16 dae gelede
Ek stap uiteindelik uit my hel van ’n huwelik
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

SESTIEN jaar. Dís hoe lank dit my gevat het om al my moed bymekaar te skraap en uiteindelik te skei.

Dít nadat ek al soveel kere by die polisiestasie moes omdraai ná dreigemente soos: “Wys my en dan sien jy wat maak ek met jou.”

Jy is later so vasgevang in die siklus, dit raak vir jou normaal.

Jy raak gewoond aan klappe wat later vuishoue word, want “ek klap jou nie hard genoeg nie”.

Woorde wat op my gevloek is, het my nie “seer genoeg” gemaak nie, so toe spoeg hy sommer in my gesig. My kop is teen die muur gekap, want ek “hoor nie”.

Dan lag hy jou agterna uit. “Whêla, kyk hoe lyk jy. G’n ander man sal jou wil hê nie.”

“Vullistrok”, “hoer”, “slangk*k” en “papvrot etter” is alles woorde wat ek jare lank moes aanhoor.

Antie, ek het vroeg in ons verhouding geweet ek gaan ’n fout maak as ek trou.

Ek het dit teengestaan, maar toe kom vertel sy familie dis troubreuk en ek mag nie wegstap alvorens ek nie al die geld terugbetaal wat hy spandeer het nie.

Waar was my familie dan?

My ma het my net so gelos dat ek maar my kop moet stamp. Sy wou nie eens my troue bywoon nie. My stiefpa moes haar dwing.

Kan ek my ma blameer vir my slegte lewe? Nee, ek het my bed gemaak en ek moes daarop lê.

Dit was my hel, my diep, donker put.

Presies ’n maand ná die troue het hy sy ring teruggevat omdat ek hom nie “bevredig” het nie.

Die TV se plug is afgesny. Ek mag nie TV gekyk het nie, want dis sý TV.

Die bed is onderstebo gedraai. Ek mag nie daarop gelê het nie; dis syne.

Skoene wat hy vir my gekoop het, is syne. Kos wat ek nie gekoop het nie, mag ek nie geëet het nie. Die ligte mag ek nie laat brand het nie, want dis sy krag wat hy gekoop het.

Kos wat ek gemaak het, is in my gesig gegooi – maak nie saak hoe warm die kos is en of die bord my gesig kan sny nie.

Sy vriende het menige maal ingetree om houe te keer wat vir my bedoel was.

Dan was dit oorlog by die huis, Antie, want hoekom keer die vriend? Wat beteken jy vir hom? Julle jol. Dan reën die houe neer.

My liggaam was al so seer dat ek nie kon lê nie. Regop sit en slaap het ’n gewoonte geword.

Ek het gehoor hoe my kinders saans saggies in die donker kamer huil, maar ek was te bang om op te staan en hulle vas te hou, want netnou skrik hy wakker. Ek was veilig terwyl hy geslaap het.

Dit was jare se marteling. My kinders het grootgeword en ek het ouer en wyser geword. Ek moes leer om my man te staan en het begin terugklap, vloek en skel.

Dit was erg. Ek het myself later nie herken nie en was toe net so lelik en gevoelloos soos dié man.

Antie, ek moes tot op sy vlak daal om te oorleef. Dit het in sy guns getel, want toe kon hy vir die polisiebeampte sê ek het eerste geklap.

Ek is deur ’n huwelik wat my amper vernietig het en my vroulikheid aangetas het.

Ek kry nog flashbacks en huil nog wanneer ek daaraan dink.

Om te staan en kyk hoe jou getroude man ’n straathoer in jul huis spyker, is genoeg om enige vrou mal te maak.

Ek is jammer as ek êrens ’n vrou te na gekom het met my storie. ’n Survivor, WhatsApp

Vrou, met alles wat jy moes deurmaak, skuld jy vir niks en g’n niemand ’n verskoning nie.

Jy kom beslis niemand te na nie. Antie het gehuil toe ek jou brief lees. Snot en trane.

Ek glo daar is baie ander wat soos ek voel. Wat jy alles moes deurmaak, is iets waardeur absoluut geen vrou moet gaan nie.

Ek is so trots op jou dat jy daardeur gekom het en steeds staande is. Ek is so trots op jou dat jy jou nie deur hierdie gemors laat onderkry het nie en besluit het om uit daardie hel van ’n huwelik te kom.

Antie hoop en vertrou dat die hordes ander vroue wat in soortgelyke situasies sit inspirasie uit jou verhaal sal put om uit daardie verhouding of huwelik te kom.

Ek bid ook jong meisies wat ’n verhouding het met ’n outjie met jeukende vuiste vat note van jou brief en kry hulle uit daardie verhouding.

Dan bid ek dat geluk en voorspoed jou sal omhels en verder op jou lewenspad saam met jou sal stap, want jy verdien dit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters