Verlede maand
Zee is verstom toe sy sien wie voor haar deur staan
 ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet nou die laaste hoofstuk!

LUKE vind skuiling teen die muur. “Jy het verniet gekom, Luke­. Jou old lady het alreeds die Allerhoogste ontmoet.

“Nou is dit jou beurt,” sê Ben Hilton.

Luke duik oor die vloer toe die skote om hom losbrand.

Hy wag tot Hilton se magasyn leeg is voordat hy opspring. Dan pluk hy twee handgranate uit sy belt en gooi dit oor die stoep.

Toe duik hy na regs vir skuiling. Die ontploffing ruk die voorste vensters uit hulle skarniere. Hy hoor angstige gille. Daarna volg ’n doodse stilte. Teen dagbreek staan Luke op die stoep.

Daar was slegs een handlanger-ou by Ben Hilton. Uit dié sterwende man se mond kon hy die waarheid hoor.

Sy ma se verminkte liggaam lê reeds drie dae in die plaasdam. Hy kon ook die naam kry van die een wat agter die ontvoering sit.

Hy stap met afgemete treë tot by die bakkie. Voor die son sak moet hy in die Kaap wees ...

ZENLEE maak die deur huiwerig oop. Dis byna middernag en iemand hamer aan haar woonsteldeur.

Sy druk haar een oog teen die loergaatjie. Mabuza. Toe sy die deur oopmaak, rek haar oë toe sy die man agter Mabuza herken.

Dis Mabuza wat die deur oopstoot en haar aan die arm na die voorvertrek lei.

Luke het stil voor hulle kom staan. Toe is dit asof iets in haar losbreek en sy bespring Luke soos ’n tierkat.

“Jou lae, gemene vark!”

Luke moet albei haar hande vasgryp. Dit duur ’n rukkie voordat sy tot bedaring kom.

“Zenlee, ek het nuus,” sê Mabuza agter haar.

Sy gaan sit soos ’n slaapwandelaar op die rusbank.

“Bryan Cupido het die weg van ’n lafaard gekies en gevlug. Die gebou waaruit die Pirates operate, lyk soos ’n slagveld.

“Ek en ’n paar van my ouens het Luke gehelp om die plek skoon te maak. Daarom moet ons albei ’n rukkie laaglê.”

“Jy is nou veilig, Zenlee. Gee vir Luke die kans om sy storie te vertel. Daarna kan jy besluit wat om te doen, my girl.”

Zenlee sit nog soos ’n zombie toe Mabuza haar teen die voorkop soen. Toe is hy weg en dit is net sy en Luke.

Dis hy wat eerste die stilte verbreek.

“Ek is ’n contract killer. My opdragte kom van die een wat die hoogste prys betaal. Ek was nie altyd so nie.

“Daar was ’n voorval jare gelede ...”

Sy oë kry ’n veraf uitdrukking.

“Ek is in Port Elizabeth gebore. Die enigste seun van ’n polisieman en ’n onderwyseres.

“Dit was in my laaste jaar op primêre skool dat my pa tot kaptein bevorder is. Ons het na Cradock verhuis.”

“Ná matriek is ek polisiekollege toe. My eerste pos was in PE.

“Ek was op daardie tydstip in ’n ernstige verhouding met Lucinda Bekker, my hoërskoolkys.

“Jontas Hilton was ’n berugte bendebaas en dwelmsmokkelaar in die Baai en is natuurlik deur almal gevrees.

“Hoewel ons gereeld klopjagte op sy plek uitgevoer het, kon ons hom nooit met iets konkreets verbind nie. Sy helpers het gewoonlik die blaam gevat.

“Toe begin die sinnelose moorde op en verkragting van jong vroue.

“Volgens inwoners is byna al die slagoffers vooraf by Jontas se tavern gesien.

“Een aand ontvang ons toe ’n klag van roekelose bestuur. Die voertuig het aan Jontas behoort.

“Ek en my kollega, Brandon Jordaan, het die klag ontvang.

“In Gelvandale gewaar ons die voertuig en sit hom agterna. Ná ’n jaagtog van vyf minute slaag ek toe daarin om hom teen ’n heining vas te druk.

“Die ou het met ’n pistool in die hand uitgespring en op ons begin losbrand. Ons het natuurlik teruggevuur. Die ou is gewond.

“By nadere ondersoek ontdek ons toe die tweejarige seuntjie in die voorste sitplek met ’n koeël deur sy kop.

“Dit was Jontas se kind. Bran­don is kort daarna in ’n mislukte kaping doodgeskiet.

“Daarna was daar twee aanslae op my lewe. Daar het niks van die sake gekom nie.

“Van die ander beamptes was reeds op Jontas se payroll.

“Skielik verdwyn Lucinda terwyl ek ná die tweede aanslag in die hospitaal lê. ’n Speurder verwittig my kort daarna dat haar lyk in ’n nabygeleë veld gevind is.

“Sy is verkrag en doodgemartel op dieselfde manier as die ander slagoffers. Jontas se handewerk ...

“Kort ná my herstel het ek na Kaapstad verhuis. Hier het ek by die bende-eenheid aangesluit. Vir twee jaar was ek sielsdood en ek het net van dag tot dag geleef.

“Totdat my paaie met Bryan Cupido s’n gekruis het ...

“Ek ontdek toe ’n wêreld waar ek met liefde die vergelding kry waarna ek smag. Ná intensiewe opleiding kon ek my eerste teiken kies.

“Jontas was heel bo-aan my lys. Sy twee broers, Scott en Ben, was tieners toe ek hom uitgehaal het.

“Bryan Cupido het my verraai toe ek onlangs ’n opdrag weier.

“Ek moes ons voormalige hoof Ricky Japhta uithaal. Toe hy mý nie kon vermoor nie, het hy vir my ma gegaan. Hy het kontak met die Hilton-broers gemaak.”

Luke sluk ’n paar keer voordat hy verder gaan.

“Sy is gemartel totdat sy verklap het waar ek my bevind. Daarna is ek gekontak en dis die rede hoekom ek verdwyn het.

“Ek kon nie bekostig dat hulle van jou uitvind nie. Bryan het egter ná jou besoek die stukke inmekaargepas. Ek het my lewe verwoes en in die proses my geliefdes in die kruisvuur geplaas.

“Ek is jammer oor alles, Zenlee. Ek hoop jy kan my eendag ver­gewe.”

“Is jy darem lief vir my?” vra Zenlee die vraag wat haar al heeltyd pla. Luke kom kniel voor haar.

“Dis juis oor ek jou liefhet dat ek moes verdwyn,” sê hy saggies.

Hy neem haar aan die skouers en trek haar regop totdat sy voor hom staan.

“Kom ons verdwyn na ’n plek waar niemand ons sal vind nie. Ons kan opnuut begin en mekaar op ’n beter manier leer ken.

“Sien jy kans?” Vir ’n oomblik dink sy aan Kaptein. Selfs hý sal verstaan omdat hy weet hoe diep haar liefde vir Luke lê.

“Ja, beslis. Met my hele hart.”

Toe Luke haar lippe opeis, weet Zenlee sy neem die regte besluit.

  • ’n Lewe saam met Luke is beter as ’n lewe sonder hom. Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters