3 maande gelede
Yster skrik toe hy op TV sien hy het die prez ontvoer
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Yster word deur die hoof van die president se sekuriteit meegedeel hulle gaan nie net die president vermoor nie, maar hom wat Yster is, daarvoor frame. Hierdie security-ou, Carter, hou egter nie tred met Yster se flinke aksie wat hom blitsvinnig neutraliseer nie. Yster en die president slaan op vlug, maar dan vra president Ramadonsa hom om te help om sy vyande uit te wis. Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se Yster.

YSTER draai verbaas na president Ramadonsa.

“U is seker nie ernstig nie?”

Ramadonsa skud sy kop. “Ek was nog nooit so ernstig soos nou nie. Hierdie staatskapingsduiwel moet met wortel en tak uitgeroei word.

“Hierdie mense gaan nie ophou totdat hulle ons land oor die afgrond gevat het nie.”

“Maar wat kan ek doen?” vra Yster en gooi sy hande in die lug. “Hierdie mense is big-time players. Hulle het masjinerie binne jou staatsdepartemente wat vir hulle werk.

“Ek is maar net ’n has-been cop wat daarvan hou om sy dop in stilte te enjoy.”

Pres. Ramadonsa kom tot voor Yster gestap. Daar is ’n ernstige trek in sy oë.

“Yster, vandag het ek gesien hoe ’n man sy lewe waag vir iemand anders wat hy nie eens ken nie. Jy is ’n ware patriot, die Suid-Afrikaner na wie Madiba destyds verwys het.

“Ons land het meer mense soos jy nodig en ek weet met jou aan my sy kán ons Duma en ál sy dommes finaal vernietig. So, wat sê jy?

“Ja, hulle het mag en seker oë en ore orals, maar ons het die wil om hulle te vernietig en moenie vergeet nie, my hande is darem nie heeltemal afgekap nie. Daar is nog goeies daar buite wat die stryd saam met ons sal stry.”

Yster maak sy mond oop om iets te sê, maar dan lui sy selfoon.

Bertus se naam verskyn op die skerm van sy Pep special-foontjie.

Hy beantwoord die oproep.

“Yster, my tjomma,” sê Bertus vriendelik. “Hoe gaan dit met my beste, beste vriend?”

“Nee, daar is nie pyne nie,” antwoord Yster. Hy wou aanvanklik eers sy moer strip, maar het toe besluit om Bertus se game saam te speel.

“Waar is jy dan vandag?” vra Bertus. “Werk jy dan nie?”

“Ek voel nie so lekker nie en het nie vandag ingegaan nie,” lieg Yster. “Ek sal maar môre gaan. Het hulle my dan gesoek?”

Bertus klik sy tong. “Kom nou, Yster. Ons is mos albei grootmense. Die ou mense het destyds gesê mense wat lieg, steel.

“En soos wat ek gehoor het, het jy die president van die land gesteel.”

“Wie? Ek?” vra Yster kamma verontreg. “Ek sal mos nooit so iets doen nie. Jy weet dan-”

“Ag, Yster, cut asseblief die bull,” val Bertus hom in die rede.

“Bertus?” vra Yster kamma geskok. “Is jy dan nie ’n kerkbroer om só te vloek nie.”

Bertus lag. “Ek neem aan jy kruip weg in daai plekkie van jou in Brackenfell wat jy dink niemand van weet nie?

“Skakel gou jou TV aan op eNCA se nuuskanaal, en besef vir eens en altyd dat jy nie nou met kabouters speel nie.”

Bertus beëindig die oproep. Yster haas hom verby pres. Ramadonsa na die sitkamer, waar hy die remote gryp en die TV-stel aanskakel.

Haastig druk hy vir kanaal 403 en sit die volume harder. Hy skrik toe sy foto op die skerm verskyn.

Die fraaie swartkop-nuusleser sê in ’n opgewonde stem: “Yster Ertzewee is tans die mees gesoekte man in die land.

“Ertzewee, ’n verbitterde bruin voormalige polisieman het ’n geruime tyd lank op verskeie sosiale media-platforms gal gebraak oor die gebrek aan geleenthede vir jonges en gedreig hy gaan pres. Sydney Ramadonsa ’n les leer.

“Ons het betroubaar verneem Ertzewee het pres. Ramadonsa vanoggend ontvoer.

“As enige een weet waar Ertzewee hom bevind ...”

Yster kan nie meer verder luister nie en skakel die TV af.

“Hierdie mense speel nie,” sê president Ramadonsa in ongeloof. “Hulle is regtig vas van plan om hierdie mal plan van hulle deur te voer.”

“Deur mý te frame,” sê Yster verbitterd. “Nes Carter gesê het. Ek sien hulle plan: Bertus weet reeds ons is hier en as my gut feeling reg is, is ’n swaar ge­wapende taakspan reeds op pad hierheen.

“Hier, in ’n kastige poging om u, meneer die president, te red, gaan albei van ons in ’n koeëlreën sterf.

“Later sal dit tydens ’n kommissie van ondersoek bepaal word dat ek u reeds vermoor het voordat die taakspan hier aangekom het.”

“Nou wat maak ons dan nog hier?” vra pres. Ramadonsa angstig. “Sal dit dan nie beter wees om hier weg te kom nie?”

Yster skud sy kop. “Dit maak nie saak waarheen ons vlug nie, hulle sál ons kry.

“U van alle mense behoort te weet van die reuse-netwerk van CCTV-kameras wat daar is. As hulle ons wil opspoor, kan hulle lag-lag in so ’n stelsel hack.”

President Ramadonsa vryf oor sy baard. “Nou wat stel jy voor doen ons?”

Yster trek sy skouers op. “Ek weet nie. As ons moet sterf, kan ons net sowel uitgaan met ’n bang.”

“Ek wil nie nou al doodgaan nie,” sê pres. Ramadonsa in ’n skril stem. “As ons nou try ...”

Hy bly stil toe die geluid van skreeuende bande vanaf buite opklink.

“Ons gaste is hier,” sê Yster en kom vinnig in rat om alle blinds en gordyne toe te maak.

Dan, met groot gesteun en moeite trek hy ’n swaar kas tot teenaan die voordeur van die woonstel.

“Die hysbakke werk nie altyd nie en hulle sal hopelik die trappe tot hier moet vat. Dit sal ons ’n bietjie tyd gee.”

“Tyd om wat te doen?” vra pres. Ramadonsa.

“Ag, nie veel nie. Daar is altyd tyd vir ’n grappie ... en ’n oproep, meneer die president.”

Hy bring sy selfoon te voorskyn en skakel ’n nommer.

“Alice! Werk jy nog steeds by die Son? Nee man, hoe mean jy dan nou om te vra of ek ’n kidnapper is?”

Yster bly vir ’n oomblik stil en luister aandagtig.

Dan sê hy: “Oukei, ek neem aan jy het ’n pen en papier byderhand? Skryf die volgende adres af.

“Hier is ’n vrag gewapende magte op pad om die president te kom red.

“Niemand anders weet nie. Hierdie kan jou groot scoop wees.”

Dan beëindig hy die oproep en draai na die president. “Hierdie is een van my verrassings, want hulle sal nie sommer hulle luck try met die media in die omtes nie.”

“En jou ander surpise?” vra die president ongerus. “Watter ander planne het jy?”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters