21 dae gelede
Zee se vakansie moet wag oor ’n fishy moordsaak
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandag af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Sy noem haar verhaal Die Dood het sy Prys. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE geluid van glas wat breek laat Kobus Myburgh in sy bed orent skiet.

Aan sy linkerkant wys die digitale horlosie op die bedkassie dis drie-uur.

Aan sy regterkant lê sy vrou, Lana.

Haar lang swart hare is uitgesprei oor die wit kussing.

Haar asemhaling is egalig soos iemand wat baie diep slaap.

Hy swaai sy bene oor die bed. Sy ore is ingestel op elke geluid in die huis.

Sy hart bokspring van vrees toe hy bewus word van voetstappe in die gang.

Die indringer is reeds in die huis. Wat staan hom te doen?

Enkele meters van sy kamerdeur af is daar iemand wat duidelik met wrede bedoelings dié tyd van die nag besoek aflê.

Hy moes die onwettige pistool by Joey gevat het.

Dis sy eie skuld. Hy kan niemand anders blameer as hy vanaand soos ’n hond vrek geskiet word nie. Mabuza speel nie.

Hy moes nooit die man bedrieg het nie.

Hy het ’n gesin. Hy moes sy vrou en laitie gepos het. Dis nou te laat.

Die lig van ’n flits word sigbaar onder die gleuf van sy kamerdeur.

Hy skuif stadig terug in sy posisie onder die duvet. Sluit sy oë net betyds.

Die deur kraak oop. Die spanning maak sy ledemate lam.

Naderende voetstappe laat die sweet oor sy hele lyf uitslaan.

Dan hoor hy die persoon se asemhaling hier digby hom.

Die reuk van tabak hang in sy neusgate.

En nog iets. ’n Skerp reuk wat sy asem wegslaan. Tyd vir dink is daar nie.

Sy oë vlieg oop. Sy hand skiet soos blits uit. Kry die ou in ’n wurggreep beet.

Hy snak na asem toe ’n skerp ding hom in die bors tref.

’n Tweede hou tref hom in die skouer.

Sy greep verslap. Hy vomeer bloed in sy keel.

Sy asem stol. Die angsgille van sy vrou breek deur die oggendstilte.

Hy probeer met sy laaste krag keer, maar val dan met oopgesperde oë terug teen die kussing ...

ZENLEE Lodewyk skud haar bruin skouerlengte-hare terug oor haar skouers terwyl sy deur die dossier blaai.

Sy byt ingedagte aan haar duimnael – ’n nare gewoonte wat sy van kleintyd af het. Op die laaste nippertjie word die saak aan haar oorhandig.

Haar bruin oë flits oor die foto’s van die moordtoneel. Ná ál haar jare as speurder maak bloed haar nie meer naar nie.

Maar dié toneel is grusaam. Die slagoffer se oë is oop.

Sy mond is gevorm asof hy vir oulaas iets wou sê.

Veelvuldige meswonde strek dwarsoor sy borskas. So baie bloed.

Die saak is al ’n dag oud en tot dusver is daar nog geen inhegtenisname vir dié koelbloedige moord nie.

Volgens die inligting is die slagoffer se vrou spoorloos, vermoedelik ontvoer.

Tot dusver is spoorafdrukke van die mat gelig. Afdrukke van motorbande is ook op die toneel ver­samel.

Die moordwapen is vermis. Aan die wonde lyk dit na ’n tipe jagmes.

Die DNS wat onder die slagoffer se naels gevind is, word deur ’n databasis gesit.

Na aanleiding van die inligting lyk dit asof meer as een persoon by die aanval betrokke was.

Forensics sal ’n verslag deurstuur sodra alle bewyse nagegaan is. Teen die slakkepas waarteen alles deesdae gaan, sal sy seker eers oor ’n week die verslag kry.

Die enigste getuie is die paartjie se 16-jarige seun wat hom ten tye van die aanval in sy kamer toegesluit het.

Hy is uit die aard van die saak getraumatiseer, maar gelukkig ongedeerd gevind.

Volgens sy verklaring het sy ma se gille hom wakker gemaak.

Uit vrees vir sy lewe het hy opgestaan, sy kamerdeur gesluit en onder die bed weggekruip.

Haar gille het verdof. Kort daarna kon hy voetstappe hoor.

Hy’t in sy skuilplek gebly totdat dit stil geword het. Toe bel hy sy ma se vriendin Jessica. Dié het die polisie ontbied.

Blykbaar het nie een van die bure iets gehoor of gesien nie. Dis snaaks.

Die moordenaars was duidelik op soek na iets aan die manier waarop die hoofslaapkamer agtergelaat is. Wie breek in en steel niks nie? Die hele storie blyk baie persoonlik te wees.

Sy’t so uitgesien na haar drie weke lange vakansie aan die Weskus. Tot Sup laat gistermiddag die dossier voor haar kom neerplak het.

“Lodewyk, ek soek jou op die saak. Jou vakansieplanne is vir eers op hold. Ek sit met te veel hooi op my vurk. Die saak is joune. Enjoy.”

Toe is hy by die deur uit nog voordat sy kon protesteer.

Sy’t nie gisteraand aan die lêer geraak nie. Bloot oor sy te vies was. Ál haar werk is voorlopig afgehandel, die onafgehandelde sake­ oorgegee. Nou sit sy met dié dossier in haar hand.

Dat die skurke op soek was na iets, staan uit soos ’n paal bo water. Maar wat? is die groot vraag. En oor minder as ’n uur soek Sup ’n plan van aksie. Sy sug beswaard.

SUP. Willy Bruintjies plak die gehoorstuk neer en vryf oor sy kaal geskeerde kop. Sy onderlip bewe van ingehoue woede.

Hy smaak rook. Hy soek woes na ’n sigaret in sy baadjie se binnesak. Hy besef sy vrou het hom op ’n rook strike en gooi die baadjie tot in die verste hoek van die vertrek.

Hy plons in die harde stoel neer. Ricky Japhta, die hoof van ’n spesiale eenheid in die mag, is ’n pyn in sy agterent.

Kom blaf bevele links en regs soos dit hom pas.

Die provinsiale kommissaris sal hiervan hoor.

Kobus Myburgh se moord het pas sy werklas verhoog.

Hy weet Zee sal die wa deur die drif trek, maar nou moet sy met ’n onbekende ou werk. Japhta se orders.

Myburgh se moord het beslis aandag getrek.

En soos dinge lyk, is hier iets fishy aan die gang.

Hy het self nie juis lus vir ’n vreemde gesig nie.

Hy kyk na sy horlosie. Die poephol behoort nou enige oomblik hier te wees.

Hy het Zee gevra om dieselfde tyd aan te meld.

Sy het nie ’n vae idee wat op haar wag nie.

En hy weet vir seker sy gaan goed die bliksem in wees.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters