Verlede maand
Een aandjie se slegwees kan my huwelik opneuk
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

NÁ 25 jaar se huwelik het ek die grootste fout begaan.

Elke oomblik dat ek daaraan dink, skaam ek my so.

My 30ste skoolreünie het so pas my huwelik opgeneuk.

Antie, ek het saam met my skoolmaats gekuier en gedrink – dop vir dop.

Ek wou nie wys ek is ’n muis nie, maar die Saterdagoggend vind ek myself in die bed van ’n dame wat ek op skool laas gesien het.

Eerlikwaar, ek weet nie hoe ek daar beland het of wat daar gebeur het nie.

Maar wat ek wel weet, is dat nie een van ons twee klere aan­gehad het nie.

Antie, ek het spore gemaak so gou ek kon voordat sy wakker word.

Antie, 17 jaar gelede het ek opgehou drink weens my drankprobleem. Nou het een aand se trots my huwelik gekos.

Ek is ’n slegte, slegte mens. My hart breek om te dink wat ek aan so ’n wonderlike vrou gedoen het wat dit glad nie verdien nie.

Antie, ek is so lief vir my vrou. Hoe gaan ek haar ooit kan sê? Dit gaan haar breek. Ek was nie so ’n slegte mens nie.

Hoe gaan ek ooit hierdie kan regmaak, Antie? - Diep Spyt, e-pos

Antie gaan kliphard probeer om nie nog verder sout in jou wonde te vryf nie. Dit klink asof jy alreeds kliphard besig is om jouself hieroor pak te gee.

Maar jy moet jouself pak gee, want jy het ’n groot, groot fout begaan.

Die een benefit van ouer raak, is die wete dat jy ’n meer volwasse benadering tot die lewe het.

Daar is sommige mense wat eenvoudig nooit hul kinderagtigheid laat staan nie, maar die majority van ons raak groot en besef dat die dinge wat ons in die fleur van ons lewe aangevang het, moet daar bly.

Nóg ’n ding wat jy leer hoe ouer jy raak, is dat jy niemand op dié aarde hoef te impress nie. Hoe ouer jy raak, hoe meer behoort jy te realise dat die rol van die crowd favourite iets is wat jy nie hoef te speel nie.

Die drank kan ook nie die skuld hier kry nie, want as grootmens is jy mos verantwoordelik vir jou dade – met of sonder die invloed van alkohol.

Die een groot voordeel, hoewel dit nie nou so mag voel nie, is jou gewete wat so aan jou knaag. Want dit maak seer om te dink hoe seer jou optrede jou vrou gaan maak. Vir my sê dit jy is nie ’n gevoellose, koue hubby wat niks daarvan dink om jou vrou te verneuk nie.

Die ander vrou is in alle waarskynlikheid ook getroud en het seker al haarself voorgeneem om nie haar man hiervan te vertel nie.

Maar een ding wat jy vir seker moet onthou, is dat die waarheid altyd met ’n style uitkom.

En wanneer dit gewoonlik gebeur, is die gevolge soveel erger as wat dit sou wees as jy self oop kaarte met jou vrou gespeel het.

Hierdie is egter ’n besluit wat slegs jy kan neem. Niemand het immers vir jou kers vasgehou of jou ontie vir jou uitgetrek nie.

Dit was jy en dus is jy ál een wat kan besluit wat jou volgende stap gaan wees. Die bal is in jou hande. Bal en nie ballas nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters