen uitgevind dat die geld wat sy my skuld te groot is vir die sake wat dié hof hanteer.

Hoe maak ek? Ek mean maar, Antie, ek het gedink ek doen ’n goeie ding om haar in haar uur van nood te help. En nou behandel sy my asof ek haar lastig val vir háár geld. Moedeloos, E-pos

Geld, besigheid en familie kan inderdaad ’n komplekse tameletjie raak.

Veral soos in jou geval, waar niggie nou traag is om die geld terug te betaal.

Toe sy in die nood was, het sy presies geweet waar om jou in die hande te kry.

Maar noudat dit goed gaan en daar weer heelwat nulle in haar bankbalans is, vergeet sy van haar skuld.

Daar is niks wat haar gedrag regverdig nie. ’n Mens maak eenvoudig nie so met iemand wat jou in jou oomblik van nood bygestaan het nie.

Dit ís so dat die bedrag wat sy jou skuld ongelukkig te veel is vir die kleineisehof.

Dié hof deal net met siviele eise van tot R20 000.

Om jou geld terug te kry, sal jy ongelukkig vir jou ’n lawyer moet aanstel – wat jou meer geld uit die sak gaan jaag en gaan beteken dat jy minder as die aanvanklike R50 000 gaan terugkry.

Maar dit gaan hier oor die principle van haar ’n les leer en seker te maak sy kom nie met hierdie vieslike gedrag van haar weg nie.

Sien dit so: Deur haar formeel hof toe te sleep, is daar die moontlikheid dat jy ten minste ’n gedeelte van jou geld gaan terugkry, anders kry jy dalk net mooi niks nie.

Die besluit bly natuurlik joune, maar as jy gaan wag vir haar om ’n gewete te ontwikkel, vermoed Antie jy gaan baie lank wag.

Mense soos sy het net vir die eye-blind ’n vel oor hul gesig en voel vere vir die way hoe hulle ander uitbuit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters