11 dae gelede
Gemors-man kos my job en besteel die kinders
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

DIS al 21 jaar. Dís hoe lank ek sukkel met my man se abuse, stelery, aanranding en dwelmstreke.

Ek het my werk van 19 jaar verloor omdat ek elke keer moes uitbly om hof te loop.

As ek nie met hom seks wil hê nie, druk hy sy penis in my mond terwyl ek slaap.

Ek het ná drie jaar die hofsaak gewen, maar hy het net weer dieselfde ding gedoen.

Ek is uit my werk uit oor stres en uitbly.

Hy het meestal my wages gesteel. Hy het nie eens vir my taxi fare gelos om werk toe te kan gaan nie. Dan het hy nog die nerve om te skel oor kos wanneer hy so gedrug is.

My seun van 21 se kamerdeur word oopgebreek om geld te steel. Of hy klim deur die kamervensters om die kinders se tekkies te steel.

Selfs my kos word gesteel. Die polisie is niks werd nie, selfs al het ek ’n protection order.

Ek het twee kinders van hom. Hulle is 21 en 13 jaar oud en hulle is ook al raadop.

Ek wil gaan vir ’n egskeiding, maar wil eers al die goed terugkry wat ek verloor het. Hy dreig my elke dag. – Moedeloos, Whats­App

Vrou, 21 jaar is ’n láng tyd om jou so deur hierdie man te laat verniel. Veels te lank!

Dit is tyd dat jy vergeet van eers die dinge terugkry wat jy oor die jare verloor het. Kry dié man so spoedig moontlik uit jul lewe.

Die vryheid wat jy gaan enjoy, gaan anyway opmaak vir al die jare vol swaarkry en verdriet.

Hierdie man het jou nog net verlies in die sak gebring. Om nie eens te praat van die vieslike goed wat hy met jou wil aanvang wanneer hy so gedrug is nie.

Nee wat, jy en die kinders verdien rus en vrede in jul lewe.

Sit daai egskeiding-bal aan die rol, vrou. Dis tyd dat jy beheer neem van jou lewe.

Liewe Antie Mona

EK IS al 24 jaar getroud, maar steeds lief vir ’n vrou wat ’n kind van my het.

Sy is ook getroud. Wanneer ons by mekaar uitkom, dan lyk dit asof ons mekaar nie kan los nie. Getroude Man, WhatsApp

Maar nou waaroor kla jy dan? Ek kan nie agterkom wat jou pla nie. Is dit die afstand tussen julle?

Antie het ’n bietjie sommetjies gemaak en gesien julle bly amper 400 km van mekaar af.

Twee getroudes wat in hul onderskeie huwelike mors, is nie mooi nie. Jul partner verdien dit nie.

As julle dan nie genoeg van mekaar kan kry nie, is dit nie tyd dat julle maar jul wederhelftes los en mekaar permanent gryp nie?

Dan kan jul partner ’n lewe sonder leuens en hoerery ervaar.

Liewe Antie Mona

EK EN my kêrel gaan al twee jaar uit en is besig om ons eie plekkie te kry.

Ek worry, want hy rook so dan en wan dagga en dan ruik hy ook na pille (Mandrax).

Ek hou glad nie van die reuke nie. Dit voel vir my hy rook ál meer nadat ek met hom daaroor gepraat het. Dan bly hy sê ek skel en raas en dan loop hy.

Ons probeer vir ’n baba, maar as hy al klaar só opneuk, weet ek nie so mooi nie. Ek wil hom help, want hy was nooit so nie. Waar begin ek?

Ai, ek is nog so jonk. Ek het reeds ’n baba van ’n ander man.

Ek het nog ’n toekoms voor my. Moet ek wag totdat hy eendag regkom? – Jong Mammie, WhatsApp

Sy redenasie gaan altyd wees dat hy reeds dagga gerook het toe jy hom leer ken het. En wat ook al ander goed hy rook.

Dit is ’n topic hierdie wat hierdie klong nie aangeroer wil hê nie. Dít is waarom hy elke keer te kenne gee dat jy op sy kop raas en dan wegstap.

Liefie, daar is geen salf te smeer aan iemand wat nie homself of sy habits wil verander nie.

Al staan jy ook nou op jou kop, hy sal voortgaan met sy dinge.

En dit is hier waar jy ’n choice sal moet maak. Jy is jonk en het klaar een kind. Wil jy rêrig nog ’n kind in só ’n situasie bring?

Jy sê jy het ’n toekoms voor jou, maar wat kan die toekoms jou bied as ’n jong ma van twee kinders – sonder die derras in die prentjie?

Studeer verder en bekwaam jouself in ’n beroep sodat jy finansieel gesond kan wees.

Girla, jy hoef nie op ’n man staat te maak om vir jou te sorg nie.

Jy sal sien wanneer jy jou vrou kan staan en jou eie wallet control, sal jy ’n man soek wat ook sy kant sal kan bring.

Jy kan nie die prentjie van die verloop van die lewe heeltemal omdraai en dan verwag dinge gaan in jou guns uitdraai nie.

Die alfabet van die lewe vereis dat jy skool klaarmaak, jou tersiêr bekwaam, werk, jou jong lewe geniet en jouself spoil... en dán jou droomman – die een wat jou voete onder jou uitslaan – kansel toe sleep.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters