27 dae gelede
Giftige skoonma maak arme man se lewe hel
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MY SKOONMA is gif. Pure­ gif. Ek kan nie glo dat iemand so nasty kan wees nie.

Die afgelope drie jaar dat ek met haar dogter getroud is, maak die vrou my lewe hel.

Antie, sy steek haar neus in ons sake. Ek weet nie meer wat om te doen nie.

Meer as ’n jaar gelede het sy by ons kom woon ná die afsterwe van haar man.

My vrou wou aanvanklik nie haar ma hier laat bly nie. Twee vroue in ’n kombuis werk nie, onthou ek my vrou se woorde.

Maar ék was die een wat my skoonma jammer gekry het.

Tog het sy reeds jare gelede vir my gesê het sy sal my nooit as ’n skoonseun aanvaar nie.

My vrou het voor ons ontmoet het iemand gedate oor wie Skoonma baie erg was. Soos ek dit verstaan, het hy haar met geskenke ingestop en bederf.

Nou, ek het nie daai klas geld of tyd om gat te kruip nie.

Ek het haar nog altyd met respek behandel, maar sy druk my down om elke hoek en draai.

Sy sal sommer vir kuiergaste sê ek pay min en dat my vrou se salaris die huishouding dra. Sy het haar huis verkoop en kan bekostig om op ’n ander plek te gaan bly.

Dit is anyway nie asof sy ’n sent bydra nie, want ek het destyds voorgestel dat sy verniet by ons moet kom bly.

Nou voel dit ek kan myself elke dag skop.

Daar is aande dat ek en my vrou kwaad vir mekaar gaan slaap oor haar ma se dinge.

Ons wil met ’n gesin begin, maar ek wil nie my kind onder dieselfde dak as haar giftige slang van ’n ouma laat bly nie.

Gee vir my raad, asseblief, Antie. Daar is dae dat ek voel ek kan die vrou net aan die nek gryp en doodwurg. – Moedelose Skoonseun, Whatsapp

Nee, kyk, voordat jou skoonma maak dat jy in die tronk beland, sal julle ’n plan moet maak. Jy kan mos nie vir ewig wag dat sy jou aanvaar nie. Sy wíl nie en steek dit glad nie weg nie.

Sy hét geld. Praat met jou vrou sodat julle haar ’n aftreeplekkie iewers kan kry waar sy rustig (en hopelik in vrede) haar oudag kan gaan geniet.

Julle sien nou al klaar watse impak sy op jul huwelik het. So, voordat die krake nóg groter raak, moet julle skoonma se trek discuss en dit dan so aan haar oordra.

Jou huwelik kan nie in die skadu van jou skoonma en haar giftige sêgoed floreer nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters