2 maande gelede
Yolandi is verlig dat die ‘indringer’ eintlik haar ma is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Yolandi raak wakker in die hospitaal. Sy onthou nie hoekom sy daar is nie. Yolandi van Kanarievlei is CHRISTO MEYER se jongste pennevrug. Geniet die vierde hoofstuk!

YOLANDI se keel trek toe. Die pas van haar hartklop versnel. Sy is die ene bewerasie.

Wat is die persoon wat hier voor haar bed staan van plan om met haar te doen? Gaan hy die kussing oor haar gesig dwing en haar versmoor?

Of gaan hy haar dalk met sy kaal hande verwurg? Hy mag haar nie leed aandoen nie. Sy is net ’n kind. Moet sy hier in die vroeë oggendure so wreed aan haar einde kom? Kan die indringer nie maar genadig wees nie?

Sy wil nie nou al doodgaan nie. Voorvalle soos hierdie vind mos gewoonlik in groot stede plaas. Sy lees gereeld daarvan in die koerant.

“Yolandi, Yolandi,” hoor sy ’n fluisterstem.

“Yolandi, staan op.”

Yolandi skrik. Is sy besig om te droom?

“Ma?”

“Sjuut, jy moet opstaan.”

Yolandi sug van verligting. Dankie­, Vader. Sy het haar misgis. Dit was haar ma en nie ’n indringer nie wat ongenooid by haar kamer ingestorm het.

“Wat gaan aan, Ma? Ek het voetstappe gehoor.”

“Hier is mense op die jaart.”

“Wie? Wat soek hulle?”

“Ek dink dis Ricky en van sy buddies. Kom, staan nou op.”

“Ek is bang, Ma.”

“Toemaar, alles gaan fine wees. Ek het klaar die polisie gebel.”

Versigtig kruip Yolandi onder die komberse uit.

Sy gryp haar ma se hand styf vas. Die gevroetel by die venster raak harder.

“Kom, ons moet in my kamer gaan wegkruip tot die polisie opdaag. Ek weet nie watter bose gedagtes deur Ricky se kop gaan nie.”

Yolandi en haar ma is skaars by die kamer uit toe ’n baksteen deur die venster bars...

Yolandi se oë gaan oop. Hoe lank sy geslaap het, weet sy nie. Onseker kyk sy in die groot vertrek rond. Waar is sy?

Niks hier binne lyk eens vaagweg bekend nie. Aan die reuk van medisyne en ontsmettingsmiddels lei sy af dat dit ’n hospitaal is.

Die vrou in die wit uniform daar oorkant is seker ’n verpleegster.

Wat het gebeur? Hoe het sy hier beland? Hoekom onthou sy niks? Die verpleegster beweeg tot langs haar bed.

“Aah, ek sien jy is wakker. Jy was lank in droomland. Hoe voel jy?”

“My lyf is seer en my kop pyn verskriklik.”

Sy herken nie eens haar eie stem nie. Wat gaan aan?

Die verpleegster kyk haar simpatiek aan.

“Ek is suster Nel. Jy hoef nie so bekommerd te lyk nie. Jy is in bekwame hande.”

“Aangename kennis,” sê Yolandi saggies. Dan begin sy huil.

“En nou?” vra suster Nel verbaas. “Moet ek die dokter gaan roep? Is die die pyn baie erg?” Yolandi skud haar kop. “Hoekom is ek hier? Wat het gebeur?”

Suster Nel trek haar asem skerp in. Sy kyk Yolandi geskok aan. “Bedoel jy wat ek dink jy bedoel?”

“Ja, suster. Ek kan niks onthou nie.”

“Ek sal dringend vir dokter moet laat weet.” Sy drafstap by die deur uit.

Die dokter maak sy verskyning. Hy neem toetse, probeer vir Yolandi moed inpraat en maak selfs ’n grappie.

“Jou geheue kan jou nie nou in die steek laat nie. Jy is ’n sleutelgetuie in ’n belangrike hofsaak.

“As jy nie getuig nie, kan ’n vermeende molesteerder vry uit die hof stap.”

Yolandi skrik. Is die man ernstig?

Dit lyk so, want hy toon geen teken van lag nie.

Maar van watter hofsaak praat hy? Dit lui nie eens ’n klokkie nie. Die dokter gee haar ’n inspuiting.

“Ek sal môre weer kom kyk hoe dit gaan.

Jy moet lekker rus.”

Yolandi is skaars aan die slaap, toe droom sy. Sy bevind haar iewers in ’n donker bos.

Sy hoor mense lag, maar gewaar niemand. Die stemme word harder.

Later is dit so hard dat sy haar ore moet toedruk.

Sweet slaan op haar voorkop uit. Sy besef sy moet vlug, wegkom van die stemme.

Anders gaan dit haar teen die mure uitdryf. Sy hardloop ’n koers in.

Tog voel dit asof sy nie beweeg nie, asof sy op een plek bly staan.

Die stemme is oral om haar. Sy smeek hulle om stil te bly. Dan hoor sy ’n siek lag. ’n Man in swart beweeg nader aan haar.

Hy gryp haar aan die keel en begin haar wurg. Sy skrik wakker, val van die bed af en voel hoe haar kop die vloer tref.

Sy uiter ’n gil en word deur duisternis oorval.

’n Dag later. Yolandi draai op haar linkersy.

Sy besef sy moet versigtig wees as sy nie weer van die lamlendige bedjie af wil tuimel nie.

Dis eintlik ironies. Met die val het haar kop hard met die vloer kennis gemaak.

Sy was veronderstel om uit te wees soos ’n kers, maar eintlik het die val haar alles laat onthou wat uit haar geheue geblok was.

Sy knyp haar oë toe en byt op haar onderlip om nie te gil van die pyn nie.

Wanneer sy weer die dokter sien, moet sy onthou om vir ’n sterker pynstiller te vra.

Die flou goed wat die verpleegsters haar injaag, beteken niks.

Selfs gisteraand se inspuiting het nie veel verligting gebring nie.

Die verbande om haar kop laat haar ongemaklik voel.

Sy wens sy kan dit afruk en huis toe hardloop, maar sy besef ook dit sal uiters onverantwoordelik wees.

Sy is nog nie sterk genoeg om ontslaan te word nie.

Op die kassie voor haar bed sien sy ’n vars bos blomme. Sy is nie gretig om te weet van wie dit is nie. Seker iemand wat haar sterkte toewens.

Sy sal later kyk of daar ’n kaartjie is. Op die oomblik het sy belangriker goed op haar brein.

Sowat vyf minute later word haar gedagtes onderbreek.

Die deur swaai oop en iemand se harde voetstappe kom voor haar bed tot stilstand.

Sy kyk op en sien hoe sersant Michaels haar aangluur.

Hy het ’n swart notaboekie en ’n pen in sy hand.

“Môre,” groet hy nors.

“Die dokter het laat weet jy wil my sien. Wat is so dringend?”

“Môre, sersant. Ek het info wat julle kan help in die ondersoek.”

’n Frons verskyn op sy voorkop.

“Jy bedoel ...”

“Ja, sersant. Ek onthou wat gebeur het.”

“Maar hoe?”

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters