Verlede maand
Geheimsinnige ou se attitude pla haar
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK GAAN met ’n ou uit wat voorheen reeds twee keer getroud was.

Uit hierdie twee huwelike is drie kinders gebore.

Ons is nou al ’n jaar saam en hy praat aanhoudend van trou.

Maar ek weet darem nie so mooi nie. Ek is nie seker of dit third time lucky vir hom sal wees nie.

Ek was nog nooit voorheen getroud nie en ons het nie kinders saam nie.

Hy is baie vaag oor die rede vir sy egskeidings, maar ek hoor baie stories.

Ek ken een van sy ekse en sy het destyds al aan my gesê dat hy ’n temper het en haar verneuk het.

Hy het nog nooit sy hande vir my gelig nie, maar raak sommer baie gou kwaad.

Verder is hy baie geheimsinnig, veral as dit by sy phone kom.

Ek mag nie eens aan sy phone raak nie, dan kry hy ’n fit.

Maar hy wil sommer gereeld myne gebruik en as ek later my phone het, kom ek agter daar is gekrap op my phone.

Hy lees my boodskappe en ek kom agter hy krap ook op my Facebook profile.

Ek het nog nooit die hart gehad om hom hieroor uit te vra nie.

Ek het anyway niks om weg te steek nie, want daar is nie geraamtes in my kas nie.

Maar sy attitude en die dinge wat hy aanvang, pla my tog.

Hoe roer ek die onderwerp aan sonder dat hy my kop afbyt? –  Onseker, E-pos

Liefie, as daar so baie onbeantwoorde vrae is, kan jy nie eens aan trou dínk voordat jy met ál die antwoorde voor jou sit nie.

’n Egskeiding kom nie net van een kant nie. Hy moes tog ook ’n rol gespeel het in die verbrokkeling van sy huwelike.

Jy kan egter ook nie net agter stories aangaan nie.

Jy sal self die “kwaai bul” by die horings moet pak en hom hieroor moet uitvra.

Laat hy weet jy wil 100% ingelig wees voordat jy ’n besluit rondom trou kan neem.

Aan die einde van die dag gaan dit sy woord wees teen diegene wat almal ’n eier te lê het oor sy vorige huwelike.

Maar jy sal tog kan agterkom of hy die volle waarheid met jou deel.

As alles wat verkeerd geloop het net die ander partye se skuld is, dan moet jy weet Neef Ongeduld is nie heeltemal eerlik nie.

Kyk, dit vat guts om in jou skuld te val as jy voor jou siel weet dat jy nie ’n engeltjie in die verhaal was nie.

So, kyk die kat eers behoorlik uit die boom voordat jy jou in ’n huwelik in laat praat.

Pleks ook van haastig wees om kansel toe te drafstap, moet hierdie man dalk eers aan die management van sy anger issues werk.

Mense wat mos so kwaai kan raak dat hulle rooi sien, kan erg onstabiel en irrasioneel optree.

En as hy so PI speel oor jou doen en late, moet jy ook dalk begin wonder of hy nie dalk self agter die joldeur staan nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters