22 dae gelede
Eks wil homself uitvat as ek hom nie terugvat
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MY KLEINKIND van 10 is op 22 Januarie deur ’n 30-jarige man aangerand.

Blykbaar het my kleinkind en sy vriende op 20 Januarie gespeel en een van die kinders gespuug.

Die man het vermoed dis my kleinkind wat gespuug het en ek en my dogter het dadelik in hierdie man se teenwoordigheid met die kind geraas.

Maar op 22 Januarie kom my kleinkind die huis ingehardloop, huil-huil en met ’n groot knop teen die kop.

Die man het my kleinkind met ’n glas teen die kop geslaan.

Toe ons hom hieroor uitvra, sê hy: “Ek het hom gemoer oor nouriedag. Julle kan maar polisie toe gaan. Ek is nie bang nie.”

Ons het toe die J-88-vorm gekry en my kleinkind na ’n privaat dokter gevat, waarvoor ons R400 moes opdok.

Gewapen met die ingevulde vorm van die dokter is ons toe weg polisiestasie toe.

Maar daar gekom moes ons hoor ons het nie ’n saak teen daai man nie, want volgens die polisie het my kleinkind sy aanrander uitgelok.

Sou dieselfde gesê gewees het as daai man my kleinkind verkrag het?

Ek het al my vertroue in die polisie verloor, want is dít hoe hulle kinders beskerm? Bekommerde Ouma, WhatsApp

Julle het die volste reg om gegrief te voel oor die way wat die polisie die saak hanteer het.

Geen van die polisielede wat jou daai nonsens vertel het, was ten tyde van die voorval op die toneel nie.

Geeneen van hulle is bekwaam om die verslag van die dokter sommer net so te ignore en hul eie afleidings te maak nie.

Moet dinge nie net so los nie. Gaan terug en dring daarop aan om die stasiebevelvoerder te sien. Dring daarop aan dat ’n saak geregistreer en ondersoek word.

Hierdie man het geen, maar géén reg gehad om jou kleinkind so te slaan nie.

Hierdie lafaard het mos gesê hy is nie bang vir die polisie nie, so maak seker dat die gereg wel begin notevat van hom.

As jy steeds nie die nodige en bevredigende diens by die polisie kry nie, kontak dan so gou as moontlik die Wes-Kaapse polisie-ombudsman by 021 483 0669 en lê dan ’n formele klag teen die betrokke polisiestasie.

Liewe Antie Mona

EK IS baie lief vir my outjie, maar my eks wil nou weer by my wees. Ek weet nie hoe om vir hom te sê dat ek klaar aanbeweeg het nie.

Elke keer as ons chat, dan sê hy vir my ek is sy alles en dat hy baie lief is vir my.

Hy sê goed wat my baie bang maak, soos as ek nie vir hom ’n kans gaan gee nie, gaan hy iets aan homself doen.

Dis hoekom ek nie vir hom wil sê dat ek reeds aanbeweeg het nie.

Wat doen ’n mens as ’n mens in so ’n situasie is? D van P, WhatsApp

Hierdie is niks anders as emotional blackmail van jou eks nie.

Wat jy ook baie mooi moet verstaan, is dat jý nie verantwoordelik gehou kan word vir die besluite wat hý in die lewe maak nie.

Antie het ook nou al oor die jare geleer dat mense wat dreig om hulself leed aan te doen om hul sin te kry, dit nooit eintlik doen nie.

Iemand wat byvoorbeeld selfmoord wil pleeg, gaan nie ’n advertensie daaroor uitstuur nie.

Hierdie ou wil deur op jou gevoelens te speel, jou dwing om hom nóg ’n kans te gee.

Hy het egter sy kans by jou gehad en moet aanvaar dat jy nie iemand kan dwing om saam met jou te wees nie.

Dis tyd dat jy oop kaarte met hierdie eks speel. Dis tyd dat jy alle bande met hom verbreek.

Blok hom. Hou op om met hom te chat.

Hoekom anyway nog geselsies met ’n eks aanknoop wat jy weet jou nog smaak en jou wil afpers om hom terug te vat?

Wat ook al hy besluit om te doen nadat jy die nuus aan hom gebreek het, is nie jou baby nie.

Antie weet nie hoe oud julle is nie, maar hierdie is verskriklik kinderagtige gedrag van hom.

Jy kan nie sy gedrag control nie, maar wel jou eie.

En dis tyd dat jy control oor hierdie situasie neem deur bande met hom te verbreek.

Chat maar liewer net met jou outjie en vriende.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters