Verlede maand
Yster kry ’n harde trek in sy oë ná hy fightback uiteensit
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Yster en pres. Ramadonsa slaag daarin om die sluwe poging om hulle om die lewe te bring, te es­cape. Hulle gebruik ’n geheime escape route deur in ’n kas in Yster se woonstel te klim. Hulle beland in ’n tweede woonstel en vlug dan buitetoe. Maar dit was so hittete of hulle was mince. Die politieke dikding Eish Maga­shue is geskok toe hy uitvind oudpres. Duma wou sonder sy medewete die president om die lewe bring. Hierdie mislukte poging bekommer Magashue, want hy besef alte goed Ramadonsa gaan nie rus voordat diegene wat hom wou uithaal, agter tralies is nie. Geniet nou hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON se Yster.

DIS ’n diep bekommerde Eish Magashue wat later van oudpres. Duma se woning wegry.

Hy kan nie glo Duma was so dom nie.

Oukei, hy weet Duma ís dom, maar om so iets aan te vang sonder om hulle in kennis te stel?

Die hele wêreld gons oor die mislukte aanslag op Ramadonsa se lewe.

Duma is egter te onnosel om te besef hy het sy hand oorspeel.

As hy maar net met sy eie hand gespeel het …

Magashue sug swaar. Duma het hom gedreig – gedreig om hom saam hel toe te vat as dinge so ver vorder.

Maar Duma maak hom sommer baie laat.

Hy wat Eish is, het vir die wis en die onwis maande gelede al ’n one-way ticket Doebai toe op ’n retainer gekoop.

As daar iemand is wat gaan sink, gaan dit Duma en Duma alleen wees.DIS vroeg skemer toe pres. Sydney Ramadonsa en Yster ’n gebou in die Kaapse middestad binnestap.

Nie baie mense weet van dié plek nie. Vir die gewone mens in die straat lyk dit na ’n doodgewone laundry-plek waar jy jou wasgoed kan doen.

Maar aan die agterkant van dié “besigheid” en heel uit die publiek se oë bestaan ’n wêreld waarvan min intelligensiedienste in die wêreld weet.

Die oë van die sekuriteitswag by die ontvangs rek groot toe hy die president herken.

Hy vlieg orent.

Ramadonsa hou sy hand omhoog.

“Dis oukei, ek ken die pad.”

Hy wink Yster om hom te volg na die versteekte huisbak. Hy druk ’n vloernommer toe die huisbak se deure agter hulle toegaan.

Die sekuriteitswag gryp die foon langs hom en skakel ’n nommer.

“Jy sal nie glo wie so pas hier ingestap het nie,” sê hy opgewonde.

“Ek sê jou, die k*k gaan nou spat.”RODNEY Syfers vryf oor sy moeë oë. Hy kan nie eens onthou wanneer hy ooit slaap ingekry het nie.

Maar as die hoof van die geheime G3-eenheid is slaap ’n luxury, veral omdat die president nou in die kloue van ’n mal, verbitterde eks-cop is.

Rodney klik sy tong.

Hy het Yster nooit persoonlik ontmoet nie, maar van wat hy gehoor het, was hy ’n formidabele cop wat al wat ’n mert is laat les opsê het.

So, wat het oor sy lewe geloop? Het die drank sy kopsenuwees aangetas en hom goed laat sê en doen wat buite sy karakter is?

Rodney vlieg op toe hy ’n commotion buite sy kantoor hoor.

Wie raas so? wonder hy en ruk sy kantoordeur oop om wie ook al vir die geraas verantwoordelik is, te berispe.

Sy mond val oop toe hy die twee mans herken wat in sy rigting gestap kom. Pres. Sydney Ramadonsa en Yster, die man wat hulle met ’n seer hart soek.

“M-m-meneer die President?” stamel Rodney.

“Ons moet in jou kantoor praat, Rodney,” sê Ramadonsa kortaf. “Hier is te veel ore hier buite.”

Sonder om op die ander mans te wag, stap die president Rodney se kantoor binne.

’n Confused Rodney maak die deur agter hulle toe.

“Ek het nie tyd vir lang stories nie, Rodney,” val die president met die deur in die huis.

“Ek wil nóú weet: Is jy gecapture? Is jy ’n lid van die komplot om my om die lewe te bring?”

Rodney skud verdwaas sy kop en draai na Yster. Dié trek net sy skouers op.

Pres. Ramadonsa wys dan na Yster.

“As dit nie vir hierdie man was nie, was ek nie vandag hier nie.

“Hulle beswadder sy naam op TV en maak hom as ’n verbitterde ontvoerder en killer uit, maar die absolute waarheid is dat ek my lewe aan hom te danke het.

“Dus vra ek jou weer, Rodney Syfers: Is jy ’n lid van die Duma-kliek wat selfs moord sal pleeg om weer hulle vuil kloue op ons staatskas te kry?”

Rodney skud sy kop. “Met alle respek gesê, Meneer die President, ek is lief vir my land. Ek haat verraaiers.

“Ek verpes diegene wat so dobbel met die vryheid waarvoor ons so hard geveg het. Diegene wat sê dis hulle tyd om te eet ná al die opofferings wat hulle in die struggle gemaak het.”

Pres. Ramadonsa klap sy hande teen mekaar.

“Mooi, Rodney. Ek weet ek was reg toe ek jou destyds aangestel het.

“Die tyd het aangebreek dat hierdie verraaiers die volle mag van die staat proe.

“Ek wil hê Yster moet in beheer van hierdie operasie wees.”

“Maar hy het nie security clear­ance nie, Meneer die President,” maak Rodney kapsie. “Daar is reëls wat –”

“Duma en sy gespuis speel nie volgens die reëls nie,” val die president hom in die rede.

“In my boeke het enige een wat die president se lewe red reeds clearance. Is ek duidelik genoeg?”

“Duidelik genoeg, Meneer die President,” sê Rodney onderdanig en draai dan na Yster.

“So, wat is jou plan van aksie?”

Yster krap sy kop. “Ek reken die eerste ding is om ’n lining in die maag te kry.

“Ons ry al heeldag rond in ’n kar wat ons noodgedwonge gekaap het.

“Geld vir chow was daar nie en ek reken ’n gatsby sal nou net die regte ding wees.”

“ ’n Watse ding?” vra die president. Yster lag.

“Moenie worry nie, Mister Prez, almal op die Kaapse Vlakte sal u likes as hulle hoor u het ’n gatsby geëet.

“En as ons daarmee klaar is, moet daar gereël word dat ons vir my liewe vriend Bertus gaan kuier.

“As ek klaar is met hom, gaan hy soos twee voëltjies sing.”

Daar is ’n harde trek in Yster se oë.

Dis ’n trek wat selfs ’n rilling langs die ruggraat van ’n deurwinterde intelligensiebaas soos Rodney Syfers laat afhardloop.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters