3 dae gelede
Dogter wil absoluut niks van my weet nie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MET groot blydskap het ek dié jaar te hore gekom dat ek ’n dogter het.

Antie, ons het as ’n klomp skoolvriende saam gebraai. My eks-verloofde van 15 jaar gelede, wat op my uitgestap en spoorloos verdwyn het, was saam met haar man en jong dogter ook daar. Wat ’n onaangename besigheid.

Nietemin, gedurende die aand nadat almal ’n paar drankies ingehad het, laat val sy toe dat haar dogter uiteindelik nou haar pa ontmoet het.

Daai was ’n groot skok en ek het haar dadelik gepeper met die vrae. Sy het toe mooi besef als is nou op die lappe. Soos gewoonlik het sy dadelik probeer sê dis ’n grap, ensovoorts.

Maar Antie, ek het aangehou vrae vra en ná ’n groot gesukkel het ons bloedtoetse laat doen – nadat ek haar ouers ook betrokke gekry het.

En ja, Antie, dis my kind en sy is 14 en ’n half jaar oud.

My dilemma is dié – my dogter wil my nie ken nie en wil niks van my weet nie.

Haar ma het haar so vol gif gestop oor my, met geen waarheid aan dit wat sy sê nie.

Antie, ek het nou baiekeer probeer, maar my kind weier om met my te praat of te luister na wat ek haar wil verduidelik.

Ouma en Oupa kan ook nie eens deurdring nie. My eks help ook niks nie. Sy bly lieg.

Antie, ek het ’n liefde vir my kind, wat ek nooit geweet het bestaan nie. Ek wil so graag ’n pa vir haar wees. Daar is soveel wat ek saam met haar wil doen en plekke wat ek haar wil wys.

Ek het so baie tyd verloor. Elke minuut is kosbaar!

Hoe kan my kind my nie wil ken nie? Ek probeer so hard, Antie, maar haar familie wil nie help nie.

My prokureur kan ook nie veel doen nie, want die saak is moeilik en sy dra nie my van nie.

Vandag se kinders het ook mos ’n groter sê oor hul lewe. Ek wil my kind ken ek wil deel wees van haar lewe. Ek wil haar wys wie ek is en nie dit wat sy gehoor het nie.

Maar sy wil my nie eens ’n kans gee nie. Ek het vir haar ’n nuwe foon gekoop wat sy ook nie wil hê nie.

Antie, ek wil nie haar liefde koop nie. Ek wil net graag die pa wees wat sy verdien.

Sy is my enigste kind. ’n Droom wat waar geword het.

Ek sal als opgee vir haar as sy my net ’n kans wil gee. – Hartseer Pa, e-pos

Hoe sê hulle nou weer? As die voggies vloei, dan vloei die waarheid ook oor die lippe.

Jou eks-verloofde is seker nou diep spyt dat sy daai partytjie bygewoon het.

Dan sou haar geheim nog ’n geheim gewees het en jou biologiese dogter sou salig onbewus van jou bestaan gewees het. Tot haar (die eks) se benefit en tot jou verlies.

Jy wat vir meer as 14 jaar onbewus daarvan was dat daar iewers in dié wêreld van jou eie vlees en bloed rondloop – en julle was nie van mekaar se bestaan bewus nie.

Hierdie was natuurlik ’n groot skok vir jou. Kan jy jou indink watter skok dit ook vir jou tienerdogter moes gewees het?

Die mat van haar hele existence is onder haar uitgetrek. Die mense in haar lewe wat sedert babatjietyd daar was, het nooit oop kaarte met haar gespeel nie.

En toe bars die bom: Sy het ’n dêdda wat sy van g’n kant af ken nie. ’n Daddy wat nou in haar lewe wil wees, maar wat niks anders as ’n stranger vir haar is nie.

Niemand kan jou blameer oor jou hunkering om jou eie vlees en bloed te leer ken nie. As jy selfs nou terugdink, het jy altyd die feeling gekry dat iets in jou lewe missing was en nou weet jy dat dit al die tyd hierdie kind van jou was.

Maar so gretig én geregtig as wat jy daarop is om jou kind beter te leer ken, moet jy daarteen waak om te veel druk op haar te sit.

Daar is ’n helse klomp goed wat sy moet verwerk en een so iets is die gedagte dat haar hele lewe ’n leuen is en dat mense wat sy vertrou het, vir haar gelieg het.

Kan jy dink watter enorme ding hierdie is vir ’n blote kind om te probeer verwerk?

Dis nie dat sy jou nie in haar lewe wíl allow nie. Sy kán nie. Nie nou, met ál die vrae in haar mind wat sy self eers moet uitfigure nie.

Gee haar eers space om haar kop agtermekaar te kry. Moenie aandring om tyd saam met haar deur te bring nie, al is dit hóé moeilik en elke vesel in jou liggaam skree na die band tussen julle.

Laat haar weet jy gee haar haar space, maar dat jy daar is die dag wanneer sy jou nodig het en antwoorde soek.

Moenie worry nie. Daar is ’n nuuskierigheid in haar oor haar werklike pa en sy gaan jou eendag uit haar eie kontak, want sy sal wil weet wie die ander deel van die puzzle is wat haar verwek het.

Geduld moet nou jou wagwoord wees. Maklik gaan dit nie wees nie, maar die dag dat jy jou kind beter gaan leer ken, sál aanbreek!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters