11 dae gelede
Ek wil my liegbek-berk soema met mes steek
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

E K IS 3 jaar geskei en my kêrel is al 9 jaar geskei.

Ons woon tans saam. Hy was voorheen in ’n verhouding met ’n ou vrou.

Als in ons verhouding het mooi verloop totdat ek laas week gehoor het by iemand my ou het onlangs in die nag daar by hulle aangekom terwyl hulle gesit en drink het.

My ou het hulle toe gevra om die ouvrou-eks van hom te gaan roep omdat hulle buddies met haar is.

My vraag is: hoekom soek hy haar dan nog? Ek en hy is dan saam.

Ek het hom confront, maar hy het net stil gebly. Toe ek handgemeen begin raak met hom, toe sê hy dit is nie waar nie. Maar om eerlik te wees, Antie, ek glo die mense wat die storie aan my vertel het.

Toe ek laas jaar in die hospitaal was, was daar ook ’n storie van my kêrel wat die ouvrou-eks van hom na ons huis toe wou bring.

So, hoe kan ek hom glo? Ek doen alles vir hierdie man. Ek is lief vir hom.

Gelukkig het ons nie kinders saam nie.

Maar ek raak bang vir myself want al dié dinge speel aanhoudend voor my af en dan kry ek sommer die gier om hom met ’n mes te steek.

Sy nuwe ding is deesdae om tot ounag toe rond te loop as hy so gedrink het. Dan kom vertel hy my hy was by ’n vriend van hom, maar hy weet ek ken nie mense in dié plek nie.

Wat staan my te doen, Antie? Hy wil nie eens hê ek moet die ou vrou se naam noem as hy nugter is nie. – Ontevrede Girlfriend, Whats-App

Liefie, jy moet nou baie mooi na Antie luister.

Daar is vandag baie vroue wat in tronke sit nadat hulle hul berk of man doodgesteek het in ’n oomblik van waansinnige jaloesie.

Moenie ... moenie dat dié jou paadjie raak nie.

Die hof sal niks verstaan as jy agterna wil sê jy het nie bedoel om hom dood te steek nie. Ons mense is mos lief om agterna te sê: Ek kon nie gehelp het nie.

Jy kan jouself nóú help. As jy voel jy kan dié man nie meer trust nie, dan beter jy dinge nou beëindig.

Hoekom jouself deur al dié stres sit as jy maar net kan aanbeweeg met jou lewe?

Enige iets sal anyway beter wees as om 15, 20 jaar in die tronk te gaan sit vir een oomblik waarin jy jou humeur verloor en iets doen wat jy vir altyd sal berou.

Jy raak al klaar handgemeen met hom. Jy sê self so. Imagine net wat gaan gebeur as jy eendag so kwaad raak en daar lê ’n skerp ding in die omtes ...

Dié is goed wat jy kan vermy deur jouself nou al uit die prentjie te vat.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters