23 dae gelede
‘Dierbare man’ bedrieg my ná my man sterf
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET twee jaar gelede my man aan die dood afgestaan.

Dis was ’n baie groot slag vir my, want hy was my staatmaker en steunpilaar.

Dit was vir my moeilik sonder hom. Daar was dae dat ek nie eens myself uit die bed uit kon kry nie.

Maar, soos wat tyd aangestap het, het genesing gekom. So ook die tweede kans op geluk.

Of so het ek gedink. Vir F het ek so ’n jaar na my man se afsterwe ontmoet.

’n Mutual vriendin het ons aan mekaar voorgestel.

F was aan die begin dierbaar en ’n regte gentleman. Hy was geskei – so het hy aan my en my vriendin gesê.

Ons het begin uitgaan vir koffie en ek het hom laat verstaan dat ek nie op soek is na iets ernstigs nie. Ek kon hom nie meer as vriendskap bied nie. Hy was baie ondersteunend en het gesê hy verstaan.

Ons het mekaar seker so 3 maande geken, toe nader hy my met ’n saketransaksie. Hy het geweet dat my man my ’n redelike bedrag geld agtergelaat het.

Ek het hom gesê dat ek nie iemand vir besigheid is nie en dat my man se boedel nog nie afgehandel is nie.

Antie, ek het daar en dan gesien hoe sy gesig verander, maar het dit afgeskryf aan teleurstelling.

Toe leen hy by my om self die saketransaksie te beklink. Meer as R50 000 van my eie geld het ek hom gegee.

Hy is daarmee weg dat hy nou nog weg is. Selfs die vriendin het nie geweet waar en hoe om hom op te spoor nie. Met ’n groot gesukkel het ek toe uitgevind dat hy in die Elsies bly – met sy vrou en kinders.

Die man was toe al die tyd nie geskei nie.

Hoe meer ek gekrap het, hoe meer het ek besef daar is nog heelwat ander vroue wat hy só ingeloop het.

Ek het hom gekontak en hy het groot geskrik toe hy hoor dis ek. Nou wil die man te kenne gee dat ek die storie opmaak.

Volgens hom was die R50 000 deel van geld wat my man hom geskuld het.

Maar ek weet vir ’n feit dat hulle mekaar van g’n kant af geken het nie. Die man lieg soos ’n tandetrekker en dan is hy nog ’n groot kerkman ook.

Ek kan nie glo dat ek so simpel was om vir sy liegstories te val nie.

Ek wou hom kleineisehof toe sleep, maar is meegedeel dat die kleineisehof nie met sulke groot bedrae deal nie.Moedeloos, e-pos

Dit is ongelukkig so dat die kleineisehof nie sake hanteer waarin daar bedrae hoër as R20 000 ter sprake is nie.

Jy sal dus ’n lawyer moet aanstel en hierdie man moet dagvaar vir die geld wat hy jou skuld.

En dit alles kan jou aan die einde nóg ’n klompie geld uit die sak jaag – iets wat hierdie plastiek-kerkman natuurlik weet.

Hy het jou en vele ander ’n kop aangesit, wetend dat die lang arm van die gereg hom net teen ’n hoë prys sal inhaal.

Dit gesê, dit beteken natuurlik nie dat jy hom net so moet los en toelaat dat hy met sy gekonkel wegkom nie.

Hierdie man en sy joyride met weduwees en ander moet tot ’n einde kom.

Kyk bietjie of jy van sy ander victims in die hande kan kry. Dalk as julle saam ’n regsaksie loods en saam by kan gooi om die regskostes te dek, kan hierdie jong finally sy dag van rekenskap kry.

Hopelik slaag jy daarin om die ander te oortuig om aan so iets deel te neem.

Liewe Antie Mona

MY OU het nie naweke tyd vir my en ons kind nie.

Hy kom Vrydae by die huis, was en trek aan, klim dan in sy kar en ry. Ek word nie gesê waarheen hy gaan nie. Sondagaande kom hy eers terug. Sy phone is die hele naweek af en hy sê net hy was by sy tjommies.

Ons stry dan heelweek hieroor – net sodat hy weer dieselfde doen. – Gatvol Meisie, SMS

Klink vir my asof hierdie ou van jou weekends op special is – by sy vriende, of dalk selfs iemand anders wat in jou slaai krap.

Meisa, as hierdie ou nie eens oor ’n naweek die decency het om te bel om te hoor of julle orrait is nie, is daar groot fout.

Die tyd het aangebreek vir jou om te besluit of dit die moeite werd is om slegs in ’n week verhouding te wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters