Verlede maand
Getroude man belowe my die maan en sterre
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS N van B, ’n ma van twee kinders en ’n ouma.

Ek is 42 jaar oud en was nog nooit getroud nie.

Antie, ek het so drie jaar gelede by ’n hospitaal gewerk waar ek iemand ontmoet het. Hy het ook daar gewerk.

Ons het ’n verhouding aangeknoop en ek het verlief geraak op die man.

Hy is getroud en het my ’n klomp goed belowe, soos dat ons eendag saam sou wees.

Ek wil hom nie los nie, Antie. Hy het gesê dat hy nie gelukkig in sy marriage is nie. Maar ons sien mekaar nie meer so baie nie.

Ek wil net weet of ek eendag sal opeindig met hierdie man. N van B, WhatsApp

Antie het nie ’n kristalbal nodig of hoef nie teeblare te consult om hierdie vraag vir jou te beantwoord nie. Ek kan nie sien hoe julle eendag saam sal opeindig soos wat jy met ’n seer hart begeer nie.

Dis dan nou al drie jaar later. Het hierdie man al ooit ’n move gemaak om van sy vrou te skei?

Sien, g’n getroude man wat by jou aanlê, sal sê dat hy gelukkig getroud is nie. Anders het hy mos nie ’n rede om te jol nie.

Daar is nie enige probleme in hierdie man se huwelik nie. Sy grootste probleem is dat hy jags is en geen respek vir sy vrou of huwelik het nie.

Jy word nou al drie jaar lank aan die slaap gesus met dieselfde ou verskoning van hom.

Die hartseerste van alles is seker hoe jy elke keer vaak is en nie wil sien hoe hierdie man jou net belieg nie.

Hy gaan nie skei en in die proses die helfte van sy pension en sy huis verloor nie. Hy sê ál hierdie dinge net om jou panty-rek pap te kry.

Dit is tyd dat jy hom sien vir die liegbek wat hy is. Wat julle aan sy vrou en moontlik kinders doen, is nie reg nie.

Kry jou uit hierdie affêre en kry vir jou ’n man wat nie getroud of in ’n verhouding is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters