Verlede maand
Yolandi is kwaad toe sy sien haar ma kuier so lekker
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Yolandi kry vuil kyke by die skool nadat sy die bom gelos het oor meneer Van Jaarsveldt. Yolandi van Kanarievlei is CHRISTO MEYER se jongste pennevrug. Geniet die tweede hoofstuk!

DINSDAG, tweede pouse. Kanarievlei­ Sekondêr. Nadat dit die vorige nag heerlik gereën het, breek die wintersonnetjie plek-plek deur. Die grond ruik skoon en vars.

Die leerders staan in groepies op die skoolterrein. Almal lyk verslae. Daar heers ’n ongewone stilte. Ander dae se gelag en opgewondenheid ontbreek. Dis seker te verstane, want behalwe dat meneer Van Jaarsveldt steeds in aanhouding is, word Adam Witbooi, die hoogspringkampioen, vermis. Saterdag was die laaste dat sy ouers hom gesien het.

Hulle was tot laataand by ’n troue en by hul terugkeer was die voordeur oop. Daar was geen teken van Adam nie.

Hulle het die polisie dadelik in kennis gestel. Adam is hul enigste kind. Hy is baie stil en teruggetrokke. Dis net in die atletiekseisoen dat hy effens uit sy dop kruip. Hy praat nie sommer nie – net wanneer dit regtig nodig is. En nou is die hele skool bekommerd oor hom.

Yolandi wou dit nooit erken nie, maar sy weet nou sy is verlief op Adam. Sy hoop nie hy kom iets oor nie.

Yolandi en haar vriendinne staan eenkant en gesels.

Sy maak asof sy nie sien nie, maar sy is bewus van die snaakse kyke wat sy kry. Al pla dit haar, probeer sy hard om haar nie daaraan te steur nie.

Daar is wraggies nog kinders wat meneer Van Jaarsveldt se kant kies. Hulle glo vas sy suig alles uit haar duim. Hoe kan hulle so blind wees? Meneer van Jaarsveldt is glad nie die engeltjie wat hy voorgee om te wees nie.

Hy is ’n sekspes. Sy wonder met hoeveel ander meisies hy al sy luck getry het.

As sy hulle net sover kan kry om daaroor te praat, sal meneer Van Jaarsveldt nooit weer met sy vuil pote aan ’n skoolkind raak nie. Hoe lank gaan dit al aan?

Sy sidder as sy dink wat kon gebeur het as sy haar nie teëgesit het. Meneer Van Jaarsveldt was soos ’n honger dier.

Sy hande was op haar borste en onder haar romp.

’n Oomblik het sy bewegingloos daar bly staan. Toe hy ’n onwelvoeglike voorstel maak, het sy besef sy moet so gou moontlik wegkom. Daar was skielik nuwe lewe in haar.

“Adam is nie ’n moeilikheid­maker nie,” sak Mercia Lombard af.

“Hy is een van die rustige ouens. Ek wonder wat van hom geword het. Dink julle iemand het hom dalk ontvoer?”

“Ek kan dit ook nie verstaan nie,” sê Yolandi.

“Die laaste tyd gebeur daar snaakse goed op ons dorp. Ek hoop die polisie se ondersoek lewer iets op en Adam word gevind.”

Hulle staan nog so lekker en gesels, toe stamp iemand aan Yolandi. Byna-byna verloor sy haar balans. Sy draai om. Nes sy gedink het: Gert Beukes, die skool se grootste boelie. By hom maak dit nie saak watter geslag jy is nie.

Hy sal jou onderstebo loop en niks daarvan dink nie. Dis maar hoe hy is; gemaak en laat staan.

Hy gee nie ’n flenter om nie. In almal se oë is hy ’n probleemkind, maar vreemd genoeg doen niemand moeite om ’n oplossing te vind nie.

Gert ploeter net voort, sonder enige bekommernis.

Gert hou hom ongemerk, maar “skuldig” staan groot op sy voorkop geskryf.

Hy gedra hom sommer ewe skielik soos iemand wat hoegenaamd niks verkeerds gedoen het nie.

Dan lag hy uit sy maag en loop net verder, gevolg deur drie van sy klasmaats.

“Gert, het jou ma jou nie maniere geleer nie?” roep Yolandi agterna. Gert steek vas. Hy kom tot voor Yolandi en druk sy wysvinger teen haar neus.

“Hoor hier, maergat, jy los my ma uit. Jy het niks met haar uit te waai nie.”

“Jy point nie in my gesig nie, Gert. Ek is nie een van jou los meisies nie. Jy kan die ander kinders boelie, maar ek sal dit nie toelaat nie.”

“Lekker sterkgevreet nadat jy meneer Van Jaarsveldt se loopbaan opgef*k het, nè?”

“Gaan bars, man. Dink jy ek moet my mond hou vir jou? Wat maak jou so wonderful?”

Sy sien hoe Gert hom vererg. Sonder ’n verdere woord draai hy sy rug op haar. Dit was miskien ’n bietjie onsensitief van haar, dink Yolandi. Gert se ma is onlangs oor­lede. Maar die woorde was uit voordat sy dit kon keer.

Toe Yolandi daardie middag van die skool af kom, sien sy ’n silwer BMW in die oprit voor hul huis.

In haar kop begin die waarskuwingsligte onmiddellik flikker.

Sy het die motor nog nooit hier op hul dorpie gewaar nie.

Sy sou onthou het, want haar geheue is goed.

Sy wil nie onnodig spoke opjaag nie, maar nadat Adam Witbooi net spoorloos verdwyn het, het die skoolhoof hulle gemaan om hul oë oop te hou.

“Julle kan nie te gerus wees nie,” onthou sy meneer Van Rensburg se woorde.

“ ’n Mens weet deesdae nie meer wie jy kan vertrou nie.

“As julle op enigiets verdags afkom, rapporteer dit so gou moontlik.”

Uit nuuskierigheid drafstap die langbeen-matrikulant met die sproetgesig by die tuinhekkie in. Sy brand om te weet wie die besoeker is.

Sy pluk die voordeur oop en steek geskok vas toe sy haar ma en ’n vreemde man in ’n bruin leerbaadjie styf langs mekaar in die sitkamer aantref.

Die twee lag en gesels so lekker dat hulle nie eens bewus is van haar teenwoordigheid nie.

Op die koffietafel staan twee leë glase en ’n halwe bottel Four Cousins­.

“Wat gaan hier aan?” vra Yolandi vies. Haar ma en die vreemdeling kyk gelyk in haar rigting.

“Hallo, my kind. Wat bekruip jy my so?”

“Wat gaan hier aan, Ma? Wie is dié man?”

“Dit is Ricky, my nuwe vriend.”

“Ma se wat? Ek glo nie wat ek hoor nie. Pa is dan nog nie eens drie maande onder die grond nie.”

“Die lewe moet aangaan, my kind. Jy sal nie verstaan nie.”

“Ma is reg, ek sal nie verstaan nie. Is dit nie te gou nie?”

Ricky sit sy glas neer en lig hom uit sy sitplek.

“Miskien is dit beter dat ek ry,” sê hy. “Ek kan sien jy en jou dogter het baie om oor te praat. Ek wil nie soos ’n indringer voel nie.”

Hy soen Yolandi se ma op die wang en maak hom uit die voete.

Toe Ricky wegtrek, skink Yolandi se ma weer haar glas vol.

Sy neem ’n groot sluk soos iemand wat geen bekommernis in die wêreld het nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters