20 dae gelede
Zee skop vas teen ekstra hande in moordondersoek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Oe, dit lyk asof Gwennie sommer ’n lekker kortverhaal vir ons opgedis het. Geniet nou hoofstuk 2 van GWENDOLINE KORDOM se Die Dood het sy Prys.

‘BINNE.”

Die deur swaai oop onder haar hand. Haar oë haak vas op die onbekende donkerkopman in die stoel voor die bruin lessenaar.

Sy voel selfbewus na haar hare. Iets in sy houding laat die haartjies op haar arms orent skiet. Hulle oë ontmoet vir ’n vlietende oomblik.

“Jy is net betyds, Lodewyk. Laat ek jou voorstel. Dis Luke Stanfield van die spesiale eenheid teen geweld. En dit is inspekteur Zenlee Lodewyk.”

Die donkerkopman met die spierwit hemp en grys broek rys soos ’n koninklike vanuit die stoel. Sy oë is ondersoekend op haar voordat hy haar hand druk en terugsak in die stoel. Haar blik vind Bruintjies s’n. Hy skud sy kop en beduie sy moet sit.

“Jy kan maar begin, Lodewyk. Luke Stanfield is nou ’n lid van die ondersoekspan.”

Haar regterwenkbrou lig effens voordat sy haar bene kruis en die dossier op haar skoot oopmaak.

“Soos Sup weet, is die dossier eers gister aan my oorhandig.”

“Ek soek ’n plan van aksie, nie verskonings nie, Lodewyk.”

Zee voel hoe haar wange verkleur. Uit die hoek van haar oog voel sy Luke se oë op haar.

Hoekom voel haar mond skielik so droog, haar hande klam? Die man se teenwoordigheid ontsenu haar. Bruintjies maak keel skoon om haar aandag te trek.

“Ek het nog niks, Sup. Ek begin vandag met opvolg-onderhoude.

“Intussen wag ek op forensies vir die verslag. Ek sal stelselmatig elke leidraad nagaan totdat ek iets konkreets vind. Ek sal Sup op hoogte hou.”

“Ek soek jou 24 uur op die saak. Luke sal saam met jou werk sodat dinge vinniger verloop.”

Sy gluur sydelings na Luke.

“Ek is heeltemal in staat om self die saak op te los.”

“Niemand het jou opinie gevra nie. Dis so besluit en dis uit my hande. Al wat ek soek, is jou samewerking. Ons hardloop op ’n deadline.”

“Ek verkies meestal om op my eie te werk, so, dis ook ’n eerste vir my, juffrou Lodewyk.”

Sy diep stem vang haar onkant. Daar is ’n spottende trek om sy ferm mond. Wie is Luke Stanfield? En hoekom wil sy die uittartende glimlag van sy bakkies afvee?

Ná die vergadering is Zee eerste by die deur uit. Sy verwerdig haar nie eens om te kyk of Luke watsenaam agter haar aankom nie.

Hoekom is een van hulle eie manne nie afgestaan nie? Sy is reeds by die deur toe sy agterkom hy is lank nie meer agter haar nie.

Sy kyk oor haar skouer. Hy staan in die geselskap van ’n vrouekonstabel. Tipies!

Sy skud haar kop en storm by die trappe af. In haar haas trap sy die laaste trappie mis en slaan teen die grond neer. Vir ’n oomblik weet sy nie of sy kom of gaan nie.

“Ek hoop nie jy het harsingskudding opgedoen nie.”

Trane van vernedering brand in haar oë. Natuurlik sal die bliksem soos Superman uit die niet verskyn.

“Kan ek jou ophelp?”

Sy skud haar kop heen en weer. ’n Brandpyn skiet uit haar linkerknie. Sy byt op haar tande en sukkel op. Haar bene knak skielik. Sy sterk arms vang haar voordat sy weer die grond tref.

“Is jy seker jy is oukei?”

Sy beur met al haar krag orent.

“Ek makeer niks. My knieknop is nerfaf, maar ek sal oorleef.”

Haar romp is skeef. Sy gee nie ’n flenter om wat hy van haar dink nie. Hoeveel vernederings kan sy nog oorleef? Hy neem haar ferm aan die bo-arm en stap saam in die rigting van die parkeerterrein.

Die deure van ’n grys Megane sluit oop. Sy word sonder meer op die voorste sitplek neergeplak. Sy pluk haar arm uit sy ystergreep.

“Ek is nou terug,” sê hy.

Sy leun terug teen die sitplek en sluit haar oë vir ’n oomblik. Toe sy dit oopmaak, staan hy met ’n noodhulptassie langs haar.

“Dit is nie nodig nie. Ek sal fine wees.”

Hy ignoreer haar pleidooi en hurk. Met uiterste versigtigheid lig hy die soom tot bo haar knie.

Zee voel hoe die bloed na haar wange stoot. Sy vingerpunte stuur skokke deur haar lyf.

Hy het die wond ontsmet en met ’n pleister toegeplak. Die hoendervleis oor haar lyf verdwyn eers toe hy regop staan.

“Nou kan ons ry.” Haar keel is kurkdroog. Sy hand rus vir ’n oomblik op haar skouer voordat hy omstap na die bestuurderskant.

Die knop in haar maag gee eers skiet toe Luke die afdraai na Bell­ville neem.

Hulle ry deur ’n stil buurt in die noordelike deel van Bellville.

Die Myburgh-woning lyk nes enige ander voorstedelike huis.

Luke hou stil op die geplaveide oprit. Terwyl hulle uitklim, kyk Zee nuuskierig rond.

Die straat loop uit in die besige Bill Bezuidenhout-rylaan. Sy kyk na die ander huise. Genoeg oop ruimtes om ’n getaway car te parkeer ...

Luke staan al voor die houtdeur.

Sy laat vir oulaas haar oë ondersoekend oor die omgewing gaan voordat sy in sy rigting beweeg.

’n Frons ontsier sy aantreklike gelaat. Terwyl sy wonder wat hom die harnas in het, swaai die deur skielik oop.

Zee staar oopmond na die brunet met die skelrooi lippe. Haar volronde kurwes beur teen ’n stywe wit rok wat nie haar size is nie.

Die glimlag op haar gesig is onseker. Haar oë is rooi gehuil.

“Hallo. Ek neem aan julle is van die polisie? My naam is Jessica, vriendin van Lana Myburgh.”

Sy steek huiwerig ’n hand uit na Luke. Haar blik is skielik die ene bewondering.

“Luke Stanfield, en dis inspekteur Lodewyk.”

Hy beduie met sy kop na Zee. “Ons is hier oor die moord op Kobus Myburgh en natuurlik die verdwyning van Lana, sy vrou.”

Sy maak die deur wyer oop. Haar blik bly gefokus op Luke.

Zenlee skud haar kop in verwondering. Sy kon net sowel nie bestaan nie. Die man het duidelik ’n betowerende uitwerking op vroue. En hy neem oor asof sy nie bestaan nie. Sy moet later ’n ernstige gesprek met hom hê.

Hulle word deur die klein voorportaal gelei na ’n ruim sitkamer. Sonlig stroom deur ’n oop venster. Sy beduie met haar hand na die leerbanke.

“Sit asseblief. Jean sal hom nou by ons aansluit. Uit die aard van die saak is hy baie getraumatiseer. Ek vra dat jy dit kort en kragtig hou, uit respek vir sy pa se dood.

“Al was Kobus ’n monster bly hy sy pa. My arme vriendin het ’n swaar lewe onder hom gehad. Ek, vir een, is bly hy is dood.”

Hulle albei kyk verbaas na die vrou.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters