Verlede maand
Early B verras met stoute musiekvideo en album
Early B se musiekvideo vir Ben Ten het gedrop.  ~ Foto verskaf

Die bekroonde kletsrymer, Early B, is nie net veelsydig in sy aanslag nie, maar het ook die vermoë om luisteraars se emosies te prikkel – of dit nou is met sy vlymskerp humor of sielvolle sosiale kommentaar.

Sy debuutalbum, Aangename Kennis, word vandag amptelik bekendgestel.

Om stories te vertel in Afrikaans, met ’n unieke PE-kletsrymaanslag, is die hoofdoel van Early B se eerste CD wat met agtien oorspronklike werke spog – wat almal uit sy eie pen kom.

“Daar is iets vir almal om mee te vereenselwig. Liedjies wat mense sal laat lag, inspireer en motiveer. Ek het snitte gekies wat verskillende musiekstyle met kletsrym kombineer, ’n sterk boodskap dra, mense aanspoor om pret te hê en stories vertel, wat soos ’n kortfilm in die geestesoog moet afspeel,” verklap die musikant.

Ben Ten, die tweede enkelsnitvrystelling vanaf sy debuutalbum is ’n lekker stoute liedjie met ’n opgewekte funk-kletsrym-wysie wat viervoet in jou kop vassteek. Dit is baie goed ontvang en kan reeds op al wat radiostasie is gehoor word.

“Ben Ten is ’n term wat ons in PE gebruik vir ’n man wat daarvan hou om met vroue uit te gaan wat baie ouer is as hy. Ek het die liedjie self geskryf met die doel om ’n storie te vertel wat aanhangers sal laat glimlag en saamsing,” vertel hy.

“Dit gaan oor ’n ou wat by sy vriendin gaan kuier, wat ewe skielik nie meer by haar ma bly nie, en dan besef dat die antie oë het vir hom. Wat verder gebeur, word in die res van die snit verklap en sal almal lekker laat giggel.”

Die musiekvideo vir hierdie treffer word ook vandag amptelik bekendgestel en gaan jou nie net laat skater van die lag nie, maar jou ook nooi om saam te dans op die maat van hierdie voetjeuklekker snit.

Gerhard van Rooyen is die regisseur van hierdie prettige tong-in-die-kies-video wat in die minder bekende hoekies van Pretville afspeel.

“In die video vertel Early B vir sy vriende van ’n komiese situasie waarin hy homself bevind met een van sy vriendinne se ma,” vertel Gerhard.

“Hy wou by die vriendin gaan kuier en haar ma het hom welkom geheet en ’n glas vrugtesap aangebied. Terwyl sy kombuis toe is, besef hy dat alles nie heeltemal pluis is nie en stuur ’n boodskap om te hoor waar sy is. Die meisie antwoord toe dat sy nie meer daar bly nie en in Johannesburg studeer... en wanneer die tannie terugkom begin sy hom ’n bietjie in ’n hoek druk.”

Daar is ook ’n paar lekker danspassies in die video ingewerk wat kykers sommer maklik kan aanleer en die vervaardigingspan hoop dat dit sommer gou sal opduik by al wat ’n klub of danspartytjie is.

Early B, oftewel Earl Swartz, is ’n bekroonde kletrymer wat nie net veelsydig in sy aanslag nie, maar het ook die vermoë om luisteraars se emosies te prikkel – of dit nou is met sy vlymskerp humor of sielvolle sosiale kommentaar.

Die kunstenaar (29) het, oor die afgelope nege jaar, ’n gereelde gesig geword by van die land se grootste feeste en konserte, soos die KKNK.

Hy het ook al saam met groot name in die bedryf gewerk, waaronder die Grammy-bekroonde musiekvervaardiger, Darryl Torr, en plaaslike talent soos Emo Adams, HemelBesem en Pierre Rossouw.

Hy is veral bekend vir sy treffer, Cerebellum, wat nie net aan hom ’n Ghoema-toekenning besorg het vir Beste Hip-Hop-liedjie in 2017 nie, maar ook verskeie weke bo-aan die kletsrymtreffersparades van verskeie groot radiostasies gepronk het.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, vervaardig en bemark hy ook sy eie musiekvideo’s wat al deur meer as 400 000 aanhangers gekyk en afgelaai is op YouTube.

Die kletsprater spog met ’n diploma in Film- en Televisievervaardiging wat baie handig te pas kom vir hierdie doeleindes en hom ook ’n rol besorg het in die plaaslik-vervaardige televiereeks, Hotel Songololo. Hy was ook te sien in die SABC 2-reeks, Kniediep in Kookwater.

Lys van snitte op die album
1.    Intro   
2.    Ben Ten         
3.    Filters
4.    Blesser
5.    Potte (met Jack Parow)  
6.    Bid vir pouse
7.    Friendzone
8.    Duk vir Drugs  
9.    As Ek Geweet Het (met Emo Adams)
10.    Jy Maak Eyes  
11.    Plat Badge
12.    Watch Wat Julle Praat   
13.    Amen
14.    In Pas  
15.    Wikkel Hulle
16.    Cerebellum  
17.    Ken Jou Waarde (met ADAM)   
18.    PE

Koop die album hier op iTunes

Volg Early B op:
•    Facebook
•    Twitter
•    Instagram
•    Webblad
•    YouTube
•    Reverbnation


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters