16 dae gelede
Zee en Luke haas hulle agter die bang Jean aan
 ~ 

HAAI Sonlanders! Ai, ons kan maar net hoop dat Zee, die vroue-cop wat die onaangename taak het om die killer van Kobus Myburgh vas te trek, in haar doel sal slaag. Geniet die slothoofstuk van GWENDOLINE KORDOM se Die Dood Het Sy Prys

JESSICA staan en wag in die oprit toe Luke stilhou. Toe hy uitklim, is sy by hom en kry hom in ’n katgreep beet.

Die vrou is ooglopend mal oor Luke. Hoekom pla die prentjie van die twee in mekaar se arms haar skielik? Hulle kan mekaar kry.

Dis nou te sê as hy single is. Mans soos hy het gewoonlik iemand wat snags op hom wag.

Zee skud haar kop. Hy kry oplaas die klouerige vrou aan die arm beet en beweeg na die oop deur. Toe Zee hulle join, het Jessica haarself onder beheer.

“Kan jy ons vertel wat hier gebeur het?” vra Zee.

“Ek was besig met middagete. Toe ek opdis, het ek Jean geroep. Ek dog eers hy hoor nie. Toe ek gaan kyk, was hy weg. Die buurvrou wat buite was, sê hy’t met ’n rugsak omkyk-omkyk die straat af geloop,” vertel sy hortend.

“Het jy hom probeer bel?” vra Zee.

“Ja, ’n paar keer. Die foon lui net. Eers word Kobus vermoor en my beste vriendin ontvoer. Nou het hulle kind uit my sorg weggeloop.”

Toe sy weer begin snik, staar Zee en Luke ’n oomblik na mekaar.

“Jessica, sal jy omgee om vir ons tee te maak? Dit sal help as jy besig bly. ”

Sy sug verlig toe die vrou sonder teëstribbeling die vertrek verlaat.

“Die ontvoerders het kontak gemaak met Jean. Jou instink oor hom was reg. Zee. Ek het met ’n kontak gereël om Jean te soek. Hy’t hom in Durbanville opgespoor. Hy vat ’n Uber om hom na sy bestemming te neem. Dis ’n wit Toyota Corolla. Clive bly op die spoor totdat ons daar kom.”

“Ek sal met Sup reël vir twee om die ondervraging by Dougie Motors af te handel. Jean is die sleuteldraer. Daarvan is ek seker.

“Myburgh moes sy vrou as back-up gebruik het en sy op haar beurt hulle seun,” sê sy en staan op.

“Dis tyd vir aksie, mnr. Stanfield.” Hulle is byna by die deur uit toe Jessica se stem hulle terugroep.

“Wat van die tee? En waarheen is julle so haastig op pad?”

“Ons praat later Jessica. Tyd is nou van belang. Sluit die deur. Die beamptes behoort enige oomblik hier te wees.”

Zenlee maak die deur ferm toe. Dit sal keer dat sy weer soos ? goedkoop tert aan Luke hang.

Hy is besig op sy foon. As hy van iets weet, wys hy dit nie. Hulle ry in stilte. Die verkeer in Durbanweg is druk op die middaguur.

Sy tik Jean se nommer op haar foon. Wag ’n paar sekondes voordat sy bel. Hy antwoord byna onmiddellik.

“Jean, dis inspekteur Zenlee Lodewyk. Ons was vroeër daar by jou. Luister mooi. Het die ontvoerders jou gekontak?”

“Ja,” kom dit sag van sy kant.

“Het hulle jou dalk ’n idee gegee waar jou ma is?”

“Nee. ”

“Waar moet jy hulle kry?”

“Op die Klipheuwelpad. Asseblief, bly weg. Hulle sal haar seermaak as ek die cops bring,” sê hy met ’n dun, bang stem.

“Bly kalm en doen wat hulle vra, Jean. Los die res vir ons. Ek en Luke is op pad. Moenie dat hulle iets agterkom nie.”

Hy verbreek die konneksie sonder om te antwoord.

“Hy ontmoet hulle op die Klipheuwelpad. Lana word moontlik iewers daar naby aangehou. Al iets van Clive gehoor?” vra Zenlee.

“Nee, maar hy sal bel”

Die volgende oomblik skiet die kar vorentoe. Sy moet aan haar sitplek vashou toe Luke deur die verkeer vlieg. Haar foon lui.

“Dis Sup. Zee, waar is jy? Never mind. Die manne is by die Myburgh-huis geplant. Luke se mense is op pad in julle rigting. Die mense by Dougie Motors word ondervra. Wees versigtig.” Toe lui hy af.

“Ek ken hom nie anders nie. Blaf bevele links en regs. Die mense van jou eenheid, waar kom hulle nou skielik vandaan? Was hulle van die begin af hier en hoekom is ek nie ingelig nie?”

Hy haal sy oë ’n paar sekondes van die pad weg en kyk na haar.

“Ons wou dit na ’n normale polisie-ondersoek laat lyk. As sekere mense moet weet dis deel van ’n uitgebreide ondersoek waarby die eenheid betrokke is, sou hulle sorg niks wys in hulle rigting nie. Niemand moes weet nie. Totdat ek gister in Mabuza vasgeloop het.”

“Julle ken mekaar?”

“Hy was een van ons informante.”

“Wat?”

“Glo dit of nie. Hy werk al jare saam met die Pirates. En probeer sy kant skoon hou. Hy help ons met inligting en so. Maar Myburgh se dood impliseer hom deur hulle konneksie in die maatskappy.

“Myburgh is verbind met grootkoppe. Hy en Mabuza het deur een of ander geselligheid ontmoet.

“Totdat Myburgh een aand in sy dronkenskap ’n familielid van Mabuza verkrag het. Sy was deel van die catering staff. ’n Bloedjong kind van 18. Hy het boonop iemand anders blameer vir die verkragting.

“Natuurlik het daar niks van die saak gekom nie. Mabuza het wraak gesweer toe hy die waarheid uitvind.

“Die koevert, vermoed ons, bevat ’n lys name en bewyse van korrupte beamptes wat by shady motor deals betrokke was. Myburgh het dit gehou ingeval hulle gevang word. Vervalste dokumente en dies meer.”

“Sê jy nou Mabuza is onskuldig?”

“Dié keer, ja.”

Die res van die rit verloop in stilte. Sy’t baie om te verwerk. Die hele ondersoek was ’n rookskerm om die groter katte te vang. Sy weet nie vir wie sy die kwaadste is nie – Sup of dié man met die vreemde stiltes.

Sy foon lui weer. Hy luister terwyl hy behendig bestuur. Toe druk hy af en sê: “Clive het hom gevind.”

Toe hulle daar kom, is daar ouens in swart wat soos skimme lyk. Vier ouens lê op die grond. Hande agter die rug vasgemaak. Jean se verwese blik agter die lense soek oor die veld.

Sy is by hom toe ’n ou met ’n vrou ingehaak uit die veld storm. Ooglopend in ’n bedremmelde toestand maar lewend staan Lana Myburgh op onvaste voete. Jean storm op haar af. Zenlee sug verlig.

Hulle kry die storie eers later uit haar. Twee ouens het hulle oorval die nag toe haar man vermoor is. Sy’t die sleutel vroeër die dag haastig in haar seun se rugsak versteek.

Die woorde stroom uit haar mond terwyl sy haar seun snikkend vashou. Kobus se aandeel aan korrupte deals. Die affairs. Hulle het die waarheid uit haar gedwing.

Jean is gekontak. Hy moes die koevert bring in ruil vir haar lewe.

Die hoof van Luke se eenheid, Ricky Japhta, se naam is boaan die lys. Kobus Myburgh moes ’n duur prys betaal vir sy dade.

Die belangrikste is dat sy vrou en seun leef, dink Zee toe sy die ambulans agterna staar.

TWEE dae later sit sy op die stoep van die strandhuis toe Sup bel.

“Ek hoop nie jy’s nog kwaad nie, Zee. Jy’s so haastig hier weg. Onthou, Luke is ’n goeie ou in die storie, ’n inside man. Ek’s net bly Japhta is gevang. En Mabuza, glo dit of nie, loop nou die reguit pad. Ons praat as jy terug is. Pas jou op.”

“Dis als reg, Sup. Solank geregtigheid seëvier. Ons praat weer.”

Toe sy opkyk, staan Luke voor haar. Haar hart gee ’n sprong.

“Het jy gedink ek sal jou laat gaan sonder dat jy weer van my hoor?” vra hy met ’n groot glimlag.

Toe is hy met een tree by haar en vou haar sag in sy arms toe.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters