25 dae gelede
Zenlee voel gou iets is nie pluis by Luke se unit
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet nou die sewende hoofstuk!

ZENLEE stap met swaaiende heupe deur die glasdeure. Ná haar ontmoeting met Mabuza gisteraand het sy haar besluit geneem.

Sy is al van vyfuur vanoggend aan die gang. Eers moes sy ekstra verlof insit en byna ? volle preek van Kaptein aanhoor.

Daarna moes sy die leuen oortuigend speel en haar vriendin as ’n verwysing gee.

Gelukkig kom sy en Bianca al ? aantal jare aan en het dié presies geweet wat om te sê toe Kaptein bel. Haar verlof is goedgekeur en Kaptein is tevrede.

Solank hy onder die indruk verkeer dat sy tyd neem om van ’n gebroke hart te herstel.

Sy moes omtrent versigtig werk om data oor Luke se eenheid te kry. Gelukkig het sy die nuwe hoof se naam onder Luke se verwysings gevind.

Haar blik fokus op die swartkopvrou agter die toonbank. Sy trek haar skouers agteroor en pyl op die vrou af.

“Goeiemôre, dame, ek is hier om vir Bryan Cupido te sien.”

Die swartkop lig haar oë en kyk met ’n uitdrukkinglose gesig na Zenlee.”

“Het u ’n afspraak met meneer Cupido?”

“Kan jy hom asseblief verwittig dat inspekteur Lodewyk hier is om hom te sien?”

Daarna draai Zenlee haar rug op die vrou. Dis ’n ou taktiek wat sy by Kaptein geleer het.

Sy spits haar ore en hoor hoe die vrou se vingers oor die klawerbord tokkel. Zenlee glimlag tevrede.

“Meneer Cupido, hier is ’n inspekteur Lodewyk om u te sien. Mag ek haar deurstuur?”

Sy lig ’n koel blik na Zee.

“U kan maar deurstap. Dis die laaste deur aan die einde van die gang.”

Zenlee knik en stap presies soos die vrou beduie het.

Voor die laaste deur neem sy ’n oomblik om haar reg te ruk. Dan lig sy haar hand en klop.

“Binne,” sê ’n diep stem aan die ander kant. Sy draai die deurknop en stap binne.

Bryan Cupido se oë is vasgenael op haar gesig toe die deur oopswaai.

Sy merk ’n flikkering in sy oë terwyl sy blik tydsaam oor haar beweeg.

’n Vae glimlag roer om sy mond toe hy hom uit die stoel lig en om die lessenaar stap. Hy steek sy een hand uit.

“Inspekteur Lodewyk, wat ’n voorreg om u te ontmoet.”

Bryan Cupido staar diep in haar oë terwyl hy na die naaste stoel beduie. “Sit gerus.”

“Dankie, en bly te kenne,” sê Zenlee voordat sy haar sitplek inneem. Die glimlag huiwer nog steeds op sy gesig toe hy oorkant haar plaasneem.

“Waarmee kan ek help?”

Haar blik beweeg tydsaam deur die netjiese vertrek voordat sy reguit na hom kyk.

“Ek soek inligting oor Luke Stanfield. Kaptein Bruintjies het my na u verwys.”

“Watter tipe inligting?”

“Persoonlike inligting soos sy adres, huidige kontaknommer, ensovoorts.”

“Mag ek vra waarom u die inligting soek?”

Sy verbleek merkbaar, maar behou oogkontak terwyl ’n vae vermoede in Bryan se brein registreer.

“Ek het al probeer om hom op my eie op te spoor, maar soos u weet, is dit onmoontlik. Ek kry geen vorige inligting oor Luke nie behalwe sy tydlyn as ’n konstabel in Port Elizabeth.

“Soos u weet, was dit jare gelede en die woonadres in Cradock behoort nie meer aan die Stanfields nie.”

“U beantwoord nie die vraag nie.”

“Om persoonlike redes,” sê sy kortaf.

“Dan kan ek u ongelukkig nie help nie. As hy nie direk betrokke is by ’n misdaad of deel uitmaak van ’n ondersoek nie, is ek nie by magte om persoonlike inligting te deel nie.

“Diskresie is hoofprioriteit hier by ons eenheid. Betroubare inligting soos dít is net gereserveer vir lede en hul familie binne die eenheid.”

“Luke is vermis en ek het nie ’n idee wat van hom geword het nie,” sê Zenlee oorstuur.

“Daar is ’n groot verskil tussen iemand wat vermis is en iemand wat nie gevind wil wees nie.

“Ons lede verdwyn gereeld agter die skerms. Dan word daar na hulle as spoke verwys.

“Wat gee u die idee dat Luke Stanfield vermis is?”

Zenlee se brein werk oortyd.

Sy gaan haarself in die moeilikheid bring as sy persoonlike details oor hul verhouding openbaar.

Mabuza is reg.

Hier is iets fishy aan die gang. Bryan Cupido gaan haar nie help nie, daarom kom sy op haar voete.

“Die selfoonnommer wat hy destyds gebruik het, bestaan nie meer nie.

“Ek wou bloot sy insae hê op ’n saak waaraan ek werk,” verander sy van deuntjie.

“Dalk kan ek van hulp wees?”

“Ek twyfel, maar dankie vir die aanbod.”

Sy is al op pad deur toe toe sy woorde haar terugruk.

“Moenie oorhaastig optree deur ’n helpende hand die deur te wys nie. Jy weet nooit wanneer jy dit gaan nodig kry nie.

“Kan ek jou advies gee? Luke Stanfield is nie ’n man by wie jy betrokke wil raak nie.

“Alles waaraan hy raak, gaan tot niet, verdwyn of sterf selfs.”

Daar het ’n koue in sy blik gekruip, sy kakebene skielik styf op mekaar getrek.

“Ek vat my kanse soos dit kom,” sê Zenlee en gee hom ’n vernie­tigende kyk voordat sy by die deur uitwals.

Bryan Cupido staar met skrefiesoë na die deur, dan pluk hy sy selfoon uit sy hempsak en skakel ’n nommer.

“Brent, los alles waarmee jy besig is. Ek het ’n nuwe opdrag vir jou …”

Zenlee stap met afgemete treë die gang af. Bryan Cupido het so pas ’n subtiele dreigement gemaak.

Hoe durf hy? Toe sy verby die toonbank stoom, kyk die swartkop nuuskierig na haar.

Zee steek vas toe ’n gedagte haar tref. Dis byna etenstyd. Sy glimlag vriendelik toe sy weer voor die knorrige vrou staan.

“Jammer om u weer lastig te val, maar ek het ’n groot nood. Kan u my dalk aanwysings na die badkamer gee?”

Terwyl die vrou beduie, swiep Zenlee se oë deur die ontvangs­lokaal. Sy merk op dat daar aan die regterkant twee gange uit die portaal lei.

Sy bedank die vrou. Toe sy die badkamerdeur agter haar toemaak, het sy ’n plan van aksie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters