19 dae gelede
Baby daddy hou my nou al tien jaar aan lyntjie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my ou is volgende maand al langer as 10 jaar verloof.

Antie, ek is al te skaam om vir die mense te sê hoe lank ek al wag om aan trou te kom.

Almal het al vergeet van die 2010 World Cup in Suid-Afrika. Dit was die jaar toe RG propose het.

Jaar ná jaar het die man verskonings. As dit nie is dat hy spaar vir ’n rugoperasie nie, is dit nou Covid, want nou kan al die mense wat hy wil nooi nie kom nie.

Antie, ek is al so moeg. Ons het drie kinders saam en bly in ’n skewe wendy agter in sy ma se jaart.

Die man wil eenvoudig nie trek nie. Hy is die meeste van die tyd binne by sy ma terwyl ons maar in die wendy moet sit.

Ek en sy ma kom nie oor die weg nie, want my kinders word nie soos die res van haar kleinkinders getreat nie.

My kinders is volgens haar onmanierlik terwyl die ander rêrig onbeskofte kleinkinders soos engeltjies getreat en bederf word.

Ek is nie gelukkig nie en het dit vir RG gesê. Maar hy sê hy trek nêrens heen nie, want die huis gaan eendag syne wees.

Dít terwyl sy ander broers en suster al dieselfde ding in hul dronkenskap gesê het.

Daar is baie dae dat ek voel die man mors net my tyd. Gatvol, WhatsApp

Vrou, moet jy dan eers wag tot Shakira weer “Waka Waka” in ons land kom sing voordat julle voor die kansel gaan staan?

Nee kyk, niemand kan jou blame as jou verloofring al soos ’n ornament aan jou vinger voel nie.

Rugoperasies is duur. Teen die tyd dat hy klaar gespaar is, is ander rûe seker al op special by Pep te koop. En Covid is glad nie ’n verskoning oor hoekom julle nie nou kan trou nie.

In fact, Covid-19 is die perfekte verskoning om net ’n klein, intieme troue kan hou. Niemand hoef te weet dit gaan oor geld nie en die meeste mense sal verstaan dat die huidige pandemie baie troureëlings beïnvloed.

Antie kan ook nie sien hoekom julle in sy ma se jaart moet bly nie – en dit oor ’n huis wat duidelik baie stryery gaan veroorsaak wanneer daai antie die dag nie meer daar is nie.

Nee wat, dié man het nou lank genoeg jou geduld beproef.

Dit is tyd dat jy plak vasmaak, jou voet neersit en daarop aandring om nie langer getreat te word soos een of ander lay-bye wat net nie afgehaal word nie.

As hy nie tot ’n troupunt wil kom nie, sal jy die relationship moet heroorweeg.

Trou is nie ’n be­huisingswaglys waar jy jare op die waiting list moet sit nie.

Liewe Antie Mona

EK HET ’n baie stupid ding aangevang deur my tjommie se vrou te seks.

Dit was so ’n maand terug toe hy getiep het.

Ek kuier gereeld by hulle en die ou vat nie baie nie, dan moet hy gaan lê.

Ek en sy vrou het ’n ding aangehad voordat hulle getrou het. Dit was nie ernstig nie, maar in die laaste tyd het ek en sy baie gesels oor die ou dae.

En toe gebeur dit.

Ek is single en het op niemand gecheat nie. But ek voel sleg vir my vriend se part, want hy is ’n baie nice ou wat my ook al baie uitgehelp het.

Ek kan die ou nou nie in die oë kyk nie.

Hy het my al genooi vir nog ’n braai, but ek maak maar verskonings.

Sy vrou hou ook dik dat ek moet uitsteek, maar ek bly maar eers weg.

Antie, ons was albei lekker dronk, maar ek weet dit is nie ’n verskoning vir wat ek gedoen het nie. – Diep Spyt, WhatsApp

Jy weet natuurlik wat rym met braai, nè? Verraai. Antie hoop nie jy het aan enigiets anders gedink nie want dis wat jy gedoen het: jy het jou vriendskap verraai.

En ja, soos jy tereg sê, drank is nie iets wat julle twee as verskoning kan gebruik nie.

Dit klink asof sy vrou nog diep belustig agter jou aan is. Die een positiewe ding is dat jy opreg spyt klink en enige soortgelyke gebeurtenis probeer vermy.

Dit is ’n goeie ding dat jy jou en daai los gulp van jou weg van die vrou probeer hou.

Hoe lank jy egter hieroor gaan stilbly, is ’n ander saak. Die ding gaan jou gewete so ry dat jy teenoor jou vriend sal moet bely.

Dit is natuurlik ook ’n ander saak oor wat so ’n onthulling vir jul vriendskap en vir sy huwelik sal beteken.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters