3 maande gelede
Yster en geheime diens besluit om Bertus uit te rook
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Oe, nou raak dinge darem lekker warm. En dit sommer so knap voordat almal hulle vergryp aan pickled fish en hot cross buns. Pres. Sydney Ramadonsa neem Yster na die kantore van ’n elite-eenheid van die geheime diens. Dit is onder leiding van Rodney Syfers, ’n lojale struggle-veteraan wat enige iets vir sy land sal doen. Ramadonsa is vasbeslote dat oudpres. Duma, die mastermind agter die mislukte aanslag op sy lewe, en sy cronies boet vir hulle verraad. En Ramadonsa wil hê Yster moet aan die stuur van die counter-offensive staan. Yster is ook nie lui nie en is vasbeslote om al die info wat hulle nodig het, uit ’n voormalige kollega te wurg. Bertus het hom lelik in die steek gelaat. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se Yster.

DIS net ná middernag toe ’n taxi stadig ry in Feige-straat in Kuilsrivier.

Vir baie mense wat daai tyd van die nag wakker is, sou dit lyk na ’n doodgewone taxi wat laatnag operate.

Maar hierdie taxi is net vir die eye blind, want binne-in sit Yster, Rodney Syfers en sowat 10 swaar gewapende lede van ’n geheime spioenasiediens.

Rodney draai na Yster. “Is jy seker van die adres?

“Ons kan nie bekostig om foute te maak nie.”

Yster knik. “Positief. Ek weet Bertus is daar.

“Hy weet nie ek weet hy het jare gelede ons eenheid se slash fund abuse nie.

“En toe het hy vir hom dié huis gekoop en niemand weet daarvan nie.”

“Hoekom het jy hom nie gereport nie?” vra Rodney beskuldigend. “Sou dit nie die regte ding gewees het om te doen nie?”

“Lyk ek vir jou soos die SABC?” kap Yster terug.

“Bertus was ’n goeie mens. Ek het net gedink hy was dalk in die nood.

“Ons almal gaan deur dips. Toe bly ek maar stil.”

Rodney skud sy kop. “En kyk in watter posisie het sy dip ons nou geplaas.”

“Wil jy my sê dis my skuld dat Bertus so uitgedraai het?” vra Yster aanvallend.

“Jy kan mos nie die sondes van die lewe voor my deur lê nie.”

Rodney skud sy kop. “Ons kan seker heelnag hieroor redekawel,” sê hy.

“Kom ons fokus eers op vanaand. Maar ek wil hê jy moet weet nadat alles oor is, gáán daar ’n ondersoek wees, pappa.”

Yster grinnik. “Bring it on,” sê hy rustig.

“Niks in die lewe maak my meer bang nie.”

“Hoe dan so?” vra Rodney en frons.

“Dink jy jy is nou untouchable omdat jy die prez se lewe gered het?”

“Glad nie,” antwoord Yster.

“Ek kon net nooit verstaan hoekom ons eenheid wat dwelmsmokkelary moes beveg, gesluit moes word nie.

“En toe ons as die SA Narkotikaburo nie meer daar was nie, toe ruk dwelms handuit.

“Ek kan nie anders as om ’n rot te ruik nie.”

Rodney sug en blaas sy asem hard uit.

“Jy is lank in die tand, maar weet steeds nie wat klap vir wat nie.”

“Wie het vir wie geklap?” vra Yster sarkasties.

“Armoede is die geelwortel wat politics aan die lewe hou,” antwoord Rodney.

“Mense sal oor en oor vir iemand stem wat aan hulle die mooiste beloftes maak.

“Jy is al 30 jaar op die waglys vir ’n huis, maar besef nie as jy ’n lening vir ’n huis by die bank gekry het, was jy lankal klaar afbetaal aan jou eie huis nie.

“Hierdie is maar die lewe in ons land.

“Ons hou daarvan om ons eie drome te sit in die hande van mense wat lang vingers aan hulle hande het.”

Yster lag. “En daar stem ek saam met jou.

“Ons is hier. Bertus bly net om hierdie draai.”

Rodney beveel die bestuurder om te stop.

“Hoe nou gemaak?” vra hy aan Yster.

“Ons pak die verraaier-bul behoorlik by die horings,” antwoord Yster.

“Julle omsingel die huis. Ek approach Bertus van voor af.”

“En as hy op jou skiet?” vra Rodney skepties.

Yster trek sy skouers op.

“Dan skiet hy, of hoe? Ons kan nie wonder oor iets wat maybe kan gebeur nie.”

Yster skuif verby Rodney en klim uit die taxi.

Op ’n drafstap loop hy om die draai.

’n Hond raak histeries aan die blaf toe hy hom gewaar.

Yster sien ’n lig brand in die huis waar hy vermoed Bertus wegkruip.

Genadiglik het die huis ’n lae heining en hy spring haastig oor.

Sekondes later is hy by die voordeur en lui die klokkie.

Dis ’n verbaasde Bertus wat die deur oopmaak.

Yster gee hom nie veel tyd om oor sy verbasing te kom nie.

Blitsig slaan hy sy eens goeie vriend vol op die neus. Bloed spat in alle rigtings.

Yster maak haastig die deur agter hom toe.

Voordat Bertus tot verhaal kan kom, slaan Yster hom nog twee genadelose houe op sy neus.

“Hou op, hou op!” kerm Bertus. “Hoe het jy geweet ek is hier?”

Yster storm dreigend vorentoe en gryp Bertus voor die bors.

Met al sy krag slinger hy hom teen die muur.

Bertus gil soos ’n girl en beur moeisaam orent.

Yster beweeg blitsig na vore en skop hom hard op die krop van sy maag.

Bertus krimp ineen.

“Ek hoef jou nie te antwoord oor hoe ek geweet het jy is hier nie,” sê Yster.

“Ek het jou gelikes oor ek gedink het jy probeer net ’n goeie lewe vir jou familie create.

“Maar toe skuil jy mos agter jou sogenaamde bekeerskap, net om jou met vieslike dinge besig te hou en mý daarvoor te frame.”

Bertus koes toe Yster nog ’n hou in sy rigting mik.

“Al moet ek jou vrek slaan, jy gaan my als vertel. Ek weet Duma is te onnosel om hierdie plan uit te dink.

“So, óf jy sê my wie die eintlike brein agter alles is, óf ek slaan jou so vrek dat selfs Vrek vrek skaam vir jou corpse gaan raak,” dreig Yster.

“Oukei, oukei!” kerm ’n erg bebloede Bertus.

“Ek sal jou alles vertel. En hoewel die identiteit van die mastermind jou dalk sal surprise en jy dit moeilik sal vind om te glo, kan ek jou verseker dit is die volle waarheid.

“Die ou wat die prez wou dood hê, is …”

  • Slot môre
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters