Verlede maand
Ek los dagga-berk ná hy my met mes dreig
Auntie Mona
Auntie Mona  ~ ~

Liewe Antie Mona

MY DOGTER het in Julie op haar foon aansoek gedoen vir die R350 grant.

Dit het gewys dat dit active is en sy het ’n nommer gekry.

Ons het poskantoor toe gegaan, maar hulle sê toe sy is nie op die system nie.

Sy is in matriek en ek wat nie werk as enkel-ma nie, het daai geld nodig om kos te koop sodat sy lekker eksamen kan skryf.

Ek was so kwaad toe ek sien hoe die gangsters en tikkoppe hul geld kry en ek dink dis unfair.

Sy het ’n grant gekry, maar dis gestop toe sy 18 word.Hartseer Ma, SMS

Ongelukkig, soos so baie dinge in hierdie land, is wag en geduldig wag die wagwoord hier.

Sover Antie weet, het meer as 3 miljoen mense aansoek gedoen vir hierdie grant. Hiervan het net meer as ’n miljoen mense sover hierdie R350 ontvang.

Antie weet julle is desperaat en wil hierdie geld vir die regte redes inspan – maak nie saak wie wat sê nie, want daar gaan nou natuurlik ’n klompie mense wees wat soos 100% opregte henne eiers te lê het oor hierdie brief van jou.

As julle steeds probleme met die uitbetaling ondervind, maak dan van die volgende kontakbesonderhede gebruik: Bel 080 060 1011 of e-pos na srd@sassa.gov.za.

Antie hou duim vas dat julle binnekort geholpe gaan raak.

Liewe Antie Mona

EK EN my outjie van die afgelope drie jaar het opgebreek nadat hy my met ’n mes gepoint het.

Antie, dit was ook nie die eerste keer nie. Sy kop haak so uit as hy dagga rook en rum drink.

Hy soebat my nou om hom terug te vat, maar hoeveel keer gaan hy dit doen voordat hy my regtig steek?

Hy verstaan nie wat ek vir hom sê nie en sê ek wonder onnodig oor goed wat nie sal gebeur nie.

Ek is lief vir hom, maar hou nie van hierdie kant van sy per­sonality as hy so gesuip is nie. – Bekommerd, WhatsApp

Liefie, jou vrese is valid en kan nie as “onnodig” afgemaak word nie.

Dink hy jy moet net tevrede wees as hy so beform as hy dik gerook en gesuip is?

Dis tog duidelik dat die rum hom rammetjie uitnek en die dagga hom aggressief maak.

Daar is altyd die kans dat hy dinge op ’n keer te ver kan voer en jou in die hospitaal, of nog erger, die lykhuis, laat opeindig.

En wat wil hy dan sê? Dat hy nie kon gehelp het nie en nie bedoel het om jou te steek nie?

Nee, wat. Jy het nie ’n ou in jou lewe nodig wat nie sy drank vir homself kan drink nie.

Dit gaan hier oor jou veiligheid en as jy nie veilig by hom voel nie, is dit beter om weg te bly van so ’n mens.

Liewe Antie Mona

EK HET ’n meisie deur mutual vriende ontmoet.

Ons het dadelik gekliek en hou van dieselfde dinge in die lewe.

Die probleem is dat sy in ’n verhouding is. Hulle is al ’n hele klompie jare saam en het twee kinders.

Nou, hierdie ou waardeer haar nie. Hy cheat op haar, slaan haar en sorg nie vir sy kinders nie. Ek het so jammer vir haar gevoel toe sy my daarvan vertel.

Sy wil hom graag los, maar hy wil haar nie uitlos nie.

Ek wou hom al in sy tjops gaan skop, maar sy het my gekeer.

Ek kan nie glo hy doen dit aan haar nie, want sy is ’n lieflike mens.

Die way hoe ek oor haar voel, sal ek haar met kinders en ál vat.

Ons ken mekaar nou al twee maande en ek weet sommer sy is die een vir my.

Hoe kan ek haar oortuig om hierdie luisgat te los en by my in te trek? Verlief, WhatsApp

Whooaa! Hokaai! Stop vir eers jou liefdeslorrie wat met so ’n vaart wegtrek.

Julle ken mekaar glad nie vetterig nie en hoef nie nóú al sak en pak in te trek nie – nie terwyl daar nog soveel is­sues in die lug hang nie.

En die grootste van hierdie issues is haar kinders se pa wat so sleg soos wat hy mag wees, altyd in die prentjie gaan wees – oor die kinders.

As sy hierdie man nie meer wil hê nie, moet sy die verhouding beëindig en ’n beskermingsbevel teen hom kry as hy dreigend is.

Hierdie ou kan groot nonsens in albei van julle se lewe veroorsaak wat die romanse glad nie so lekker sal maak nie.

Eerstens sal hierdie meisie moet weet wat sy in die lewe wil hê en of sy jou tans nie net sien as iemand teenoor wie sy haar lot kan bekla nie.

Dis nie so maklik om pa te speel vir iemand anders se kinders nie. Nie oor jy nie die biological pa is nie, maar oor ál die drama wat uit so ’n situasie kan ontstaan.

Jy sal baie mooi en diep moet besin voordat jy jou kop ná net twee maande in hierdie byenes wil druk. Hier sal jy met jou kop, en nie jou hart nie, moet dink.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters