Verlede maand
Yster en prez glip by geheime escape route uit woonstel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Yster se eens goeie vriend Bertus deel hom mee hulle weet waar hy en die president is. Bertus stel voor dat Yster die TV aanskakel. Dis met ’n skok dat Yster op TV sien hý word verdink van die ontvoering van die president. ’n Swaar gewapende taakmag daag by die woonstel op en Yster moet vinnig ’n plan maak, want hy besef dinge is so beplan dat hy en die president vandag in ’n koeëlreën doodgaan. Geniet hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se Yster.

MANGALISO “Eish” Magashue loop op en af in die groot ontvangskamer van oudpres. Duma.

Die fronse lê in diep kepe oor sy voorkop.

Hy is ’n bekommerde man. ’n Diep bekommerde ou.

Hy blaas sy asem hard uit. Dit help nie oudpres. Duma laat hom hier wag soos ’n kind nie.

Besef die man dan nie al hulle planne ontplof nou in hulle gesig nie?

Hy raak sommer kwaad wanneer hy daaraan dink dat Duma sonder sy medewete die ontvoering van Ramadonsa beplan het. Kan die man dan nie dink nie?

Genade, sy kop het die vorm van twee koppe en ’n mens sou dink iewers in daai twee koppe is daar darem seker ’n breinsel of twee.

Om Ramadonsa so knap voor die verkiesing uit te haal, is malligheid. So iets doen jy doodeenvoudig nie.

’n Vrou verskyn in die deur van die vertrek.

“uBaba sal u nou te woord staan,” sê sy formeel en draai om.

Maga­shue volg haar. uBaba moet ophou soos ’n baba dink, dink hy vies ...“SO, WATTER ander planne het jy, Yster?” herhaal pres. Ramadonsa sy vroeëre vraag.

“Volg my,” sê Yster en stap haastig die gang af na die hoofslaapkamer. Daar gekom maak hy een van die klerekaste oop.

“Ek het destyds ’n lekker, vet bargain gescore toe ek dié flat gekoop het.

“Die vorige owner was in die secret service en het ’n geheime deur laat inbou wat uitloop na ’n ander woonstel. Die ou het seker baie enemies gehad en wou vir hom ’n escape route skep. Gelukkig vir ons is dit vandag ons opsie.

“Ek moet u ongelukkig aanjaag, Meneer die President. Ek hoor voetstappe daar buite. Kom!”

Yster wys Ramadonsa om eerste die klerekas binne te stap.

“Nou kan u ook darem sê u is in die closet,” sê hy en grinnik.

“Die timing van jou grappe ... Jy moet daaraan werk,” sê pres. Ramadonsa en stap die kas binne.

Yster volg hom en maak die kasdeur agter hom toe.

Ook net betyds, want hy hoor hoe sy voordeur met mening versplinter word.“EISH, jy moenie so stres nie,” paai oudpres. Duma. “Jy sal ’n stroke kry.”

“Met alle respek, My Leader, ek mag maar stres,” antwoord Magashue geïrriteerd. “Ons is in groot ka–”

“Relax,” val Duma hom in die rede en gee daai laggie wat menige kieser in die verlede geflous het.

“Alles is onder beheer. My manne is op die toneel.

“Ek het nou net met hulle gepraat en hulle bestorm daai Yster-jong se flat as we speak.

“Watter ma gee haar kind die naam Yster?”

Magashue word nie so maklik oortuig nie. “Wat het u nou weer aangevang?’ vra hy angstig. “ ’n Taakmag helder oordag gestuur?”

“Om mos ons liewe president te red,” sê Duma rustig.

“Ongelukkig het dinge nie so goed afgeloop nie en daai Yster het skietmal geraak en ons beloved Ramadonsa vol lood gepomp.

“Sien, ek het jou gesê ek het alles onder beheer.

“Kom, vertel my nou hoe ons die party se NEC gaan draai om my weer te verkies.”TERWYL die taakmag sy woonstel bestorm, haas Yster en pres. Ramadonsa hulle af by die brandtrap wat langs die tweede woonstel geleë is. Yster wens hy het ’n vuurwapen gehad, want hierdie is ’n groot kans wat hulle waag.

Dalk weet Bertus-hulle van die versteekte ingang na ’n tweede woonstel.

Hierdie is egter ’n kans wat hulle moet waag.

Ná ’n paar minute bereik hulle die grondvloer.

Yster wink na die president om hom te volg.

Voor kan hulle nie uitstap nie, maar hy weet daar is ’n uitgang wat na buite loop en hopelik is daar nie baie oë nie.

Hy slaak ’n sug van verligting toe hulle buite kom en geen cops in sig is nie.

“Nou moet ons hiervandaan hol soos nog nooit tevore nie,” sê hy oor sy skouer aan die president en begin hardloop. Dié volg hom.

Ná sowat vyf minute brand Yster se bors so erg dat hy eenkant teen ’n gebou se muur gaan leuen.

Hy haal hard asem. Die president kom staan langs hom.

“Vroeër het ek soggens saam met gemeenskappe gaan stap. Baie mense het gesê dis net ’n election-foefie, maar sien jy nou hoe baie dit my gehelp het? Jy moes kom saamstap het, Yster.”

Yster kom swaar orent en smile.

“So, u kan grappies maak?” vra hy.

Pres. Ramadonsa grinnik. “Jy ken nog min jokes,” antwoord hy.

“Kyk nou net die een joke wat ek nou gaan pull. Ons gaan beslis laaste lag en nie daai dom Duma nie.”

Yster frons. “Hoe bedoel u?”

“Jy sal binnekort uitvind, Yster,” antwoord die prez vaag.

“Maar kom, laat ons wegkom.

“Duma kots seker nou in sy mond as hy hoor ons het sy plan gefnuik.”OUDPRES. Duma skuif sy selfoon eenkant toe. “Hoekom surround ek myself altyd met idiote?” skree hy.

“Wat gaan aan?” vra Magashue bekommerd.

“Daai Ramadonsa het weggekom.” Duma se spoeg spat in alle rigtings.

“Maar hoe so?” vra Magashue.

Die haat blits in Duma se oë.

“Die flat was leeg. Die taakspan het dit deursoek. En toe kry hulle ’n versteekte deur wat loop na ’n ander flat, maar teen daai tyd was Ramadonsa al weg.

“En om alles nog erger te maak, het ’n hele vrag reporters by die woonstelblok opgedaag.”

Magashue verbleek. “My Leader, hierdie is nie goeie nuus nie.”

“Jy dink so?” sê Duma sarkasties. “Onthou een ding, Eish: As ek val, val julle almal saam met my.”

“Hierdie was nie my plan nie,” prewel Magashue.

Duma se oë blits. “Ek was ook nie al een wat lekker geëet het nie,” sis hy. “Ons moet Ramadonsa opspoor en neutraliseer. Maak ’n plan of ... ”

“Of wat?” vra Magashue uitdagend. “Of wat?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters