3 maande gelede
Zelna vermoed haar creepy man hou haar dop
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n splinternuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit “Keerpunt”. Dit gaan oor Zelna, wat haar in ’n ongelukkige huwelik met Charlton bevind. Lekker lees!

ZELNA wonder hoe sy deur hierdie dag gaan kom.

Sy het ’n paar belangrike afsprake en sy kan nie bekostig om een daarvan te skuif of te kanselleer nie.

Sy moet maar net die beste van ’n slegte saak maak, hoewel sy weer ’n nag van min slaap agter die rug het.

Veral haar afspraak met die 40-jarige aktrise Olga Eybers mag sy nie misloop nie.

Die wulpse Olga is gereeld in die nuus oor haar voorliefde vir jonger mans.

Sy voel nie 100% nie, maar sy moet tot elke prys ’n manier vind om Olga te oortuig om die kooptransaksie te beklink.

Die kommissie sal baie vir haar banksaldo beteken.

Sy gaan staan voor die venster en trek die gordyn oop.

Die wind woed steeds, maar die reën het darem uiteindelik sy ry gekry.

Daarvoor is sy dankbaar.

As eiendomsagent haat sy dit om ’n huis vir ’n voornemende koper te gaan wys waar die omgewing nat en modderig is.

Zelna dwing haarself tot in die badkamer.

Sy kyk in die spieël en hou nie van wat sy sien nie.

Die donker kringe onder haar oë laat haar oud en onaantreklik lyk.

Sy sal dit met grimering moet bedek, anders vind Charlton daarmee ook fout wanneer hy terugkeer van sy sakebesoek.

Charlton is haar man, met wie sy 11 maande gelede in die huwelik getree het.

Die man teen wie haar ma haar gewaarsku het.

Haar ma se woorde is nog vars in haar geheue: “Hoor wat ek vandag vir jou sê, my kind. Charlton is nie die regte man vir jou nie.

“Ek kan deur hom sien. Hy maak jou net gerus voordat hy sy ware kleure wys.

“Maar al gebeur wat, my deur sal altyd oop wees vir jou.”

Haar ma was reg, maar sy was te hardkoppig.

Nou sit sy met die sak patats.

Maar sy hoop elke dag haar man sal verander.

Charlton is met niks tevrede nie, al probeer sy hoe hard om hom gelukkig te hou.

Hy sê sy is vet. Hy’t ’n oefenprogram aanbeveel en hy verwag van haar om dit getrou te volg.

Sy stem nie daarmee saam nie, want sy is beslis nie oorgewig nie. Tog wil sy hom nie kwaad maak nie.

Hy het al ’n paar keer sy hand gelig om haar te klap, maar dit weer laat sak.

Hoe lank nog voordat hy haar wel te lyf gaan?

Charlton sê hy is lief vir haar, maar sy is nie meer so seker nie.

Hy vertrou haar dan nie. Hy hou ál haar bewegings dop.

As iemand haar ’n boodskap in sy teenwoordigheid stuur, wil hy weet van wie dit is.

Hy gun haar net mooi geen privaatheid nie.

En Charlton skryf ook voor watter klere sy moet aantrek werk toe en verbied haar om met man­like kliënte vriendelik te wees.

Soms voel sy so ongemaklik dat sy wonder of hy nie dalk iemand aangestel het om haar bedags op ’n afstand dop te hou nie.

Aan die begin het sy gedink die jaloesie en besitlikheid sal vinnig oorwaai, maar deesdae raak dit erger.

Volgende maand sal hulle presies ’n jaar getroud wees, maar van kinders wil hy niks weet nie.

“Ons hoef nie haastig te wees met kinders nie. Daar is nog genoeg tyd.”

Met daardie woorde het hy haar gedwing om voorbehoeding te gebruik.

Terwyl sy water in die bad tap, dink sy aan die tye dat sy te moeg was vir intimiteit, maar hoe Charlton haar gedwing het om haar huweliksplig na te kom.

Hy sal niks daarvan dink om sy hand onder haar nagrok in te druk en haar onderklere met geweld af te ruk nie.

Solank hy net bevrediging kan kry, is daar niks anders wat hy met haar te doen het nie.

As hy genoeg gehad het, sal hy sy rug op haar keer asof sy nie bestaan nie.

Sy laat hom elke keer begaan, want sy’t iewers gelees ’n vrou moet te alle tye onderdanig wees aan haar man.

Hy het haar verbied om ooit hulle huwelik met enigiemand te bespreek.

Hy dink natuurlik aan die knou wat sy reputasie as direkteur van ’n versekeringsmaatskappy kan kry as sy vieslike gedrag op die lappe sou kom.

Zelna besef sy kan maar ophou om haarself ’n rat voor die oë te draai.

Hoeveel winters het sy nie al deur erger storms as gisteraand s’n geslaap nie?

Dis haar vrees dat Charlton sou bel en sy nie sou antwoord nie wat haar verhoed het om te slaap.

Sy kan dit maar erken: Sy is doodbang vir haar eggenoot.

Zelna is klaar aangetrek toe haar selfoon lui. Sy antwoord dadelik.

Dis Angelique, haar kollega. “Zelna, ek het slegte nuus. Olga Eybers sal nie julle afspraak kan nakom nie.

“Sy lê in ICU in die Mediclinic in Bellville. Haar kêrel het haar aangerand.”

Zelna word yskoud. Laat tele­visiepersoonlikhede ook toe dat mans aan hulle slaan?

Sy staar woordeloos voor haar uit.

Met ’n skok besef sy dat hierdie die keerpunt in haar huwelik is.

Sy moet wegkom van Charlton Matthews terwyl sy nog die kans het. Môre, oormôre is dit dalk te laat.

Sy haas haar terug slaapkamer toe en pak vinnig klere in ’n tas.

“My deur sal altyd oop wees vir jou,” onthou sy haar ma se woorde.

Sy besluit sy sal soontoe gaan en haar ma alles vertel.

Daarna wil sy ’n skeiprokureur gaan sien.

Charlton sal dit nie waag om naby haar ouerhuis te kom nie.

Hy weet haar ma hou nie van hom nie.

Met die tas in haar hand loop sy tot voor die yskas.

Haar keel is kurkdroog. Sy haal ’n bottel koue water uit en skink daarvan in ’n glas.

Terwyl sy sluk, hoor sy ’n sleutel in die slot knars.

Die voordeur swaai oop en Charlton kom fluit-fluit ingestap.

Hy sien die tas en sy glimlag verander in ’n koue uitdrukking.

Die glas val uit Zelna se hand en spat in stukkies op die teëlvloer.

’n Lamheid kom sit in haar lyf.

Wat maak Charlton hier?

Sy het gedink hy kom eers laatmiddag terug.

“En dít? Is jy van plan om my te verlaat?” vra Charlton bars.

Hy kom nader, steek sy arm uit en vou sy hand stewig om Zelna se keel ...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters