Verlede maand
Familie wil niks weet van haar verhouding
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS nou al ’n jaar lank in ’n verhouding met ’n ouer persoon.

Daar is ’n ouderdomsverskil van 11 jaar tussen ons.

Hy is nie getroud nie, maar het drie kinders wat by hul ouma bly. Hulle aanvaar my.

Ons bly so ’n halfuur se ry van mekaar af. Hy is ’n goeie mens, maar my seun (13) aanvaar hom nie. My dogtertjie aanvaar hom darem.

Verder is my familie ook gekant teen die verhouding en hulle try nie eens om hom beter te leer ken nie.

Dit maak my baie ongelukkig en nou stres ek op hom.

Wat staan my te doen? Gee vir my raad, asseblief, Antie. – A van S, WhatsApp

Dit kan omtrent ’n bohaai afgee as daar ’n kind of kinders is wat nie jou keuse van partner wil aanvaar nie.

Nóg olie op die vuur is natuurlik familie wat óók ’n vrag tiensente wil ingooi oor jou keuses.

Dít terwyl jy die reg het om self te besluit met wie jy jou lewe wil spend.

Kyk, as dit ander mense was, kon jy eenvoudig jou skouers opgetrek en hulle in hul tjops gestuur het. Maar dis family. Ouers, familielede, ’n kind…

Dit skeur jou obviously in twee, want hoe kies jy tussen jou kind, familie en die man vir wie jy lief is?

Niemand kan anyway van jou verwag om so ’n besluit te maak nie. En ongelukkig gaan die situasie homself nie oplos nie.

Dus stel Antie ’n family meeting voor – nie die een waar die prez die drankplekke altyd toemaak nie, maar een waar jy, jou kinders, die res van die familie en jou boy­friend bymekaarkom.

Almal (wat asseblief kalm moet bly) kry dan die kans om hul mening te lig.

Kyk, moenie ’n fout maak nie, jou familie kan nie vir jou kom sê wie jy moet date en wanneer jy iemand mag date nie.

Nie eens jou seun nie, maar dié outjie is op so ’n sensitiewe tienerstadium van sy lewe dat hy involved moet word om te verseker dat hy nie sommer heeltemal die pad byster raak uit rebelsheid nie.

En as so ’n meeting plaasvind, moenie verbaas wees as dit uitkom dat die res van die familie hoeka jou seun so opgestook het nie.

Niemand kan ’n behoorlike opinie oor iemand vorm as jy nie daardie persoon beter ken en hom die geleentheid bied om te wys wat in hom steek nie.

Hopelik sal so ’n vergadering meer klarigheid bied, maar wat ook al die outcome daarvan is, moet jy weet dat jy die reg op happiness het en dat jy nie op hierdie aarde is om aan ander se selfsugtigheid te voldoen nie.

Hierdie is ook nie nou die tyd om jou frustrasie op jou berk uit te haal nie.

Antie weet dis moeilik en jy voel in ’n hoek gedruk, maar as julle wil in wees vir ’n ding, sal julle saam deur die ding moet druk.

Alle sterkte! Antie hoop dinge werk vir jou uit.

Liewe Antie Mona

DINK Antie een pak kimbies ’n maand kom neer op child maintenance?

Dís wat by kind se pa elke maand gee, Antie.

Net die kimbies (wat hy anyway met iemand anders stuur) en niks anders nie.

Ons kind raak nou amper twee en hy het hom nog net drie keer gesien.

Dit nadat hy eers gesê het hy is nie die pa nie.

Toe kom hy weer met ’n storie dat ek hom wou vang.

Ek’s nou al so moeg van sy dinge.

Ek sorg vir my kind en koop die meeste van die goed wat hy nodig het, maar ek het mos nie hierdie kind alleen gemaak nie.

Daar is dae dat ek wens hy kan net ’n ding oorkom.

Hoekom moet daar sulke slegte pa’s in die lewe wees? – R van CX, WhatsApp

Jy hoef hom darem nie weg te wens nie. Plaas hom en sy lot net in die hande van die regstelsel.

Dis waarvoor die maintenance-hof daar is, liefie: Om trae mans soos hierdie een tot verantwoording te roep.

Antie weet nie of hierdie man net kimbies op sy mind het en net sover kan dink nie, maar laat ons maar nie verder bespiegel oor sy breinkapasiteit nie.

Dis beslis hoog tyd om bietjie ’n draai by die maintenance-afdeling van jou naaste hof te maak en die papgeld-wiel aan die draai te sit.

Laat die hof besluit oor hoeveel hy maandeliks tot jul kind se opvoeding moet bydra.

Dis jammer dat hy ook nie verder as kimbies wil kyk en ’n verhouding met sy seun wil bou nie.

Soveel seuns raak die pad byster weens die afwesigheid van ’n pa in hul lewe.

Maar karma sal wel op die regte tyd aan sy deur kom klop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters