Verlede maand
Buurvrou gee vir my wat vroulief nie kan
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK WEET nie hoe om die ding tussen my en my buurvrou te stop nie.

Ons gaan uitgevang word, maar nie een van ons twee wil ophou nie.

Meer as ’n jaar gelede het ons net gekliek omdat haar man baiemaal weg van die huis af werk.

Ek help haar dan met takies om die huis.

My vrou werk vir ’n groot maatskappy en moet ver ry om by ál haar take uit te kom. Dan is sy maar moeg by die huis en slaap meestal naweke om.

Tyd vir my is daar nie. Ek is basies die ma en pa van die huis. So ook D, my buurvrou.

Ons het eendag aan die gesels geraak en tot die besef gekom dat ons albei eintlik maar baie eensaam is en afgeskeep word.

D grap toe dat ons maar mekaar kan vat; dat ons partners nie sal agterkom nie, want hulle is te besig of te moeg.

Daar was sommer dadelik ’n ander vibe tussen ons en voordat ek my kon kry, was ons in mekaar se arms.

Tot dusver kon ons nog alles geheim hou. My gewete het verskriklik aan my gevreet, maar ek het tot die besef gekom dat ek ook mos die reg op geluk het.

Antie, D is heeltemal die opposite van my vrou. Sy is vriendelik, gee om en luister graag.

Verder maak sy die lekkerste kosse en weet hoe om ’n man in die bed te bederf.

By my vrou is dit elke dag winter, die way hoe sy kan koud kry. Soveel so dat sy nie eens wil kaal lê as ons seks het nie.

Ek is nou op daai punt in my lewe waar die buurvrou my gelukkig maak. Ons praat al van ’n toekoms saam, maar is bang oor die effek wat dit op die kinders gaan hê.

Dink Antie ons het ’n toekoms saam? Sal dinge vir ons kan uitwerk? Gelukkige Buurman, e-pos

Ai, hoekom moet jy dan nou vir Antie by jul dinge betrek? So asof ek skelmpies kers vashou vir julle.

Goeie dinge kan net uit ’n verhouding kom wat op die regte fondasie gebou is.

Jul fondasie is egbreuk en dit is net daar dat alles wat julle doen, in die boek van als wat verkeerd is, opgeskryf kan word.

Dit gaan nie hier oor hoe eensaam of afgeskeep julle voel nie, maar oor die feit dat albei van julle getroud is.

Dit gaan nie eens hier oor jou vrou wat volgens jou g’n ander seisoen as winter ken nie.

Die winters wat julle in jul partners en kinders se lewe saai, gaan soveel meer skade aanrig.

Die regte ding om te doen, sou wees om wat julle ook al pla, met jul partners te bespreek. Of om ’n einde aan jul huwelike te maak eerder as om in die geheim mekaar so te bespring.

Wanneer die bom gaan bars, gaan daar mense seerkry.

Die lekkerte wat julle nou proe, gaan groot pyn vir ander bring.

Liewe Antie Mona

EK SIT met ’n man met die rondste van hande.

Hy help my net met niks in die huis nie. Ek moet hom soebat vir als.

Vuil borde, sokkies, klere ... alles los hy net so rond. As ek met hom hieroor praat, vertel hy my dat hy nie ’n kind is nie en vra dan waarvoor hy met my getrou het.

Ek is so gatvol.

Daar is dae dat dit voel ek kan hom verwurg. K van CF, SMS

So, hy wil te kenne gee hy het met jou getrou sodat jy agter hom kan opruim? Amper so asof jy sy eie, personal domestic is met sy trouring aan jou vinger?

Vroutjie, jy hoef glad nie hierdie man se slordigheid te entertain nie.

As hy nie agter homself wil skoonmaak nie, is dit tyd dat jy die goed net so los. Laat hy maar vir ’n slag in die stank van sy eie vuil sokkies krepeer.

Ongelukkig is die nadeel van ’n plan soos hierdie dat die res van die huisgesin ook hieronder sal ly.

Praat weer met hom. Praat – nie skel nie. Probeer om saam ’n lysie van verantwoordelikhede in en rondom die huis saam te stel.

Include die kinders ook, sodat jy van kleins af by hulle ’n verantwoordelikheidsin kan kweek.

As pa moet hy die voorbeeld stel en ook sy deel doen om die kinders hierdie leefstyl aan te leer. Hopelik kan jy op dié manier ontslae raak van sy morsjors-gedagtes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters