Verlede maand
Zenlee kan nie glo sy het op 'n killer verlief geraak nie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet nou die agste hoofstuk!

OP DIE kop 13:00 sluip Zenlee uit haar skuilplek. Die toonbank staan verlate en onbeman toe sy haar weg na die eerste gang vind.

“Kan ek u help, Dame?”

Zenlee steek vas. Langs haar het ’n sekuriteitsbeampte verskyn.

“Dis my eerste dag en ek is effens verdwaal.”

Sy beduie vaag met haar hand.

“Is dit die roete na die administratiewe afdeling?”

Sy hoop die ou glo haar leuen.

“U moet twee vloere op. Kan ek u help na die hysbak?” vra hy simpatiek.

“Ek sal regkom, dankie.”

Zenlee beweeg na die hysbak. Op die tweede vloer klim sy stadig uit terwyl haar blik oor die area beweeg.

Sy hoop van harte die sekuriteitsbeampte bly op die grondvloer.

Haar blik beweeg na die bordjie by die ingangsportaal.

Onder “Administratiewe Afdeling” pronk die prent van ’n see­rower met ’n oogklap en hoed. Die Pirates se kenteken.

Sy vind ’n deur aan die punt van die gang en woel versigtig aan die knop. Sy sug verlig toe die deur oop gaan.

Sy loer vir oulaas oor haar skouer voordat sy by die vertrek inglip.

Dan bevind sy haar in ’n groterige kantoor.

By die groot bruin lessenaar steek sy vas en pluk die eerste laai oop.

Daarin vind sy geen dokumente nie. Sy weet nie presies waarna sy soek nie. Al wat sy weet, is dat hier iewers in die gebou inligting oor Luke versteek lê.

Sy beweeg na die naaste kas en pluk die deur oop. In die kas kom sy op houers af.

Sy vroetel in die eerste houer en pluk ’n paar dokumente uit. Haar oë beweeg vinnig daaroor.

Dis meestal inligting uit dossiere wat alreeds afgehandel is.

Sy gooi dit terug en pluk die tweede kas oop. Daarin lê min of meer dieselfde inhoud.

Toe sy aan die laaste kas se deur pluk, besef sy dis gesluit.

Sy ruk woes aan die deur totdat die slot uiteindelik meegee. Sy loer weer oor haar skouer.

Binne-in vind sy ongemerkte lêers. Haar hande bewe toe sy die eerste lêer oopmaak.

Daarin vind sy die profieldata van ’n Michael Benson. Onder sy naam staan daar in vetgedrukte letters. TEIKEN 167 – L. STANFIELD.

Haar hartklop versnel. Terwyl sy daardeur blaai, val twee foto’s op die vloer.

Sy buk en tel dit versigtig op. Die eerste foto is van ’n donkerkopman wat op sy selfoon praat voor een van die nuutste Audi’s.

Hy is duidelik onbewus daarvan dat hy afgeneem word. Toe sy die tweede foto lig, rek haar oë soos pierings. Dieselfde man staan nou met drie ander mans op ’n gholfbaan.

Sy herken Luke se swartkop tussen die res.

Hy staan met sy een hand in sy broeksak, sy kop skuins gedraai. Haar oë beweeg verder af totdat sy die adres van Michael Benson vind.

“Gekry waarna jy soek?”

Die lêer tref die grond met ’n slag. Op die deur se drumpel staan Bryan Cupido met moord in sy blik.

“Nie heeltemal nie. Dalk kan jy van hulp wees aangesien jy vroeër aangebied het,” herwin Zee haar momentum. Haar hart klop egter woes in haar bors.

Bryan beweeg soos ’n roofdier op haar af totdat hy haar teen die kas vaskeer. Sy donker oë boor in hare.

“Jy saal die verkeerde perd op, Inspekteur. Ek gee jou presies tien sekondes om uit die vertrek te kom en minder as ’n minuut om die gebou te verlaat.

“Waag dit om ooit weer jou voete hier te sit en jy sal dit berou.”

“Ek laat my nie dreig nie. Jy kan my dalk hier binne verhinder om na Luke te soek, maar aan die buitekant het jy geen gesag nie,” hou Zee dapper vol, maar skuif nogtans uit sy pad.

Toe sy die deur haal, draai sy om.

“Vir mans soos jy skrik ek nie. Jy is niks anders as ’n selfsugtige buffel nie.”

Toe hy dreigend nader staan, beweeg sy uit die vertrek.

Haar hartklop bedaar effens toe sy die hysbak bereik. Dinge kon vandag baie lelik uitgedraai het.

Boonop het Kaptein nie ’n idee waar sy haar bevind nie.

As hy moet uitvind sy sluip soos ’n spioen in die Pirates se gebou rond, slag hy haar af. Sy wag nou op Cupido se volgende skuif.

Dit was ’n goeie besluit om Kaptein se naam te noem, anders was sy bokveld toe.

Sy sidder as sy dink aan die koelbloedige kyk in Cupido se oë.

Sy is nie bang vir sy tipe nie. Wat sy egter vrees, is die manier hoe hy na haar gekyk het.

Bryan se houding herinner haar aan Luke. Die eerste dag van hulle ontmoeting was dit ook daar.

Hy straal dieselfde tipe gesag uit. Dis die koue, afwesige kyk wat sy soms in Luke se oë gewaar het wat sy in Cupido s’n gesien het.

Hoekom sy nou die fyner details onthou, spruit uit die inligting oor Michael­ Benson.

Was sy dan so verblind deur die liefde dat sy nie krake in Luke se karakter kon sien nie?

Toe sy die veiligheid van haar motor bereik, tref dit haar skielik – die Pirates is ’n spul moordenaars.

Mense wat opgelei word om ander uit te wis. Luke se eenheid tree onder ’n dekmantel op.

Daar is natuurlik ander betrokke en die SAPD word bloot net as ’n front voorgehou. Die man wat sy liefhet, staan aan die voorpunt van die bedrog en moorde.

Die data van Michael Benson bevestig dit.

Dit maak dan ook sin hoekom Kobus Myburgh reg aan die begin vermoor is. Invloedryke mans verkoop aandele in hulle maatskappye aan sekere rolspelers totdat hulle die meerderheid besit en dan word die ouens vermoor.

Sy het op ’n koelbloedige moordenaar verlief geraak. ’n Man sonder ’n vaste adres.

Dis hoekom Mabuza gevra het dat sy wegstap. Hoe baklei jy vir ’n koelbloedige moordenaar?

Nou moet sy arme moeder die prys betaal. Die trane stroom oor haar wange. Zenlee ruk haar eers heelwat later reg.

Mabuza se woorde maal deur haar gedagtes: “Jy is te naïef vir dié werk, Zee.”

Haar oë verhard. Luke Stanfield kan ’n huurmoordenaar wees, maar hy skuld haar nog steeds antwoorde.

  • Mabuza se nagklub is volgende op haar lys, maar eers moet sy verklee en seker maak dat niemand haar agtervolg nie.Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters