Verlede maand
Zee is nie seker of sy Mabuza se intensies vertrou
 ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet nou die vierde hoofstuk!

‘JY GAAN niks van dié aard doen nie,” sê Mabuza.

“Maar ek en hy –.”“Het voor jou verlof bloot op ’n saak saam gewerk,” val Mabuza haar kru in die rede.

“Boonop was julle drie weke afgesonder.

“Weet jy dat Luke alle bande met die Pirates verbreek toe hy agter jou aan is?

“Daar is iets groots aan die gang by Luke se eenheid. Dalk is ek verkeerd, maar niemand daar weet van julle verhouding nie.

“Ek glo ook dis hoekom sy ma ontvoer is, anders was dit jy.

“En dis ’n ope vraag of Demingo betrokke is. Luke het deur die jare baie vyande gemaak.”

“Is jy ook een?” vra Zee.

Mabuza se lag dawer bo die gedruis van die branders.

“Ek en Luke het ’n complicated verhouding. Hy’s ’n man na wie ek opkyk en ek skuld hom my lewe, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

“Ek is hier om jou die details oor sy verdwyning te gee sodat jy mooi hieroor dink. Zee, ek ken jou al ’n rukkie en kon die afgelope tyd sien hoe jy ly.

“Daarom is ek hier om jou te waarsku. Stap weg van Luke af.

“Ek weet dis moeilik, maar op die ou end is dit vir jou eie beswil.”

“Hoekom kry ek die gevoel daar is meer aan die storie?” vra Zee agterdogtig.

“My hoofprioriteit is jou veiligheid.

“Luke voel dieselfde, dis hoekom hy verdwyn het.

“Daar sal geen nut daarin wees om hom te volg nie. Met tyd sal hy net weer verdwyn.

“Intussen kan ons net hoop en bid sy ma word ongedeerd gevind.

“Wat dink jy gaan gebeur wanneer sy vyande hoor hy het ’n girlfriend?”

“Ek was laas sy kollega.”

“Dis hierdie naïwiteit waarvan ek praat, Zee.”

“Wat wil jy hê moet ek doen, Mabuza?

“Ek kan nie net hier sit en wag terwyl Luke …”

Sy sluk haar woorde toe haar oë vol trane skiet.

Sy draai haar gesig vinnig weg.

Tog voel sy Mabuza se blik op haar.

Sy hand rus ’n oomblik op haar skouer.

“Ek weet dis moeilik, maar as jy nou agter Luke aanneuk, sal jy net ’n kopseer word.

“Hy sal die soektog los om jou te beskerm.

“Jy kan tog nie dit van hom verwag nie?”

“Ek kan na myself kyk,” sê sy koppig.

“Nogtans is jy nie in ’n toestand om na jouself te kyk nie.

“Kyk hoe lyk jy al van stres.

“Moenie dom wees nie,” sê Mabuza.

“Gee my Luke se nommer,” pleit Zee

“My magtig, Zee, luister jy dan nie na ’n dooie woord wat ek sê nie?

“Ek het jou hierheen laat kom om jou gerus te stel sodat jy closure kan kry en aanbeweeg met jou lewe.

“Het ek my tyd dan nou gemors?

“Gaan jy nou wragtig jou lewe in gevaar stel deur agter Luke aan te piekel?

“Of is jy ook een van daardie vroue wat agter ’n man aanloop?” gebruik hy ’n ander taktiek en sien met genoegdoening hoe haar nek ruk.

Hy glimlag net toe sy vies ’n skraal vinger voor sy neus rondswaai.

“Luke sal hom wat verbeel. Ek wou net met my eie oë sien hy leef.

“Maar dalk is jy reg. Hy wou hê ek moet aanbeweeg en dis presies wat ek gaan doen.”

Mabuza sug verlig.

Hy is bly hy het die eerste rondte gewen.

Haar volgende woorde laat stol egter die bloed in sy are.

“Waar woon Demingo?”

“Hoekom wil jy weet waar Demingo woon?” vra hy.

“Los maar, ek sal hom op die stelsel opspoor.”

“Zee, los in hemelsnaam vir Demingo uit.”

Toe Zee nie ’n woord verder praat nie, staar hy bekommerd na haar voordat hy sê: “Zee, ek smeek jou.

“Los dié ding, asseblief.”

Die stilte rek totdat net die gedruis van die branders hoorbaar is.

Zenlee se gedagtes is ’n warboel.

Wanneer sy terugkyk, sien sy ’n gebroke vrou. Een wie se hart in ’n oogwink uit haar borskas geruk is.

’n Vrou wie se liefde nie genoeg was vir ’n man soos Luke nie.

Dalk sal sy hom besoek vir een rede – en dit sal wees om wraak te neem.

“Dankie vir die inligting, Mabuza­. Ek moet nou ongelukkig gaan.

“En jy hoef jou regtig nie daaroor te bekommer dat ek na Luke sal soek nie.

“Ten minste weet ek nou hy is okay,” sê Zee hartseer.

Sy voel hoe Mabuza haar hand in syne neem en ’n oomblik styf teen sy bors druk.

“Ek wens ek kon die seer uit daardie pragtige oë haal, Zee, maar ek glo regtig met tyd sal die wonde mooi genees.

“Kyk mooi na jouself, my skat.

“Onthou, ek is altyd naby as jy my soek, jy moet net weet hoe.”

Mabuza se kenmerkende laggie volg haar toe sy na die motor terugstap.

Dit maak nie saak hoe edel Mabuza se intensies is nie, hy bly maar ’n skurk.

Hoe kan sy seker wees hy sit nie dalk self agter Luke se ontvoering nie?

Nou kom hy hier aan met ’n storie en verwag sy moet hom onvoorwaardelik glo.

Wat Mabuza nie weet nie, is dat sy presies dit nodig gehad het om haar kop eindelik uit die sand te lig.

Sy skakel die motor aan en kyk in haar truspieël.

Skielik word Zenlee bewus van ’n skaduwee buite die motor.

Sy laat beweeg die voertuig stadig in trurat terwyl haar oë op die donker gestalte fokus.

Toe die motor in lyn is met die persoon, vlieg die persoon skielik om en verdwyn in die donker.

Sy bring die motor tot stilstand en gooi die deur oop. Daarna storm sy agterna.

Toe die figuur in die nabygeleë bosse verdwyn, kom sy tot stilstand terwyl sy angstig om haar rondkyk.

Sy besluit om eerder terug te draai.

Dit voel vir Zenlee asof daar duisend oë in haar rug boor totdat sy die veiligheid van haar motor bereik.

Die Pirates se kantore is eerste op haar lys.

Iewers moet sy begin in haar soektog na Luke.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters