18 dae gelede
Zee is vies toe Bruintjies sê sy moet Mabuza los
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die ondersoekbeampte Zenlee Lodewyk is kliphard op die spoor van die vermeende killer van Kobus Myburgh. ’n Sekere Mabuza, een van die grootste druglords, is hoog op haar lysie van moontlike suspects. By haar aankoms by die polisiestasie is dit die einste Mabuza wat soos ’n pyl uit ’n boog op haar afstorm. Wat gaan dan nou aan? Geniet die voorlaaste hoofstuk van GWENDOLINE KORDOM se Die Dood Het Sy Prys.

MABUZA se skitterwit glimlag sou perfek vir ? Colgate-advertensie wees, dink Zee.

Hy druk haar teen sy bors vas asof hulle ou pelle is.

“My favourite girl. Weet jy, Zee, ek en jy moes al gedate het.

“Want die way jy agter my aan hol, grens aan desperaatheid, girl.”

Zee onderdruk die impuls om hardop te lag.

“Wat soek jy, Mabuza? Sover my kennis strek, was ons mos nie juis buddies nie.

“Ek het regtig nie tyd vir chit-chat nie.”

Die Colgate-glimlag verdwyn toe hy oor haar skouer staar.

Luke het langs haar kom staan. Sy voel duidelik die spanning tussen die twee mans aan.

“Die Pirates het vir jou ? waghond gegee – ook maar goed.

“Dis gevaarlik vir ’n girl so op haar eie,” sê Mabuza.

Mabuza stap na ’n wit Audi.

“Hoekom kry ek die gevoel julle ken mekaar?”

Sy dog eers Luke hoor haar nie.

“Ons het mekaar by een of twee geleenthede ontmoet. Ek sal nie juis sê ons ken mekaar nie.

“Ons kan weer daaroor gesels, Zenlee.”

Haar naam klink soos musiek uit sy mond. Sy skrik vir haar gedagtes.

“Kom, laat ons werk.”

Hy stap met doelgerigte treë vooruit. Sy moet draf om by te hou.

Heelwat later sit hulle in haar kantoor met die items wat in Kobus se motor gevind is op die tafel uitgesprei. Behalwe fakture lewer die inhoud nie veel op nie. Die geheime sleutel is nog vermis.

Zee sit en kou aan haar duimnael en wip van die skrik toe haar selfoon skielik in haar hempsak vibreer.

“Dis Zenlee.”

“Inspekteur Lodewyk, dis Ian, die lykskouer. Ek het so pas die inligting via e-pos aan jou en superintendent Bruintjies gestuur.

“Maar terwyl ons nou gesels, wil ek die volgende deel – daar is spore van ’n narkotiese middel in sy liggaam gevind. Dit word gebruik om iemand vir ’n paar uur te verdoof.

“Ek vermoed die aanval was onbepland. Die steekhoue oor sy bors was te vinnig en op mekaar.

“Hy was ten tyde van die aanval by sy volle bewussyn, wat beteken hy het teruggeveg. Die DNS onder sy naels was genoeg om ’n profiel van die aanvaller bymekaar te sit.

“Ons het hom. Die res wat ek dalk uitgelaat het, sal jy vind in die dokumente wat ek aanstuur.”

“Dankie, Ian.”

Sy kyk met ’n breë smile na Luke.

“Ons het ’n verdagte.”

Luke skud sy kop in ongeloof.

“Nie noodwendig nie. As dit ’n gehuurde persoon is, wat is die kans dat hy sal praat?

“Die dokumente wys Mabuza het ’n legitimate stake in die besigheid. Om die teendeel te bewys gaan moeilik wees.”

“Maar nie onmoontlik nie,” sê Zee en pluk die sleutelring uit haar hemp se sak.

“En dit?” vra Luke.

“In Kobus se kamer gevind. Wat sê dit vir jou? Die sleutel moet iewers versteek wees.

“Die persoon wat dit van die ring afgehaal het, was haastig. Kyk hier hoe gebuig dit is.”

“Behalwe jou vingerafdrukke sal ons dalk net Kobus s’n daarop kry.”

“Ja, maar dit is dalk die sleutel wat kan lei tot die inligting waarvan Jessica gepraat het. Dit lyk asof Kobus inligting gestoor het.

“Dit moet beslis iets groot wees,” sê Zee met ’n glans in haar oë.

“Ek stem. Hy sal dit nie in sy besigheid of huis los nie. Te maklik om te vind.

“As dit iets is met afdrukke, sal hy natuurlik ’n rugsteun hê. Iets of iemand wat die inligting sal laat uitlek as hy iets oorkom,” sê Luke.

“Sy vrou was saam met hom in die ding. Onwillig dalk, maar sy was betrokke by die geheime koevert.

“Ek reken hy het een afdruk vir haar gegee en die ander vir iemand wat hy vertrou,” sê Zee.

“Wie kan dit wees? Kobus het nie baie vriende gehad nie.

“Dit wil voorkom asof die ou meer vyande gehad het.

“Dalk ’n minnares?” vra Luke.

“Dit klink logies, maar sy vrou was sy vertroueling. Ons moet albei se bewegings voor die moord nagaan en seker maak ons ondervra almal.

“Ons volgende ondervraging is die personeel. Dalk kry ons iets daar. Ek sal dit eers met Sup bespreek sodat die arrestasies kan begin,” sê Zee hoopvol.

Toe hulle later aan Sup verslag gee, knik hy goedkeurend.

“Konsentreer daarop om die sleutel en die geheime bruin koevert te vind. Vergeet eers van Mabuza, Zee.

“ Ons het nie soveel mannekrag nie. Dit beteken jy en Luke sal moet beurte maak om die man dop te hou.

“Dis ’n mors van tyd en boonop gevaarlik vir jou as vrou om alleen in die nag agter hom aan te ry.”

Zee se bloed kook. Elke keer dieselfde storie – as sy nie van beter geweet het nie, sou sy sê Bruintjies vat omkoopgeld.

Sy wil dit nie glo nie. Hy is van die goeies wat nog ? ruggraat het.

Haar kop draai outomaties na Luke. En hy?

Behalwe dat hy iets aan haar lyf doen. Wat dit presies is, wil sy nie nou al erken nie.

“Ai, ek het so gehoop ek sal Mabuza dié keer kry. Ons het hier buite in hom vasgeloop.

“Wat het hy hier kom soek?” vra Zee.

“Hy het iemand vergesel. Iets te doen met ’n aanklag,” sê hy vaag.

Sy kyk ondersoekend na hom, maar sy oë is op Luke gerig.

“Ons gaan die personeel by Kobus se besigheid ondervra. Bel maar as iets opduik, Sup,” sê Zee.

Hy knik. Daar’s verligting op sy gesig toe sy opstaan.

Sy volg Luke diep ingedagte na sy motor. Teen die tyd dat hulle by die Dougie-motorhandelaar stop, tref dit haar.

“Jean,” sê sy hardop.

Luke kyk vraend na haar.

“Jean het die sleutel. Hoekom anders hom toesluit tydens die aanval?

“Daar was iets in sy oë vroeër.”

Luke se selfoon lui.

“Jessica, dis ’n verrassing.”

Zee se hart mis ? slag. Jessica het sy privaat nommer?

“Wag nou, praat stadiger. Is jy seker? Ons is nou daar,” sê Luke en lui af.

“Jean Myburgh het verdwyn,” sê hy voordat hy iets op sy foon tik en met skreeuende bande wegtrek.

  • Lees môre die slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters