28 dae gelede
Abusive eksman kom steeds met alles weg
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET Antie se hulp dringend nodig. Ek weet nie meer wat om te doen nie.

Ek was vir 10 jaar getroud met ’n vroueslaner. Ons het twee kinders saam.

Ek het besluit om te skei en dis nou al twee jaar later. Hy is 49 en ek is 36 jaar oud. Ons was 16 jaar saam.

My gewese man wil my nie met rus laat nie. Hy vloek en skel my nog net soos vantevore en ja, ek het ’n interdik en ’n inhegtenis­nemingsbevel teen hom uitgeneem, maar dit keer hom nie om my te verneder of aan te rand nie.

Dit raak net ál erger. Ek gaan met elke insident polisiestasie toe, toon my bewyse, lê nuwe klagte, maar dit skrik hom nie af nie.

Met elke klag wat ek teen hom open, word hy vir die naweek in die aanhouding­selle gestop. Maandag kom hy voor in die hof, sonder my, kry bail en loop dan vry rond. Dit is al ’n roetine.

Sy familie staan bankvas agter hom – dieselfde mense wat weet en gesien het hoe hy my mishandel. Ek word dan beskinder en verwens as ek hom laat toesluit.

Die polisie help niks. Hulle sê solank hulle hom optel en toegesluit het, is dit nie hulle probleem as die magistraat bail toestaan nie. Klink dit regverdig?

Beteken my gesinsgewelddokumente dan niks? Toe ek vir die polisiebeampte sê ek voel al om die man uit te wis, sê hy dan sal ek straight tronk toe gaan.

So, vroue mag maar mishandel word en net aanvaar, want tree jy as vrou op deur ook geweld te gebruik, word jy in die tronk gestop.

My kinders is so deurmekaar.

My seun is 17 jaar oud en hy voel hy is my beskermer.

Hy het al met my gewese man baklei, omdat my eksman my arm breek geslaan het in nog een van sy aanvalle op my.

My dogter is ’n wrak. Sy kan nie verstaan dat haar pa so vieslik is teenoor my nie. Sy verpes hom.

Hy pose in die strate met verskillende vroue, maar hy kan my nie uitlos nie.

Die oomblik as hy hoor ek het iemand in my lewe, kom rumoer hy met my en my kêrel.

Hy dreig ons en stuur dan vies­like boodskappe aan ons. Dis mos nie normaal nie.

Ek behoort mos nie aan hom nie. Hy het my so erg mishandel dat ek al by twee geleenthede wou selfmoord pleeg.

Ek mag nie aangaan met my lewe nie. Ek moet sy kinders sit en grootmaak terwyl hy pronk met sy meisies.

As hy hoor ek is nie by die huis nie, stuur hy lelike boodskappe en sê ek is ’n slegte ma. Hy is nou kwaad vir ons dogter omdat sy toelaat dat ek date.

Hy het haar nou van sy mediese fonds afgehaal en hy vloek en skel haar uit as hy haar êrens raakloop.

Hy sê hy het haar afgeskryf en dat hy nie meer lief is vir haar nie.

Hy en die seun praat totaal nie meer met mekaar nie.

Noudat ek iemand sien, twee jaar ná die egskeiding, voel my gewese man hy wil als wat nog in die huis is wat hy gekoop het, terug hê of hy gaan my en my kêrel nie aflos nie.

Die polisie sê hulle kan hom nie arresteer oor die boodskappe nie, want wie sê dis hy wat dit stuur.

Maar my interdik toon duidelik dat hy my nie mag vloek, skel of selfs dreig nie.

Watter kant toe, Antie? Wat kan ek doen? – Desperaat, WhatsApp

Jirre. My bors is nou omtrént warm.

Antie het lanklaas so ’n sleg etter soos jou eksman teëgekom.

Maar etter kan hulle bly, want die system allow hulle om hiermee weg te kom. Verder is sy familie al skeel van hulle blind staar teen sy foute.

Die regstelsel faal jou. Die polisie faal jou. Almal wil net van slagoffers soos jy gedagte kry wanneer dit 16 dae van aktivisme is.

Vir die res van die jaar vergeet almal conveniently van die kruis wat jy jare ná jou abusive huwelik steeds moet dra.

Wel, no more. Hierdie werf-etter moet ’n les geleer word. Een waar hy toegekap behoort te word.

Reik uit na hierdie organisasies: People Opposing Women Abuse (Powa) by 011 642 4345, Famsa by 021 447 7951 en die Tears Foun­dation by *134*7355#. Laat dié organisasies begin om jou battle saam met jou te fight.

Antie hou duim vas dat jou eks nog lank voor Valentynsdag rég vasgevat gaan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters