2 maande gelede
Whitey laat nie ’n interdik hom van stryk bring
 ~ 

Haai, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat”, uit die pen van ERNEST LOTH. Geniet nou die vierde hoofstuk!

JAMES is terug by die huis ná drie maande in die hospitaal.

Hy het in die begin gesukkel om met die outomatiese rolstoel reg te kom, maar is nou heeltemal in beheer van die apparaat wat nou deel is van die res van sy lewe.

Die veranderings wat Valencia tuis aangebring het om James se ruimte gebruikersvriendeliker te maak, is netjies gedoen deur afgetrede skrynwerkers en bouers in hul buurt.

Die drie is tans ook besig met die laaste afrondings aan die badkamer en toilet vir vashouplek vir James se gemak.

’n Interdik is teen Whitey uitgehaal, maar hy terroriseer James deur middel van sy selfoon met dreigende boodskappe. Soos die nuutste een: “Jy kan dankie sê daai laitie van my suster het survive. Jy sal moet opdok.

“Jy gaan elke maand R5 000 in my ma se account betaal vir sy kos en klere en vir pyn en lyding omdat jy my ma beroof het van haar dogter. En moenie vir my kom sê jy’tie geldtie. Ek weet manne soes djy het polisse wat uitbetaal as iets met julle gebeur!”

“Hy’s mal!” sê James aan Valencia. “Ek sal my foonnommer moet change!”

“Dis alles jou eie skuld James. Niemand anders s’n nie.”

“Asseblief, moenie weer begin nie, Valencia. Dis verby, oor en uit!”

“Dis glad nie oor en uit nie James! Sy spook steeds tussen ons – selfs vanuit die graf!

“Ons was nie eens by haar begrafnis nie.”

“Hoe kon ek as ek in die hospitaal was?”

Valencia voeg by: “En ek wou nie gaan nie omdat ek nie lus was vir die skinderbekke nie. Teen dié tyd gons almal oor die storie, want die Sondagson het mos die hele storie gedek.

“Waar hulle al die inligting gekry het, weet nugter alleen.”

“Die joernaliste van Son was daar by my in die hospitaal. Ek het maar my kant van die storie vertel,” sê James.

“Dis nogal snaaks dat haar ma nie baie gesê het in die koerant nie, net dat sy haar dogter baie gaan mis. Maar dis daai Whitey wat sy bek so uitgespoel het.”

“Maar ek dink nie ons moet ons nog lat terughou deur daai stories nie. Mense vergeet gou,” sê James.

Valencia sê: “Nie in die community waar ons bly nie. Hulle kyk my klaar skeef aan in die dorp, maar ek laat nie my kop sak nie.

“Jy’s reg, die lewe gaan aan. En nie een van hulle wat so klippe gooi, is sonder problems nie.”

“Ek wil ook nie meer hê jy moet dit elke keer voor my kop gooi nie. Dit maak seer. Jy’t gesê jy’t my vergewe,” laat James hoor.

Valencia kom sit voor James op die rusbank en sê: “Ek hét, James. Maar soms stoot die woede nog in my op. Dan word ek van voor af woedend vir jou.”

“Ek wil die kind sien ...” sê James.

“Jy kon mos vir een van die verpleegsters gevra het om die baba vir jou te kom wys toe jy in die hospitaal was. Hy is seker teen dié tyd by sy ouma, Lidia se ma.”

“Ek het nie eens daaraan gedink nie.”

Hy dink mooi voordat hy verder praat. “Valens, kan ek jou iets vra?

“Jy mag, as dit ’n billike vraag is waarop ek ’n billike antwoord kan gee.”

“Moet ons nie die baba aanneem nie? Ek meen, dis onnodige druk op Lidia se ma.”

“En op ons? Wie gaan na die kind kyk? Ek moes dan nou my werk los om na jou om te sien.

“Ons kan nie nog met ’n baba in die huis sukkel’ie, James. En volgende jaar gaan Jamie-Lee verder studeer. Ek dink nie dit gaan werk nie.”

Hy het nie vooruit gedink nie. Maar sy is reg.

Dié ding dat Whitey verwag hy moet soveel geld per maand vir die kind opdok, is vergesog. Hy sal sy prokureur moet raadpleeg.

Hy weet dat Lidia ook ’n broodwinner vir hul huisgesin was en dat haar ma haar inkomste gaan mis.

Sy foon beep. Dis weer Whitey.

Wat sê jy? Gaan jy die geld in my ma se account betaal, of wat?

James wou nie antwoord nie, maar hy tik tog ’n boodskap.

Ek sal met jou ma onderhandel. Ek besef dat ek ’n verantwoordelikheid het teenoor die kind, maar die bedrag is bo my vuurmaakplek.

“Ek sal R2 000 per maand kan betaal. My mediese onkoste het ’n groot gaping in my finansies gemaak en ek het nie meer ’n maandelikse inkomste nie.

“Ek moet steeds sorg vir my gesin. By the way, ek is jammer oor wat gebeur het en het innige simpatie met jou en jou ma se verlies.”

“En met wie is jy so ernstig oppie foon?

“Moenie my sê dis weer daai jong nie?” vra Valencia ernstig.

James knik instemmend.

“Ons sal ’n ander plan moet maak. Hy is besig om ons te abuse.

“Daar is dan ’n interdik teen hom, maar hy wil nie kopgee nie. Moet ek sy ma bel?”

“Ek wil nie die vrou belas met haar seun se nonsens nie.

“Ek het hom nou ’n boodskap gestuur. Hy werk op my gat.”

Jamie-Lee kom die vertrek binne.

“En hoekom lyk julle so ernstig?”

“Dis al weer dié Whitey wat vir jou pa boodskappe stuur,” sê Valencia vies.

“Maar Daddy moenie dit so los nie. Hy wil ons skrik op die lyf jaag.

“Ek het ook ’n paar vrinne wat hom op sy plek kan sit,” sê Jamie-Lee woedend.

“Jamie-Lee, hou jou hier uit. Ons wil jou nie involve nie,” sê James.

“Maar julle is my ouers. As iemand aan julle raak, raak hulle aan mý.

“Hoekom stel Mammie-hulle nie weer die polisie in kennis nie? Lyk my die interdik teen hom werk nie.”

James sug. “Rapporteer mens nou weer, dan maak die polisie ook niks.”

“Dis oor die polisie so pap is dat sommige mense sommer die reg in eie hande neem.

“Ek en Mammie moet sommer nou dadelik die storie gaan rapporteer.

“Whitey is besig om Daddy geestelik te knak.”

“Wat sê jy, James? Moet ons weer polisie toe gaan?”

“As julle so voel...” sê James moeg en staar by die venster uit.

“Kom, Mammie, ons gaan. Hy gaan nie vir Daddy control nie.”

James staar hulle agterna.

Valencia bestuur in stilte totdat Jamie-Lee die stilte verbreek.

“Het Mammie al lankal geweet van die affair wat Daddy en Lidia gehad het?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters