19 dae gelede
Zee vermoed sy het uitgefigure wie die killer is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Zenlee Lodewyk is ’n vrouespeurder wat ’n grusame moord ondersoek. Baie dinge maak nie vir haar sin nie. Aanvanklik is sy vies vir haar bevelvoerder en meen die saak word op haar afgepak. Kobus Myburgh se killers was duidelik op soek na iets. Maar wat ..? Geniet nou hoofstuk 3 van GWENDOLINE KORDOM se Die Dood het sy Prys.

LUKE se oë rus ondersoekend op die vrou voor hy sê: “Ek dink u moet by die begin begin.”

“Kobus het as ? verkoopsman vir Dougie die motorhandelaar kom werk. Dis hoe Lana hom leer ken het. Oom Dougie was haar pa.

“Long story short, oom Dougie sterf en los sy besighede en besittings aan haar, sy enigste kind. Kobus was ’n uitstekende verkoopsman en was ’n aanwins vir die besigheid.

“Hy het daarop aangedring dat hulle onmiddellik ná haar pa se dood trou. Dinge was hunky-dory aan die begin ... totdat sy ware kleure begin wys het.

“Laatnag-kuiers met vriende het later buite-egtelike verhoudings geword. Lana het gereeld met potblou oë die slegste van die konfrontasies afgekom.

“Sy wou nie Jean se lewe ontwrig nie, so, skei was nie ’n opsie nie.

“Twee jaar gelede vind sy uit hy is nie net betrokke by misdaad nie, maar sy aandeel in die besigheid behoort nou aan ’n sekere meneer Mabuza. Dis glo ’n BEE-ding.”

Zee se kop ruk by die aanhoor van die naam.

“Mabuza is die grootste druglord in die noordelike voorstede,” sê Zee aan Luke.

Hoeveel kere het sy al sake teen hom ondersoek, maar die bewyse was net nooit genoeg nie. Getuies het ook skielik verdwyn.

Die man word met baie sakemense verbind en spog gereeld hy is ’n legit businessman. Hy het hom deeglik ingewurm – van die smerigste nagklubs in Bellville tot die grootste kerk in Brackenfell.

“Ek weet wie Mabuza is. Ons praat later daaroor,” sê hy en kyk na Jessica. “Gaan voort, asseblief.”

“Sê maar ’n week gelede kom Kobus met ’n geseëlde bruin koevert by die huis aan. Hy dring daarop aan dat Lana dit op ’n veilige plek bêre. Sy wou nie, maar het later ingestem en dit gedoen.”

“Het sy jou in haar vertroue geneem oor waar sy dit versteek het?”

“Nee, sy sou my dalk op ’n dag sê. Daar was vrees in haar oë die laaste keer toe ek haar gesien het. Sy het genoem as iets met haar gebeur, moet ek na Jean omsien.”

Daar is skielik ’n blinkerigheid in haar oë. Zee druk haar saggies aan die skouer.

“Ek sal alles in my vermoë doen om Lana op te spoor. Na aanleiding van dit wat jy nou vertel het, glo ek Mabuza sit agter die ontvoering van en moord op jou swaer.”

“Natuurlik, wie anders sou baat vind by Kobus se dood?”

Zee sien ’n beweging uit die hoek van haar oog. ’n Skraal seun kom staan in die deurraam. Hy staar woordeloos deur sy swart raambril na hulle. Langs haar kom Jessica op haar voete.

“Jean, die twee ondersoekbeamptes wil met jou gesels.”

Hy beweeg traag in hulle rigting. Sy oë rus op Zee voordat hy op die bank neersak.

Zee voel hoe haar hart uitgaan na die kind wat in een dag albei ouers verloor het. Om so skielik op jou eie te wees moet moeilik wees vir ’n kind van sy ouderdom.

Sy hou die seun dop terwyl Luke dieselfde vrae herhaal. Die donkerblou jeans en duifgrys trui sit netjies aan sy lyf. Agter die dik lense lê onsekerheid en vrees.

“Ek kan aan niemand dink wat my ouers sou wou seermaak nie.”

Sy stem is dun, sy hande inmekaar gestrengel op sy skoot. Alles wat hy sê, staan al in die dossier.

“Sal u omgee as ek weer na die toneel kyk?”

Jessica knik.

“Kry my hier wanneer jy klaar is,” sê Luke toe sy wegstap.

Sy vind maklik die hoofslaapkamer aan die einde van die gang. Die moordtoneel lyk ooglopend.

Die inhoud van die klerekas lê op die grond gestrooi. Die laaie is uitgepluk en byna uitmekaar gehaal. Sy is seker Myburgh was betrokke by iets wat tot sy dood gelei het.

Dieselfde toneel begroet haar in die badkamer. Sy beweeg terug en hurk aan albei kante van die dubbelbed. Bloedspatsels kleef aan die mat.

Sy pluk latex-handskoene uit haar hemp se bosak en trek dit oor haar vingers. Gebukkend voel sy versigtig onder die bed.

Ná ? paar minute kom sy op haar voete.

Lana spring in haar gedagtes. Die arme vrou moet in ’n toestand wees. Wie weet of sy nog lewe?

Dis tyd dat hulle Mabuza se bewegings dophou. Dié keer sal sy hom kry.

Haar hand gly oor iets onder die bed. Sy sak haar kop. Tussen die mat se hare steek iets vas. Sy hark dit met haar vingers nader.

In haar palm lê ’n metaalring – dié wat ’n mens aan sleutels haak. Sy glip dit in haar hempsak.

Sy kom op haar voete en neem een laaste kyk deur die vertrek voordat sy by die deur uitstap.

Toe sy in die sitkamer kom, is Luke op sy voete. Sy blik is op Zee terwyl Jessica verlore in sy oë staar.

“Laat weet gerus indien daar enige nuus is.” Sy knip haar wimpers dramaties. Luke knik en wink met sy kop na die deur.

Zee skud haar kop en kyk na Jean wat die toneeltjie met ’n uitdrukkinglose gesig sit en betrag.

Dan volg sy Luke na buite. Toe sy vir oulaas oor haar skouer kyk, sit en kyk Jean nog vir haar.

Die hartseer in die kind se oë breek haar hart.

Sy is diep ingedagte toe sy langs Luke in die kar klim. Dan voel Zee sy oë op haar. Hy dink seker sy het vergeet van vroeër.

“In die vervolg doen jy ’n deeglike briefing voordat ons verdagtes ondervra sodat daar besluit word wie in charge is,” bars sy los.

Hy pluk sy oë van die pad en staar vir ’n oomblik na haar voordat hy weer sy blik by die pad bepaal.

“Jy kan nie net hier inwals en maak soos jy lus voel nie. Ons moet saamwerk.

“Mabuza is ons hoofverdagte. Ek gaan reël dat manne hom dophou.

“Intussen sal ek vuurmaak onder forensies. Hulle moes teen dié tyd al iets op die motorbande gekry het. Ek hoop ons verstaan mekaar.”

Sy kyk na hom, maar kry geen reaksie nie.

Die res van die rit verloop in stilte. Voor die polisiestasie praat hy skielik.

“Ek dink ons het op die verkeerde voet weggespring. Ek is hier om te help en sal my volle samewerking gee, soos dit jou behaag, prinses Zee.” Die sarkasme is duidelik in sy stem.

Voordat hy nog iets kwytraak, klim sy uit. Haar gemoed is skielik so vol soos die Voëlvleidam ná ’n seisoen van goeie reën. Sy verstar in haar spoor toe Mabuza out of nowhere reguit op haar afpyl.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters