Verlede maand
Zenlee is jaloers dat Mabuza so baie van Luke weet
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet nou die derde hoofstuk!

‘MABUZA, wat de duiwel soek jy hier?”

Sy laat die pistool stadig sak.

“Zee, is dít nou die manier om ’n ou vriend te groet? Dis ek wat gebel het, my skat.”

“Jy beantwoord nog nie my vraag nie,” sê Zenlee koud.

“Ek het nuus oor Luke. Dis belangrik dat jy my glo, Zee. Anders hou ek die inligting terug.”

Zenlee skud haar kop heen en weer.

“Ai, my darling, vat jy my nog steeds nie kop toe nie?”

Zee vervies haar. “Ek het nie tyd vir speletjies nie.”

’n Frons verskyn tussen haar wenkbroue toe ’n gedagte haar tref. Sy is met een tree vlak voor hom en druk haar vinger in sy gesig.

“As ek uitvind jy het iets met Luke se verdwyning te doen ... Ek sweer ek maak jou vrek!” sis sy.

’n Sagte laggie ontsnap uit Mabuza se keel.

Hy neem haar vinger in sy hand en druk dit ’n paar sekondes teen sy lippe voordat Zee haar hand wegruk.

“Jy was nog altyd ’n kwaai katjie.

“Pasop vir dié tipe dreigemente, ek kan jou in die tjoekie sit.

Ek het nie ’n rede om Luke leed aan te doen nie. Ek en Luke is ou buddies. Jy weet mos ek is ’n informant vir die Pirates.”

“Hoekom kry ek die gevoel jy soek iets in ruil vir die inligting, Mabuza?”

Zenlee besef sy moet haar houding drasties verander, maar terselfdertyd waaksaam bly.

Mabuza is ’n gladde kalant en het konneksies met verskeie rolspelers in die misdaadwêreld. Van die bendes op die Kaapse Vlakte tot by die politici in die parlement.

“Kom ek en jy vat ’n walk, my darling. Jy gee mos nie om vir ’n romantiese stroll down the beach nie?”

Zenlee skud haar kop verontwaardig, maar laat haar tog aan die hand lei. In die verte flikker die stadsliggies helder voor Tafelberg.

Hulle stap die eerste paar sekondes in ’n ongemaklike stilte voordat Mabuza praat.

“Ek en Luke kom ’n aantal jare aan. ’n Man soos hy het ’n ou in my lyn van business nodig.”

“En watse business is dit?” wil Zenlee sarkasties weet.

“Ag, kom nou, Zee, you know I don’t kiss and tell. Ek wil jou net ’n history lesson gee.”

“Ek het nie daarvoor gekom nie. Kom tot by die punt, Mabuza.”

“Ek het Luke ontmoet toe die Pirates my oor Demingo genader het,” sê hy.

Zee se oë rek.

“Demingo ... die reeksmoordenaar?”

“Die einste.”

“Ek was ’n groentjie toe ek die eerste keer van hom hoor. Hy het destyds ’n skrikbewind in die Kaap gevoer.”

“Het jy geweet Luke was verantwoordelik vir sy inhegtenisneming?”

Die bloed stol in Zee se are.

“Dink jy hý sit agter Luke se verdwyning? En hoekom sou jy info oor ’n reeksmoordenaar hê?”

“Want Demingo is my halfbroer,” antwoord hy stomp.

“Slaan my dood met ’n nat snoek!” sê Zee verstom.

“Soms dink ek jy is hopeloos te naïef vir dié werk. Jou instinkte kan wel goed wees, maar jou mensekennis laat jou baie in die steek, my skat.”

Zee snork deur haar neus.

“Jy ken my sleg, Mabuza.”

“Ja, ek weet jou reputasie loop jou vooruit. Jy het al baie sake opgelos. Tog is daar ’n onskuld aan jou wat my bekommerd maak, Zee. Dis hoekom ek ...” Hy bly stil.

“Dis hoekom jy wát?”

“Never mind, kom ons fokus op Luke. Demingo is ’n week ná jou verlof op parool vrygelaat.”

“Dink jy hy is verantwoordelik vir Luke se verdwyning?” vra sy.

Mabuza se volgende woorde laat dit voel asof iemand ’n emmer koue water op haar kop omkeer: “Luke se ma het verdwyn.”

Luke het ’n ma wat leef. Hoe ironies dat sy dit só moet uitvind.

Mabuza weet meer oor haar geliefde Luke as sy, dink sy jaloers. Eintlik moet sy Luke haat en nie omgee wat van hom word nie.

Zenlee staar ’n oomblik oor die donker waters.

“Hoekom ’n nota los en sê ek moenie na hom soek nie? Hoekom moes hy ons verhouding op so ’n manier beëindig?

“Ek kon hom gehelp het om haar op te spoor. Dit maak nie sin dat hy sommer net so in die niet verdwyn het nie.

“Maar hier dra jy kennis van sy doen en late en ek weet niks.”

Toe tref ’n ander gedagte haar. “Weet Kaptein hiervan?”

“Hy behoort teen dié tyd kennis te dra. Die ontvoerders het Luke duidelike instruksies gegee.

“Dis hoekom als tot dusver stil gehou is. Jy weet self wat gebeur wanneer die polisie betrokke raak.

“Boonop sou die koerante die storie beetkry en dan sterf sy nog voordat hy haar kan red. Maar ’n week is al verby en nog niemand het hom gekontak nie.

“Dis hoekom hy my hulp ingeroep het.”

Zenlee kyk verras na hom.

“Waar is hy?”

“Hy is in die Oos-Kaap. Dis al info wat ek jou mag gee.

“Die soektog duur voort en hy weier om die polisie se hulp te vra.

“Die Pirates wou blykbaar nie betrokke raak nie. Luke bly voor­lopig op die plaas totdat hy haar opspoor.

“Hy vermoed sy ma word naby sy tuisdorp aangehou.”

“Watter plaas?”

“Die plaas waar sy ouers woon.”

“Het Luke op ’n plaas grootgeword?”

“Ek weet nie, Zee. Moet asseblief nie probeer kontak maak nie. Luke is in ’n donker plek.

“Hy laat niemand naby hom toe nie. Ek hoop ek kan jou vertrou met dié inligting: Hy het my gekontak vir wapens.

“Sodra hy ’n deurbraak maak, gaan hy haar red met of sonder die polisie se hulp. Ek het aangebied om hom te help met ’n bietjie mannekrag, maar hy’t geweier.”

“Wil hy die ontvoerders man- alleen aandurf?”

“Ja, en as jy Luke beter geken het, sou jou simpatie by die ontvoerders lê. Ek voel amper jammer vir die spul.

“Luke Stanfield is nie ’n man met wie jy mors nie. Nou het die wetters sy ma gevat. Hulle beter hoop sy leef en is onaangeraak.”

“Het Luke ooit na my gevra?”

“Nee. Jammer, Zee.”

Sy is veronderstel om kwaad te wees, maar al wat oorbly, is die kloppende sweer wat dreig om oop te bars. Sy troos haar daaraan dat sy ten minste ’n idee het waar hy hom bevind.

“Ek gaan Oos-Kaap toe,” sê Zenlee skielik met ’n hart wat bons.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters