Verlede maand
Zenlee besluit sy gaan Kaptein nie van die wenk sê
 ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet die tweede hoofstuk!

ZENLEE hou haar lyf dun agter die lessenaar toe sy drie van haar kollegas in aantog sien.

Sy het eenvoudig nie lus vir mense nie.

Dit is nou wel ’n rukkie sedert sy terug is by die werk, maar tog voel sy nie lus vir sinnelose praatjies nie.

Teen dié tyd gons die hele gebou seker oor haar wat soos ’n graatjie lyk.

Sou die ander uitgevind het oor Luke?

Nie dat sy werklik omgee nie. Sy sien net nie kans vir die bejammerende blikke of vals simpatie nie.

Sy kies eerder om op haar eie aan te ploeter.

“Môre, Zee.”

Dis die voorbarige konstabeltjie wat die toonbank beman.

Hier by die Groenpunt Polisiestasie is almal soos een groot familie en spreek mekaar informeel aan.

Die ander twee beamptes vermy egter haar blik toe sy reguit in hulle rigting kyk.

Sy sal haar eenvoudig moet regruk.

Sy moet erken dat sy die plek gemis het. Veral die oggendkoffie met Kaptein en die span.

Sy weet hy koester ’n spesiale plekkie vir haar.

Kaptein Willy en sy vrou, San­dra, is haar tweede ouers.

Sy het reeds vroeg in haar lewe haar ouers verloor en haar ouma het haar grootgemaak.

Ná haar ouma se heengaan het Kaptein se woning ’n tweede tuiste geword.

Toe hulle enigste seun ná sy troue besluit het om na Gauteng te verhuis, het sy die rol van ’n huiskind in die Bruintjies-woning vervul.

Sy het hier en daar familielede met wie sy nie werklik ’n verhouding het nie.

Dis op Kaptein Willy se skouer waar sy haar hart uithuil.

Sy moes hom eenvoudig bel nadat sy die nota van Luke ontdek het.

“Kom huis toe, Zee.

“Jy het mense wat jou liefhet,” sê hy toe.

Sy onthou nie juis veel van die rit tussen Langebaan en die Kaap nie.

Ook nie hoe sy Kaptein se huis bereik het nie.

Hy het haar doodeenvoudig in sy arms toegevou toe sy op die deur se drumpel knak.

Dis nou byna ’n week gelede en steeds het sy geen idee wat van Luke geword het nie.

Sy skuif die dossier op haar lessenaar nader en skuif dit weer agteruit.

Haar kop raas. Niks maak meer sin nie.

“Moenie krap waar dit nie jeuk nie, Zenlee.

“As Luke nie gevind wil wees nie, moet jy dit daar laat.”

Kaptein Willy sal nie verstaan nie. Hoe kan hy?

Vir haar het dit belangrik geword om hom te vind.

Luke Stanfield skuld haar antwoorde.

Die gelui van die werktelefoon laat haar ergerlik daarna gryp.

“Sersant Lodewyk.”

’n Stilte volg. Daarna hoor sy duidelik die persoon se asemhaling aan die ander kant.

“Zenlee.”

Sy snak na asem.

“Luke?”

“Nee, dis nie Luke nie, maar ek het inligting oor hom.”

Die knop wat in haar keel vorm, laat stol die woorde in haar mond.

“Ontmoet my vanaand by Lagoon Beach.

“Dis uiters belangrik dat ons praat.”

Toe word die verbinding plotseling verbreek.

Zenlee blaas stadig haar asem uit.

Hoekom klink die persoon se stem so bekend?

Sy ken nie die angstige vrou waarin sy verander het nie.

Nog minder is sy vertroud met die emosies wat haar enige oomblik van die dag oorval.

Voor haar ontmoeting met Luke was sy ’n hardegat speurder wie se naam haar vooruit loop.

Sy sal haar doodeenvoudig moet regruk.

Moet sy Kaptein hiervan verwittig of moet sy self die leidraad opvolg?

Dis nie ’n saak waaraan sy werk nie. So, hy het nie nodig om daarvan te weet nie ...

Sy ploeg weer in die stoel neer.

Sy sal haar volgende stap noukeurig moet beplan.

Toe sy Kaptein Willy­ ­’n halfuur later groet, kan sy hom beswaarlik in die oë kyk.

Dis toe sy die Ford se neus in die rigting van Milnerton stuur dat sy besef sy het reeds haar besluit geneem.

Hoe sy die persoon gaan eien, weet sy nie.

Die persoon ken haar op die naam. Hy sal dus natuurlik weet hoe sy lyk.

Wat as dit wel Luke is? Wat dan?

Skielik voel sy eenvoudig te moeg en irrasioneel om aan ’n plan te dink.

Die wete dat sy steeds vir Luke lief is, verhoog haar angstigheid.

Wat as iemand hom gedwing het om die nota te skryf?

Sy gryp na strooihalms en weet Luke is nie ’n man wat hom laat voorskryf nie.

Tog het ’n mens nie ’n keuse wanneer die dood jou in die gesig staar nie.

Dit is wat sy haarself op hierdie tydstip wysmaak – dat Luke haar onder dwang verlaat het.

Dis ál verduide­liking wat haar rasioneel hou.

Doen ’n vrou sulke goed wanneer sy aan die laaste bietjie hoop kleef?

Soek sy verskonings vir Luke se gedrag?

Is dit nie maar wat die meeste vroue doen wanneer hulle iemand liefhet nie?

Die reuk van seelug slaan teen haar gesig vas toe sy uit die motor klim.

Dit prikkel herinneringe van haar en Luke.

Sy voel vlugtig na die pistool aan haar sy voordat sy met bewerige bene oor die parkeerarea begin stap.

’n Geluid aan haar regterkant laat haar hand vinnig na die pistool sak.

Haar rug voel skielik stokstyf toe sy bewus word van iemand se teenwoordigheid langs haar in die donker.

“Moenie beweeg nie,” sê ’n stem skielik.

Haar bewerige bene laat haar in elk geval nie toe om ’n voet te verroer nie.

Sy lig ongemerk die pistool uit sy plek.

Toe die man in die dowwe ligskynsel verskyn, skrik sy haar boeglam.

Herkenning flits in haar oë terwyl hy met ? grynslag na haar staar.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters