2 maande gelede
Yolandi kry ’n verrassing by die hospitaal
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Sers. Michaels waarsku Yolandi dat ’n spul Kapenaars oor haar uitgevra het. Yolandi van Kanarievlei is CHRISTO MEYER se jongste pennevrug. Geniet die slothoofstuk!

YOLANDI sien hoe die speurder se gesig ophelder.

“Dis wonderlike nuus.”

Hy kyk om hom, gryp ’n stoel en trek dit nader. Hy plak sy swaar lyf daarop neer.

“Sodra jy gereed is. Ek is die ene ore.”

Yolandi haal diep asem. Sy maak haarself gemaklik op die bed.

“Dis my ma se boyfriend wat my so aangerand het. Sy naam is Ricardo Diergaardt. Ricky.”

Yolandi hou die speurder dop terwyl hy aantekeninge maak.

“Hy bly in Mitchells Plain. In Rocklands.”

“Stadig, juffrou Arendse. Ek kan nie so vinnig skryf nie.”

“Ek het van die begin af gesien daai jong is bad news,” sê Yolandi.

“Hoe so?”

“Op elke hoek en draai het hy met my ma gestry. Hy was met niks tevrede nie.”

“Het dit net by stry gebly?”

“Hy het haar rondgepluk ook en deur haar gesig geklap. Hy wou hê my ma moes haar werk by die fisheries los en hom help om ...”

Sers. Michaels haal sy oë van die notaboekie af. Hy kyk vraend na Yolandi.

“Help om wat te maak, juffrou?”

“Ricky is ’n drug lord. Hy wou hê my ma moes hom help om drugs hier in Kanarievlei te verkoop. Maar sy het nie kans gesien nie.”

Sers. Michaels vryf oor sy ken.

“Het jy enige idee waar jou ma kan wees?”

Yolandi vererg haar.

“Hoe moet ek weet? Dis mos jul werk om haar op te spoor. Is dit dan nie waarvoor julle betaal word nie?”

“Bedaar, juffrou. Dis nie nodig om so opgewonde te raak nie.”

“En hou asseblief op om my juffrou te noem ... My naam is Yolandi.”

“Natuurlik. Nes jy dit verkies. Is daar nog iets wat jy wil byvoeg?”

“Nee, dis al vir nou. Ek hoop julle vang daai donnerse Ricky en bring my ma huis toe.”

“Ons sal ons bes probeer, juf ... uhm Yolandi. Sodra jy beter voel, sal ek reël dat jy ’n volledige verklaring by die polisiestasie kom aflê. Dankie vir hierdie inligting. As jy my sal verskoon.”

Yolandi kyk hom agterna. Sers. Michaels kan gerus op ’n diet gaan. Hoe sal hy met sy swaar lyf ooit ’n inbreker kan inhol?

Dae later kyk Yolandi met bewondering na die verpleegster wat met ’n lêer in haar hand langs haar bed staan.

Die vrou se glimlag wys nie net in haar oë nie, maar op haar hele gesig. Soos gewoonlik is haar pragtige naels goed versorg en al word sy een van die dae 50, is daar nie ’n enkele grys haar op haar kop nie.

“My man is amper twee jaar dood. Daarom dra ek nie meer my trouringe nie,” onthou sy suster Nel se woorde van nou die aand.

“ ’n Mens kan nie vir altyd rou nie. Die lewe gaan aan.”

“Sal suster weer trou?” het Yolandi tergend gevra.

Suster Nel het haar gemaak ernstig aangekyk.

“Nie in hierdie leeftyd nie. Ek laat daai aan julle jongelinge oor.”

Yolandi hou van suster Nel. Sy is nie so ongeduldig en vol buie soos sommige ander verpleegsters nie.

Sy sal altyd kom hoor hoe dit gaan en ’n geselsie aanknoop. Daar straal ’n warmte uit haar wat aansteeklik is.

“Jy kan seker nie wag om t’rug te gaan skool toe nie, nè?”

“Nogal. Ek het ’n klomp werk om in te haal en die gelê maak my net lui. En ek verlang na my klasmaats.”

Suster Nel steek haar hand uit en vryf liggies oor Yolandi se skouer.

“Toe maar, dis nie meer lank nie. Een van die dae is jy ontslae van ons.”

“Suster het my lekker gepamperlang. Ek gaan dit mis.”

’n Oomblik se stilte heers.

“Al iets van jou ma gehoor?”

“Nog niks. Daai verdomde Ricky hou haar seker iewers gevange.”

“Vir jou onthalwe hoop ek jou ma kom ongedeerd daarvan af.”

“Ek ook, suster.”

’n Geraas in die gang trek Yolandi se aandag. Sy kyk vraend na suster Nel, wat haar skouers ophaal.

“Laat ek loop kyk wie dit is wat die hospitaal so op horings neem.”

Die deur swaai oop en Yolandi sien hoe sers, Michaels byna vir suster Nel onderstebo loop.

“Oeps,” sê hy. “Is suster orait?”

Suster Nel mompel iets. Dan draai sy haar na Yolandi.

“Ek sal later weer kom inloer. Ek sien jy het geselskap.”

Kort op sers. Michaels se hakke is nie minder nie as drie polisie­beamptes.

“Jou lewe is in gevaar,” rammel sers. Michaels die woorde af. “Ons sal jou na ’n plek van veiligheid moet neem.”

Yolandi se mond gaan oop, maar geen klank kom uit nie.

“Hier is ’n spul Kapenaars op die dorp wat navraag gedoen het oor jou. Ek vermoed hulle wil jou leed aandoen. Jy moet so gou moontlik ...”

Sy selfoon lui.

“Verskoon my.”

Hy haal dit uit sy broeksak, antwoord.

Yolandi hou hom dop. Sy sien hoe hy sy oë rol terwyl hy luister. Hy druk die foon dood, steek dit weer in sy sak.

“Wat nou?” wil Yolandi weet. Haar hart klop wild.

“Jy sal nie kan raai wat gebeur het nie. Armand van Jaarsveldt wil ’n pleitooreenkoms aangaan met die staat.

“Hy het erken dat hy jou en nog ander meisies betas het en sien blykbaar nie kans vir ’n uitgerekte hofsaak nie. Dis die beste nuus wat ek in ’n lang tyd gehoor het.

“Maar ons moet wikkel. Daar was ’n inbraak by Zuma’s Cash and Carry. Koopman, pas jy die meisie op. Moolman en Rhode, kom julle twee saam.

“Vandag leer ons daai blerrie Kapenaars ’n les.”

Yolandi wil nog iets agterna skree, toe is sers. Michaels en sy twee kollegas skoonveld.

Toe haar ma twee dae later voor haar bed kom staan, kan Yolandi dit amper nie glo nie.

“Waar kom Ma nou vandaan? Ek het my dood bekommer.”

Haar ma glimlag.

“Ricky het my in ’n verlate gebou gevange gehou. Hy wou hê ek moes doodgaan van honger en dors.

“Maar my begeerte om jou weer te sien, het my die krag gegee om te ontsnap.

“Gelukkig is hy en sy trawante nou veilig agter tralies. Hulle sal ons nie weer lastig val nie.”

Ma en dogter druk mekaar styf vas.

“Ma?” vra Yolandi ná ’n ruk.

“Belowe my Ma sal nooit weer ’n vreemde man op Facebook vertrou nie.”

Haar ma vryf liggies oor haar hand.

“Ek belowe, my engel. Ek het ’n baie duur les geleer.”

  • Die einde

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters